Job 9

9
Job praat ’n derde keer
1Job het Bildad geantwoord en gesê: 2“Ek weet dit is waar wat jy sê. ’n Mens kan nie ’n saak teen die Here wen nie. 3As ’n mens God wil aanvat, gaan jy tweede kom. Jy sal Hom nie eens een uit 1 000 keer kan antwoord nie. 4Die Here weet baie en Hy is ontsettend sterk. Daar is nie ’n mens wat teen Hom kan opstaan en dit oorleef nie.
5“Voordat die berge nog weet dit gaan gebeur, skuif God hulle. As Hy kwaad word, keer Hy hulle sommer onderstebo. 6Hy skud die aarde dat dit voel of die aarde nie meer op sy ou plek staan nie. Hy laat die fondamente van die aarde bewe. 7Hy sê vir die son om nie meer te skyn nie, en dan kom die son nie op nie. Hy keer ook dat die lig van die sterre deurkom. 8Hy het die hemel alleen soos ’n doek uitgesprei. As Hy wil, loop Hy sommer op die branders van die see. 9Hy het al die sterre gemaak. Hy het die Beer en Orion gemaak. Dan ook nog die Sewester en die Suiderkruis. 10Mense kan nie die groot dinge verstaan wat die Here doen nie. Dit is bokant hulle vuurmaakplek. Hy doen ook so baie wonders, dit kan nie eens getel word nie. 11Die Here gaan hier by my verby, en ek sien Hom nie eens nie. Ek sal nie eers daarvan weet as Hy verder gaan nie. 12As Hy iets wil wegruk, is daar niemand wat in sy pad kan staan nie. Wie sal waag om Hom te vra: ‘Wat doen U?’ 13God hou nie sy woede in toom nie. Hy verbrysel selfs sterk magte wat teen Hom in opstand kom.”
14Job het gevra: “Wie is ek sodanig dat ek vir die Here sal probeer antwoorde gee? Ek kan nie eens dink ek moet met Hom stry nie. 15Selfs al is ek onskuldig, kan ek my nie teen Hom verdedig nie. Al wat ek regtig kan doen, is om Hom mooi te vra om maar ’n bietjie genadig met my te wees. 16Selfs as ek na Hom roep en Hy my antwoord, twyfel ek of Hy na my sou luister. 17Die Here het my sonder enige rede hard geslaan. Dit het vir my gevoel of ’n storm my tref. Nou het Hy my wonde net nog meer gemaak. 18Hy laat my nie eens toe om ’n bietjie asem te skep nie. Hy laat my bitter, bitter swaarkry. 19Hy het al die krag; niemand kan met Hom kragte meet nie. As dit gaan oor wat reg is, wie sal Hom vir my voor die hof daag? 20Al doen ek dinge reg, praat ek of ek skuldig is. Al glo ek dat ek onskuldig is, sal daar bewys word dat ek verkeerd is.
21“Ek is onskuldig,” het Job gesê, “ek gee niks om vir my lewe nie. Om die waarheid te sê, ek haat my lewe. 22Maar dit maak nie eintlik saak of ek onskuldig of skuldig is nie, dit is een en dieselfde vir Hom. Hy vernietig skuldige en onskuldige mense. 23As die een of ander ramp onskuldige mense skielik tref en hulle gaan dood, lag Hy oor hulle ellende. 24God het die wêreld vir die slegte mense gegee. Hy het ook die regters blind gemaak om nie verkeerde goed raak te sien nie. Hulle tree nie regverdig op nie. As dit nie die Here is wat dit gedoen het nie, wie het dan?”
25Job sê ook: “’n Atleet hardloop baie vinnig. My lewe gaan nog vinniger as dit verby. My dae vlieg verby sonder dat enigiets goeds gebeur. 26My lewe verdwyn soos ’n boot van papirus wat vinnig verbyskiet. Dit verdwyn so vinnig soos ’n arend op sy prooi neerduik. 27Ek kan sê ek sal met al my gekla ophou. Ek kan ook besluit om op te hou om met ’n lang gesig rond te loop en vroliker te wees. 28Maar dan word ek bang vir al die swaarkry wat nog voorlê. Ek weet, Here, dat U nie dink dat ek onskuldig is nie. 29As ek dan nie anders kan as om skuldig te wees nie, wat help dit dan nog om enige moeite te doen? Dit is alles verniet! 30Dit sal nie eens help om my met seep of enige sterk wasmiddel te was nie. 31U sal my tog net weer in ’n modderpoel gooi. Dan sal ek so vuil wees dat selfs my eie klere my sal haat.”
32Job het gesê: “Die Here is nie ’n mens soos wat ek is nie. Ek kan nie met Hom baklei en terugpraat nie. Ons kan ook nie hof toe gaan om te sien wie van ons twee reg is nie. 33Ek wens daar was iemand wat ons twee bymekaar kon bring en ons kon help om vrede te maak. Maar daar is nie so iemand nie. 34Ek wens verder dat die Here sal ophou om my te slaan. Ek wil nie langer so vreeslik bang wees vir Hom nie. 35As dit kon gebeur, sou ek met Hom kon praat sonder om bang te wees. Maar soos sake nou staan, kan ek nie.”

Tans Gekies:

Job 9: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan