Lukas 1:1-80

Lukas 1:1-80 AFR20

Baie mense het reeds hulle hand daaraan gewaag om 'n verhaal saam te stel oor dit wat onder ons tot vervulling gekom het, soos die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het. Daarom, geagte Teofilus, het ook ek dit goedgedink om self alles stap vir stap van voor af noukeurig te ondersoek en dit in volgorde vir u neer te skryf, sodat u vir seker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie gebeure ontvang het, betroubaar is. In die tyd toe Herodes koning van Judea was, was daar 'n priester uit die diensgroep van Abia met die naam Sagaria. Sy vrou was uit Aäron se nageslag, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei •regverdig in die oë van God en het onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef. Hulle was kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei van hulle al op ver gevorderde leeftyd was. Toe Sagaria op 'n keer tydens sy diensgroep se beurt voor God tempeldiens gedoen het, is hy volgens priesterlike gebruik deur die lot aangewys om die heiligdom van die Here binne te gaan en die reukoffer te bring. En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. 'n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, maar die engel het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal vir jou geboorte gee aan 'n seun, en jy moet hom Johannes noem. Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboorte. Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie , en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Hy sal baie van die kinders van Israel na die Here hulle God laat terugkeer. Hy sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges, en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak. ” Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd. ” Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël , wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.” Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy 'n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan. Hierna het sy vrou Elisabet swanger geraak. Sy het haar vyf maande lank afgesonder en gesê: “Dit is wat die Here in hierdie dae vir my gedoen het: Hy het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem. ” In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ” Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” Die engel het haar geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees; Hy sal •Seun van God genoem word. “Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan. In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na 'n dorp in Juda. Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet. Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul en het hardop uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. ” Maria het toe gesê: “My siel loof die Here, my gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam. Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het. Kragtige dade verrig Hy met sy arm. Die denke van hoogmoediges verwar Hy, heersers ruk Hy van hulle trone af, en geringes verhoog Hy. Hongeriges versadig Hy met goeie gawes, en rykes stuur Hy met leë hande weg. Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan, deur sy ontferming in gedagte te hou, soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het, aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.” Maria het ongeveer drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe. Toe die tyd aanbreek dat Elisabet geboorte moes gee, het sy 'n seun in die wêreld gebring. Haar bure en familie het gehoor dat die Here Hom uitsonderlik oor haar ontferm het, en hulle was saam met haar bly. Op die agtste dag het mense toe gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom vernoem na sy vader Sagaria. Maar sy moeder het gesê: “Nee, hy moet Johannes genoem word.” Hulle sê toe vir haar: “Maar daar is niemand in jou familie met dié naam nie.” Hulle het ook met behulp van gebare aan sy vader gevra wat hy wou hê die kindjie genoem moet word. Hy het 'n skryfbordjie gevra en geskryf: “Sy naam is Johannes.” En almal was verbaas. Skielik kon Sagaria sy mond en sy tong weer onbelemmerd gebruik, en hy het God begin prys. Almal wat in die omgewing woon, is toe met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea het die mense oor al hierdie gebeure gepraat. Almal wat hiervan gehoor het, het in hulle harte daaroor bly nadink en gewonder: “Waarvoor is hierdie kindjie bestem?” Die hand van die Here was werklik met hom. Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 'n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het , sodat ons, gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, en al ons dae voor Hom in heiligheid en •geregtigheid kan leef. En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, danksy ons God se innige ontferming, waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom, om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skadu van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas.” Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.