Lukas 1:26-55

Lukas 1:26-55 DB

In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!” Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.” Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God. “Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.” Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.” Daarna het Gabriël vertrek. Maria was so opgewonde oor die goeie nuus wat sy gehoor het dat sy dadelik besluit het om by Elisabet te gaan kuier. Hulle het in ’n dorp in die heuwels van Judea gebly. Toe Maria daar by Sagaria se huis aankom, het sy ingestap en vir Elisabet gaan groet. Net toe Elisabet Maria se stem hoor, het die kindjie binne-in haar vol vreugde begin beweeg. Elisabet is toe met die Heilige Gees vervul. Sy het hardop uitgeroep: “Maria, jy is so bevoorreg in God se oë. Tussen al die vroue op aarde het God juis vir jou uitgekies vir ’n baie spesiale taak. Jy gaan ’n baie belangrike Kind in die wêreld bring. Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom? Weet jy, die oomblik toe ek jou stem gehoor het, het die kindjie binne-in my van vreugde opgespring. Hoe gelukkig is jy nie, Maria! Jy glo alles wat die Here vir jou gesê het - jy glo dat dit waar sal word.” Maria het toe gesê: “Ek maak die Naam van die Here groot. Ek juig oor God. Hy is my Redder. Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is, want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie. Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen. Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi. Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak. Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap. God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het - aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.”