Baie mense het al ’n verhaal geskryf oor al die groot dinge wat onlangs onder ons gebeur het. Hulle het gebruik gemaak van inligting wat aan ons deurgegee is deur mense wat al hierdie dinge self meegemaak het en wat God al van daardie tyd af getrou dien.
Ek het besluit om ook oor al hierdie gebeure aan u te skryf, hooggeagte Teofilus. Ek verseker u dat ek deeglik navorsing oor hierdie groot verhaal gedoen het sodat ek alles reg aan u kan oorvertel, presies net soos dit gebeur het. U sal deur die loop van my verhaal agterkom dat alles wat u in die kerk geleer het, die volle waarheid is.
My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag. Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie. Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud.
Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen, het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand. Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid. Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar. Sagaria het hom boeglam geskrik. Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes. Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe. God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak.
“Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees. Johannes sal baie Israeliete wat in sonde leef na die Here hulle God toe terugbring. Sy belangrikste werk sal wees om te sê dat die Here na sy volk toe op pad is. Hy sal dit doen met dieselfde krag en oortuiging as die profeet Elia van ouds. Johannes sal maak dat pa’s en seuns weer in vrede met mekaar leef. En hy sal mense wie se harte so hard soos klip is, terugkry op die regte pad. So sal hy die Israeliete voorberei vir die Here se koms.”
Sagaria was heeltemal uit die veld geslaan oor die engel se woorde. “Dit klink te goed om waar te wees. Hoe weet ek u praat die waarheid? Ek is dan al stokoud. My vrou ook. Sy kan mos nie meer kinders hê nie.”
Toe sê die engel vir hom: “Besef jy nie met wie jy te doen het nie? Kyk, ek is Gabriël. Ek staan voltyds in God se diens. Hy het my spesiaal na jou toe gestuur met hierdie goeie nuus. Maar omdat jy my nie wou glo nie, sal jy stom wees tot op die dag dat jou seun gebore word. Tot dan sal jy nie ’n woord uitkry nie. Alles wat ek vir jou gesê het, sal binnekort waar word; presies op die tyd wat God bepaal het.”
Intussen het die skare wat buite gewag het dat Sagaria hulle moet kom seën, ongeduldig geraak. “Hoekom kom hy dan nie uit nie?” het hulle onder mekaar gevra. Toe Sagaria uiteindelik buitetoe kom, kon hy glad nie praat nie. Die skare het agtergekom dat hy ’n visioen gesien het, want hy het aanhoudend met sy hande vir hulle beduie wat gebeur het sonder om ’n woord uit te kry.
Toe Sagaria se verpligtings daar in die tempel klaar was, het hy teruggegaan na sy huis toe. Nie lank daarna nie het Elisabet begin verwag. Sy was so bly daaroor dat sy vir vyf maande lank eenkant gaan bly het, weg van almal af. “Die Here het ’n wonderwerk aan my gedoen,” het sy gesê. “Hy het gesorg dat mense nou nie meer agteraf met my sal spot omdat ek nie kinders kan hê nie.”
In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!”
Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.”
Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God.
“Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.”
Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.”
Daarna het Gabriël vertrek.
Maria was so opgewonde oor die goeie nuus wat sy gehoor het dat sy dadelik besluit het om by Elisabet te gaan kuier. Hulle het in ’n dorp in die heuwels van Judea gebly. Toe Maria daar by Sagaria se huis aankom, het sy ingestap en vir Elisabet gaan groet. Net toe Elisabet Maria se stem hoor, het die kindjie binne-in haar vol vreugde begin beweeg. Elisabet is toe met die Heilige Gees vervul. Sy het hardop uitgeroep: “Maria, jy is so bevoorreg in God se oë. Tussen al die vroue op aarde het God juis vir jou uitgekies vir ’n baie spesiale taak. Jy gaan ’n baie belangrike Kind in die wêreld bring. Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom? Weet jy, die oomblik toe ek jou stem gehoor het, het die kindjie binne-in my van vreugde opgespring. Hoe gelukkig is jy nie, Maria! Jy glo alles wat die Here vir jou gesê het - jy glo dat dit waar sal word.”
Maria het toe gesê:
“Ek maak die Naam van die Here groot. Ek juig oor God. Hy is my Redder. Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is, want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie. Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen. Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi. Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak. Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap. God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het - aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.”
Maria het amper drie maande by Elisabet gebly. Daarna het sy na haar huis toe teruggegaan.
Kort daarna het Elisabet ’n seun gehad. Haar vriende en familie was baie bly saam met haar. “Die Here was baie goed vir haar,” het hulle almal gesê.
Agt dae na sy geboorte het Sagaria en Elisabet hulle kindjie laat besny. Die res van die familie wou hom Sagaria noem. Maar Elisabet het hulle gekeer. “Nee, wag! Sy naam moet Johannes wees.”
“Hoekom? Daar is dan niemand in jou familie met die naam Johannes nie,” het hulle haar verbaas gevra. “Kom ons vind uit wat Sagaria dink,” het hulle toe gesê. Hulle het met handgebare vir hom gevra hoe hy sy seun genoem wou hê. Sagaria het beduie dat iemand vir hom ’n stukkie papier en ’n skryfding moet bring. Daarop skryf hy toe: “Sy naam is Johannes.” Almal was uit die veld geslaan daaroor.
Terwyl almal nog verwonderd rondstaan, het Sagaria se stem skielik teruggekeer. Hy kon nou weer praat. Dadelik het hy God se Naam begin loof en prys.
Die hele omgewing is diep geraak deur alles wat met Sagaria en Elisabet gebeur het. Almal was bewus van God se grootheid. Hulle kon eenvoudig nie ophou praat oor hierdie wonderwerk nie. “Wat lê nog alles vir hierdie kind voor?” het die mense onder mekaar gevra. Almal kon sien dat God by Johannes was.
Die Heilige Gees het Sagaria vervul. Hy het toe oor God se verlossingsplan begin praat en sy Naam grootgemaak:
“Loof die Here, die God van Israel! Hy het na sy volk toe gekom. Hy het hulle kom verlos. God het ’n magtige Redder na ons toe gestuur. Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here. Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen. Die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat. God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid. Dit alles het Hy in sy spesiale ooreenkoms met ons voorvaders belowe. God het sy beloftes onthou; ook daardie plegtige belofte aan Abraham: God het onthou dat Hy ons van ons vyande sal red sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer - elke dag van ons lewe.
“En jy, my seuntjie, die mense sal jou noem: ‘Boodskapper van die Allerhoogste.’ Jy sal voor die Here uitstap en sy pad gelyk maak. Jy sal vir sy volk vertel hoe hulle by God kan uitkom. Jy sal hulle leer hoe hulle sondes vergewe kan word. God is so ongelooflik goed vir ons. Binnekort sal sy genade soos die son oor ons donker wêreld begin skyn. Hy sal lig maak vir almal wat in die donker leef, ook vir hulle wat in die donker kloue van die doderyk vasgevang is. God sal ons weer op die pad van vrede laat stap.”
Johannes het vinnig grootgeword. Die krag van die Gees was in sy lewe te sien. Hy het eenkant in die woestyn gebly tot op die dag dat hy onder die Israeliete begin preek het.