Job 8

8
Bildad antwoord Job
1Bildad, wat van Suag af kom, het Job geantwoord: 2“Hoe lank gaan jy aanhou om so te praat, Job? Wat jy sê, is soos ’n wind wat alles verwoes. 3God sal mos nie dinge verdraai wat volgens die wet is nie. Niemand is so magtig soos die Here nie. Hy doen wat reg is. 4As jou kinders dinge gedoen het wat vir die Here verkeerd is, sal Hy hulle straf. Maar hulle straf sal pas by wat hulle gedoen het. Hulle sal kry wat hulle verdien. 5Vra wat God wil hê jy moet doen en pleit by Hom om sag met jou te werk. 6En as jy ook nog op ’n skoon en eerlike manier leef, sal die Here jou goedgesind wees. Hy sal jou weer ’n plek in die lewe gee wat jy verdien. 7Jy het klein en eenvoudig begin, maar in die toekoms sal dit met jou baie goed gaan.
8“Gaan steek kers op by mense wat voor ons geleef het. Leer uit die ervaring van ons voorouers. 9Ons leef nog nie so lank nie; daarom weet ons nie so baie nie. Ons lewe op aarde gaan soos ’n skaduwee verby. 10Maar jy kan iets leer by die mense wat voor jou geleef het. Hulle sal jou raad gee uit alles wat hulle al gesien en beleef het.”
11Bildad het nog aangegaan om te praat: “Die papirusplant groei net in moerasse. Biesies floreer net waar daar water is. 12Hulle blom nog en kan nog nie eens afgesny word nie, dan verlep hulle al. 13Dieselfde gebeur met mense wat van God vergeet. Vir hierdie mense wat hulle nie aan God steur nie, is daar nie ’n stukkie hoop oor nie. 14Hulle vertrou op dinge wat nie baie veilig is nie. Dit is so goed soos om aan die draadjie van ’n spinnerak te hang. 15Hulle lê teen die spinnerak, maar dit gee pad. Dit help nie eens om dit te probeer vasgryp nie. Hulle vertrou op vals dinge. 16Hulle is soos ’n plant wat goed groei in die son. Die wortels van die plant sprei oor die hele tuin uit. 17Die wortels boor tussen die klippe en rotse in sodat dit goed kan vashou. 18Maar as hierdie plant uitgetrek word, sal niemand eens onthou dat daar so ’n plant was nie. 19Die enigste blydskap wat mense het wat hulle nie aan God steur nie, is dat ander ná hulle in hulle plek sal kom.”
20Verder sê Bildad: “Die Here sal nie onskuldige mense wegstoot nie. Maar Hy sal beslis nie kwaaddoeners help nie. 21Job, Hy sal jou weer laat lag en uitroep van blydskap. 22Hy sal die mense wat jou haat in die skande laat kom. Daar sal niks van hierdie slegte mense se blyplekke oorbly nie.”

Tans Gekies:

Job 8: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan