In die verbygaan sien Jesus ’n man wat blind gebore is.
“Wie se skuld is dit dat hierdie man blind gebore is?” vra sy dissipels Hom. “Het hy self vir God ongelukkig gemaak of was dit sy ouers?”
“Nee,” sê Jesus, “dis nie een van hulle se skuld nie. God wil juis hierdie man se blindheid gebruik om te wys wat Hy vir mense kan doen. Ons almal moet saamwerk om te wys wat God vir mense kan doen terwyl ons nog kan. Daarvoor het Hy My mos gestuur. Daar gaan ’n stadium kom wanneer ons dit nie meer sal kan doen nie. Terwyl Ek hier by julle is, kan Ek vir die mense wys wat God regtig wil hê en wat nie.”
Jesus se woorde was nog nie koud nie of Hy meng ’n bietjie spoeg en grond. Hierdie modderigheid smeer Hy toe op die blinde se oë en sê: “Toe, jy kan maar loop. Gaan was jou in die bad by die Siloamfontein.” (“Siloam” beteken: hy wat gestuur is.) Die blinde het dit gedoen. Na ’n rukkie kom hy weer daar aan, maar hierdie keer kon hy alles sien! Baie mense het hom geken, want hy het dikwels daar gesit en bedel. Hierdie mense, asook die mense wat naby hom gebly het, kon hulle oë nie glo toe hulle hom sien nie. “Is dit nie sowaar dieselfde man wat altyd hier gesit en bedel het nie?”
“Ja, sowaar,” het party gesê. Ander was minder geesdriftig: “Nee, dit lyk maar net soos hy.”
“Kan julle nie sien nie, dit ís ek!” roep die man uit.
“Maar hoe het dit gebeur dat jy nou kan sien?” vra hulle hom.
Die man vertel hulle toe alles: hoe Jesus modder gemaak en dit op sy oë gesmeer het; hoe Jesus hom na die Siloambad toe gestuur het om te was, en nou kan hy sien! Die mense vra toe opgewonde: “Waar’s daardie man? Ons wil hom sien.”
“Ek weet ongelukkig nie,” was sy antwoord.
Die mense vat die man toe reguit na die Fariseërs toe. Die probleem was dat Jesus die man op die sabbat gesond gemaak het. Die Fariseërs wou die hele storie van voor af hoor. Die man het weer alles van die modder en die bad vertel. Die Fariseërs het nie mooi geweet wat om van alles te dink nie. Party het gesê: “Ons kan nie sien hoe hierdie man enigiets met God te doen kan hê nie. Hy steur hom dan glad nie aan die reëls vir die sabbat nie.” Ander het weer sterk van hulle verskil. “Ons stem nie saam nie,” het hulle gesê. “Hoe verklaar julle al dié wonderlike dinge wat hy doen? Waar sal iemand wat niks met God te doen wil hê nie die krag vandaan kry vir dié wonders?”
Hulle ondervra die man toe weer: “Sê vir ons, wat dink jy van Jesus? Jy behoort mos te weet, want dit is jou oë wat hy gesond gemaak het.”
“Hy’s ’n man van God, ’n profeet,” kom die kort, maar kragtige antwoord.
Die Jode was baie skepties oor die storie dat die man regtig blind was. Toe hulle egter sy ouers roep en hulle vra, kon hulle nie meer twyfel nie. “Is dié man julle seun wat volgens julle blind gebore is?”
“Ja, dit is ons seun dié. Julle kan ons maar glo, hy kon nog nooit sien nie,” antwoord sy ouers.
“Hoe is dit dan dat hy nou skielik kan sien?” wou die Fariseërs weet.
“Nee, nou vra julle ons vas. Ons weet nie. Ons het geen idee wie sy oë gesond gemaak het nie. Maar daar staan hy. Hoekom vra julle hom nie self nie? Hy’s mos al ’n grootmens. Hy kan darem seker vir homself praat.” Sy ouers was bang vir die Jode; daarom het hulle so ontwykend geantwoord. Hulle het alte goed geweet wat die Joodse leiers besluit het: enigiemand wat iets goeds oor Jesus sê of Jesus in die openbaar verdedig, sou nie meer welkom wees by die Joodse byeenkomste nie. Sulke mense sal nooit weer daar mag kom, of saam met die Jode mag kerk hou nie. Daarvoor het die man se ouers nie kans gesien nie. Om uit die moeilike situasie te kom het hulle maar gesê: “Vra hom self; hy’s oud genoeg.”
’n Tweede keer roep die Joodse leiers toe die man nader. Hulle wou hom ’n bietjie toets: “Gaan liewers op jou knieë en sê vir God dankie. Maak Hom groot. Vergeet van hierdie ander man, hierdie Jesus; hy’s sommer ’n regte sondaar!”
Die man sê toe: “Wel, ek kan nie eintlik sê of hy ’n sondaar is of nie. Dis julle terrein daardie. Julle is mos die godsdienstige spesialiste. Waarin ek egter die spesialis is, is dit: ek was blind, maar nou kan ek sien!”
“Verduidelik ’n bietjie weer vir ons alles van voor af. Wat het hy presies gedoen?” vra hulle die man toe weer.
“Maar luister julle nie na wat ek sê nie? Ek het mos al vir julle alles vertel. Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil hom nie dalk begin volg nie, of hoe?”