Job 31

31
Job se onskuld
1Job het gesê: “Ek het ’n vaste besluit geneem om nooit na ’n meisie te kyk en haar te begeer nie. 2Wat het God besluit moet ons kry? Wat is ons erfdeel van Hom? 3Is dit nie ellende en mislukking vir mense wat nie reg doen nie, maar hulle met slegte dinge besig hou? 4Hy weet presies wat ek doen en van elke tree wat ek gee.
5“Het ek vir enigiemand gelieg of ooit iemand bedrieg? 6Laat God my eerlik weeg en besluit of ek onskuldig is. 7Partykeer raak mense die pad byster. Ander mense wil weer alles hê wat hulle sien. Nog ander doen goed wat nie reg is nie. 8As ek soos hierdie mense is, mag iemand anders dan oes waar ek gesaai het. En mag die graan wat ek geplant het, uitgetrek word.
9“As ek deur ’n vrou verlei is of as ek my buurman se vrou bitter graag wou hê, 10laat my vrou dan vir ’n ander man kos maak. Of erger nog, laat ander mans by haar slaap. 11As ek aan hierdie dinge skuldig is, is dit ’n skande. Dan moet ek gestraf word. 12Dit is ’n vuur wat ’n mens verteer en jy eindig in die dood. Dit sal alles verwoes wat ek besit.
13“Ek het nog altyd my werkers reg behandel. As hulle met ’n klagte of ’n probleem na my toe gekom het, het ek geluister. 14Ek sou mos nie by God daarmee verby kon kom as ek dit nie gedoen het nie. Hoe sou ek myself by Hom kon verdedig as Hy my daaroor sou uitvra en ek skuldig was? 15God het mos vir my en my werkers gemaak. Een en dieselfde God het ons almal gemaak.
16“Was ek ooit onwillig om arm mense te help? Het ek ooit weduwees teleurgestel wat wou hê dat ek hulle moes help? 17Sê my ’n bietjie, was ek ooit suinig met kos vir die honger weeskinders? Wou ek dit miskien nie met hulle deel nie? 18Nee, glad nie! Vandat ek nog sommer baie jonk was, het weeskinders en weduwees my na aan die hart gelê. Ek het nog altyd vir hulle gesorg. 19As ek iemand gesien het wat nie ’n plek gehad het om teen die wind en weer te skuil nie of nie klere gehad het nie, het ek gehelp. 20Ja, hulle kon nie uitgepraat raak omdat ek vir hulle wolklere gegee het nie. 21As ek ooit ’n weeskind uitgebuit het om my te help om ’n hofsaak te wen, 22mag my skouers losskeur en my arms dan afval. 23Ek sou nooit so iets gedoen het nie, want ek is bitter bang vir God se straf. Teen God se grootheid het ek geen kans nie.
24“Ek het nooit my vertroue op geld of goud gesit nie. 25Ek was ook nie ’n gelukkige en vrolike mens omdat ek ryk was en baie goed gehad het nie. 26Het ek ooit na die son gekyk wat helder skyn of na die maan wat so mooi is en in die hemel beweeg 27en my laat verlei om hulle te aanbid? 28As ek het, was ek ontrou aan die God van die hemel. Dan moet ek gestraf word.
29“Ek was nooit bly as my vyande probleme gehad het nie. Ek het my ook nie daarin verlekker as slegte goed met hulle gebeur het nie. 30Verder het ek nog nooit vir iemand gesê ek wens hy gaan dood nie. 31My werkers weet dat niemand nog ooit honger van my af weggegaan het nie. 32My deure het nog altyd oopgestaan vir vreemde mense. Hulle hoef nog nooit buite te geslaap het nie. 33Ek het ook nie die verkeerde goed wat ek al gedoen het soos ander mense probeer wegsteek nie. 34Ek was nie bang vir die massas mense of die minagting van my familie nie. Dit het ook nie gemaak dat ek stilgebly het oor wat ek gedoen het nie of dat ek bang was om uit my huis uit te gaan nie.
35“Ag, ek wens ek het iemand gehad wat net na my kant van die saak wou luister! Ek sal my handtekening gee om te bevestig dat ek die waarheid praat. Die Here moet my nou maar antwoord en sy klag teen my laat neerskryf. 36Ek sal dat almal weet wat die klag teen my is. Ek is nie skaam om dit vir almal te wys nie. 37Ek sal aan die Here verslag doen van alles wat ek gedoen het. Ek sal my kop optel as ek na God toe gaan.
38“As my grond my aankla en die vore wat ek geploeg het, huil omdat ek oneerlik was, 39of as ek oeste gekry het waarvoor ek nie betaal het nie of as ek die eienaars daarvan vermoor het, 40mag daar dan dorings groei in plaas van koring, en bossies in plaas van gars.” Hier het Job opgehou praat.

Tans Gekies:

Job 31: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan