Job 34

34
Elihu sê Job is arrogant
1Elihu het gesê: 2“Luister na my, al julle verstandige mense, julle wat kennis en besondere insig het. 3’n Mens proe gewoonlik aan kos om die smaak te toets. Daarom moet ’n mens mooi luister en toets wat ander sê. 4Ons moet elkeen probeer uitvind wat reg is en dan besluit ons saam wat die beste is. 5Want Job het gesê: ‘Ek is onskuldig, maar God keer dat ek reg behandel word. 6Al is ek onskuldig, noem mense my ’n leuenaar. Ek sit met ’n ongeneeslike siekte en ek het niks eens verkeerd gedoen nie.’
7“Hierdie Job is darem vir jou arrogant. Hy beledig die Here net so maklik soos hy water sou drink. 8’n Mens kry hom in die geselskap van mense wat verkeerde dinge doen. Die kwaaddoeners is sy vriende. 9Hy het selfs gesê ’n mens mors jou tyd om God te probeer gelukkig hou.”
10Elihu het verder gegaan en gesê: “Almal van julle wat verstandig is, luister na my. Julle weet, God doen nooit slegte en verkeerde dinge nie. 11Hy betaal elkeen volgens wat hy gedoen het. Jy sal kry wat jy verdien. 12Wat waar is, is dit: God doen nie verkeerd nie. Hy is ook nie onregverdig nie. 13Die Here het die sê oor wat in hierdie wêreld aangaan. Die hele wêreld is in sy mag. 14As die Here sy Gees en die lewe wat Hy gegee het, sou wegvat, 15sal alle mense daar en dan doodgaan. Mense sal net weer stof word.
16“As jy verstandig is, sal jy luister wat ek te sê het. 17Sou God kon regeer as Hy regverdigheid haat? Wil jy probeer bewys dat God wat regverdig en magtig is, skuldig is? 18Hy sê vir ’n koning dat hy niks werd is nie en vir regeringsleiers dat hulle sleg is. 19Hy trek nie belangrike mense voor nie. Hy gee ook nie meer aandag aan die rykes as aan die armes nie. Hy het hulle almal gemaak. 20Enigeen kan skielik in die nag doodgaan. As God net aan hulle raak, gaan hulle dood. Mense wat mag het, verdwyn van die toneel sonder dat enigiemand iets daarmee te doen het.
21“Die Here kyk hoe mense leef. Hy sien ook alles wat hulle doen. 22Mense wat slegte dinge doen, moenie dink dat daar iewers ’n plek is wat donker genoeg is om weg te kruip nie. 23Dit is nie nodig dat mense eers voor Hom moet verskyn voordat Hy kan besluit wat om met hulle te doen nie. 24Hy hoef nie eens te gaan kyk wat hierdie magtige leiers aangevang het voordat Hy hulle vernietig en ander in hulle plek aanstel nie. 25Hy weet presies wat hulle doen. Hy stoot hulle sommer oornag van hulle troontjies af en vernietig hulle. 26Hy straf hulle oop en bloot waar almal kan sien wat hulle verkeerd gedoen het. 27Hulle is nie meer aan die Here lojaal nie. Hulle steur hulle nie aan wat Hy wil hê hulle moet doen nie. 28Hulle het die arm mense en mense wat swaarkry so sleg behandel dat God hulle noodkrete gehoor het. 29As die Here stilbly, wie kan Hom daaroor kritiseer? As Hy niks met mense te doen wil hê nie, is almal in die moeilikheid. 30Hy keer dat mense regeer wat niks met Hom te doen wil hê nie. Hy wil nie hê dat hulle mense verkeerd moet lei nie.
31“Wat ’n mens vir God behoort te sê, is: ‘Ek het verkeerd gedoen, maar ek sal dit nie meer doen nie.’ 32Of ’n mens moet sê: ‘Wys my as daar iets is wat ek nie raaksien nie. As ek iets verkeerds gedoen het, sal ek ophou om dit te doen.’
33“Jy weier nou om te erken dat jy skuldig is, Job. Sê my, moet God nou sy straf verander omdat jy nie met Hom saamstem nie? Job, jy moet maar self hieroor besluit, nie ek nie. Sê gerus vir ons wat jy weet! 34Mense wat verstandig is en insig het en hoor wat ek sê, stem met my saam 35as ek sê: ‘Job, jy weet nie wat jy praat nie. Wat jy sê, maak nie sin nie.’ 36Job, jy moet op die moeilikste manier moontlik getoets word, want jy praat soos iemand wat niks van God dink nie. 37By al die ander dinge wat jy verkeerd gedoen het, kom jou opstand teen God nou ook nog by. Met jou houding tart jy die Here. Jy hou net aan om God te kritiseer.”

Tans Gekies:

Job 34: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid