In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!”
Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê:
“Moenie bang wees nie, Maria,
want jy het genade by God gevind.
Kyk, jy sal swanger word
en aan 'n seun geboorte skenk.
Jy moet Hom Jesus noem.
Hy sal magtig wees,
en die Seun van die Allerhoogste genoem word.
En die Here God sal aan Hom
die troon van sy voorvader Dawid gee.
Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer.
Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ”
Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord:
“Die Heilige Gees sal oor jou kom
en die krag van die Allerhoogste
sal jou oorskadu.
Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees;
Hy sal •Seun van God genoem word.
“Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.
In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na 'n dorp in Juda. Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet.
Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul en het hardop uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue!
Geseënd is die vrug van jou moederskoot!
Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?
Kyk, net toe ek jou groet hoor,
het die kindjie in my moederskoot
van uitbundige blydskap opgespring.
En gelukkig is sy wat geglo het
dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. ”
Maria het toe gesê:
“My siel loof die Here,
my gees jubel oor God my Verlosser,
want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien.
Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem,
want die Magtige het groot dinge vir my gedoen –
ja, heilig is sy Naam.
Hy bewys ontferming van geslag tot geslag
aan hulle wat vir Hom ontsag het.
Kragtige dade verrig Hy met sy arm.
Die denke van hoogmoediges verwar Hy,
heersers ruk Hy van hulle trone af,
en geringes verhoog Hy.
Hongeriges versadig Hy met goeie gawes,
en rykes stuur Hy met leë hande weg.
Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan,
deur sy ontferming in gedagte te hou,
soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het,
aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.”