Job 30

30
Job is moedeloos
1Job het verder gepraat en gesê: “Maar nou word ek gespot deur mense wat jonger is as ek. Wie is hulle nou eintlik om dit te doen? Hulle pa’s is nie eens werd om saam met my skaaphonde die skape op te pas nie. 2Hulle is nie vir my veel werd nie, want hulle het nie krag oor nie. 3Hulle is maer en uitgeteer van die honger. Hulle het in die nagte in afgeleë en verlate plekke aan droë wortels gekou om aan die lewe te bly. 4Hulle het growwe blare geëet en besemboswortels gebrand vir hitte. 5Die mense het hulle oral weggejaag en vir hulle geskree asof hulle diewe is. 6Nou bly hulle maar in die droë beddings van die stroompies en kruip weg in grotte en rotsskeure. 7Daar waar hulle in die bosse was, het hulle geluide soos diere gemaak. Hulle het saam onder die bosse geskuil. 8Hulle was dom mense wat nêrens ’n goeie naam gehad het nie. Die mense in die samelewing het hulle uitgestoot.
9“Hulle seuns sing nou liedjies oor my om met my te spot. Hulle maak ’n gek van my. 10Hulle dink minder as niks van my nie. Hulle kom nie eens naby my nie, behalwe as hulle op my kom spoeg. 11God het my selfvertroue weggevat en my uitgelewer. Hulle maak nou met my net wat hulle wil. 12Hierdie gemene spul mense val my sommer openlik aan. Hulle stamp my dat ek daar trek. Hulle bring allerhande goed teen my in om my te vernietig. 13Hulle bring oral struikelblokke op my pad. Hulle kyk net hoe hulle my in die ellende kan dompel. Hulle weet ek het niemand om my te kom help nie. 14Hulle breek deur mure en storm deur die rommel op my af. 15Ek leef in vrees en bewing. Ek het geen waardigheid meer oor nie, dit het soos wind verdwyn. Dit het op alle gebiede met my baie goed gegaan, maar dit het verdwyn soos ’n wolk wat verbygaan.
16“Nou is my hart stukkend. Ek huil baie. Ek voel elke dag hoe ek in ’n diep ellende wegsak. 17In die nag het ek baie pyn in my bene. Dit voel of iets aanhoudend aan my bene kou en net nie ophou nie. 18Met sy groot krag het God my aan my klere gegryp. Dit het gevoel of my kraag my wil verwurg. 19Hy het my in die modder gegooi. Ek was van kop tot tone vol modder en as.”
20Job het vir die Here gesê: “Here, ek roep na U dat U my moet help, maar U wil nie luister nie. Ek staan voor U, maar U steur U nie aan my nie. 21U is eintlik baie wreed met my. U val my met mening aan. 22U laat die wind my optel en die storm my ruk en pluk. 23Ek weet U wil hê ek moet doodgaan. Dit is tog waarheen alle mense op pad is.
24“’n Mens sal mos nie die rug draai vir iemand wat in die nood is en om hulp roep nie. 25Ek het mos gehuil oor mense wat deur swaar tye gegaan het. Ek was ook baie ontsteld omdat die arm mense so swaarkry. 26Daarom het ek gedink dat dit met my goed sal gaan, maar slegte dinge het met my gebeur. Ek het lig verwag, maar donkerte het op my neergesak. 27Ek is baie ontsteld. Ek voel heeltyd onrustig. Elke dag is ’n dag van swaarkry. 28My lewe is donker, dit is nie sonskyn nie. Ek staan oop en bloot voor mense en roep uit dat iemand my tog moet help. 29Maar my geroep is nie veel meer werd as die gehuil van ’n jakkals of ’n volstruis nie. 30Die vel oor my hele lyf het swart geword. Ek gloei van die koors. 31My harp speel hartseer musiek en my fluit speel ’n tranerige lied.”

Tans Gekies:

Job 30: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan