Lukas 12:42-48

Lukas 12:42-48 DB

Jesus het Petrus met nog ’n verhaal geantwoord: “Dink ’n bietjie: Watter soort werker sal die eienaar van ’n fabriek die graagste aanstel om elke maand die ander werkers se lone uit te betaal? Definitief die persoon wat betroubaar is en wat altyd hard werk, of die eienaar nou daar is of nie. So ’n werker sal goed beloon word as die eienaar op ’n dag kom inspeksie doen. Uiteindelik sal hy die bestuurder oor die hele fabriek word. Maar as daardie werker vir homself sou sê: ‘Kyk, die baas is nie hier nie. Nou maak ek wat ek wil,’ wag daar groot probleme op hom. Kort voor lank begin hy dan geld steel en met die ander werkers sukkel. Hy begin ook in werkstyd drink en partytjie hou. Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het. “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 12:42-48