LUKAS 12:42-48
LUKAS 12:42-48 Die Boodskap (DB)
Jesus het Petrus met nog ’n verhaal geantwoord: “Dink ’n bietjie: Watter soort werker sal die eienaar van ’n fabriek die graagste aanstel om elke maand die ander werkers se lone uit te betaal? Definitief die persoon wat betroubaar is en wat altyd hard werk, of die eienaar nou daar is of nie. So ’n werker sal goed beloon word as die eienaar op ’n dag kom inspeksie doen. Uiteindelik sal hy die bestuurder oor die hele fabriek word. Maar as daardie werker vir homself sou sê: ‘Kyk, die baas is nie hier nie. Nou maak ek wat ek wil,’ wag daar groot probleme op hom. Kort voor lank begin hy dan geld steel en met die ander werkers sukkel. Hy begin ook in werkstyd drink en partytjie hou. Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het. “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.”
LUKAS 12:42-48 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê die Here: “Ek wil vir jou vertel hoe is 'n bestuurder wat verstandig is en doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om bestuurder te wees van al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien sy slaaf is besig om alles te doen wat die eienaar vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. En dan begin die slaaf die ander slawe slaan en hy begin eet en drink en dronk word. En eendag wanneer die slaaf dit nie verwag nie, kom die eienaar skielik terug. Dan sal die eienaar daardie slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat nie doen wat Hy wil hê nie. Daar is slawe wat presies weet wat hulle eienaar wil hê, maar hulle doen dit nie en hulle is nie altyd gereed nie. Die eienaar sal hierdie slawe swaar straf. Maar daar is ook slawe wat nie goed weet wat hulle eienaar wil hê nie. As hulle doen wat verkeerd is, dan sal die eienaar hulle nie swaar straf nie. 'n Eienaar wat vir 'n slaaf baie gegee het, wil baie kry wanneer hy terugkom, en as die eienaar gesê het die slaaf moet iets doen, dan wil hy hê die slaaf moet baie meer doen. Dit wil God ook van julle hê.”
LUKAS 12:42-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.
LUKAS 12:42-48 Afrikaans 1983 (AFR83)
En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee? Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit. “Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word, sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel. “Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”
LUKAS 12:42-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.”
LUKAS 12:42-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die Here het gesê: Wie is dan daardie getroue en wyse bestuurder wat sy heer oor sy huisgesin sal aanstel, om hulle op die regte tyd hulle deel van die vleis te gee? Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, dat hy hom sal aanstel as heerser oor alles wat hy het. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer stel sy koms uit; en sal begin om die diensknegte en diensmeisies te slaan en te eet en te drink en dronk te word; Die heer van daardie dienskneg sal kom op 'n dag dat hy na hom nie kyk nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en hy sal hom uitsny en hom sy deel met die ongelowiges bepaal. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en hom nie voorberei het nie en nie volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. Want aan elkeen wat baie gegee word, van hom sal veel geëis word; en aan wie die mense baie toevertrou het, van hom sal hulle des te meer vra.
LUKAS 12:42-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En Jesus het geantwoord: “Ek praat met enige getroue, verstandige slaaf aan wie die meester die verantwoordelikheid opgedra het om sy huishouding te bestuur en sy gesin te voed. As die meester terugkom en sien dat die slaaf ’n goeie werk gedoen het, sal daar ’n beloning wees. Ek verseker jou, die meester sal die slaaf aanstel oor alles wat hy besit. Maar as die slaaf dink: ‘My meester sal nie binnekort terug wees nie,’ en hy begin die ander slawe verdruk en gaan hom te buite met kos en drank – wel, die meester sal onaangekondig en onverwags terugkom. Hy sal die slaaf folter en hom laat deel in die lot van die ontroues. Die slaaf sal swaar gestraf word, want alhoewel hy sy plig geken het, het hy dit nie gedoen nie. “Maar hulle wat nie bewus was dat hulle verkeerd doen nie – hulle sal net lig gestraf word. Baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is, en nog veel meer word vereis van hulle aan wie soveel meer gegee is.”