Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”
Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word. Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie. Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”
Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien!
Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?”
Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.”
Die man het toe self reageer: “Dit is ék!”
Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?”
Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!”
“Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra.
“Ek weet nie,” het hy geantwoord.
Hulle het die man wat eers blind was na die Fariseërs toe geneem. Dit was op ’n Sabbatdag dat Jesus die klei gemeng en dit op die man se oë geplak het. Die Fariseërs het hom weer ’n keer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gaan was, en nou sien ek.”
Sommige Fariseërs het opgemerk: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Van die ander het egter gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?” Onder hulle het hewige verdeeldheid ontstaan.
Weer ’n keer sê hulle toe vir die blinde: “En wat sê jý oor hom? Hierdie man wat kwansuis jou oë oopgemaak het?”
Hy het geantwoord: “Hy is ’n profeet.”
Die Joodse leiers het steeds nie geglo dat hy blind was en nou kon sien nie, totdat hulle die ouers van die man wat nou kon sien, geroep en vir hulle gevra het: “Is hy julle seun van wie julle gesê het dat hy blind gebore is? Hoe het dit gebeur dat hy nou sien?”
“Ons bevestig dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. “Hoe hy egter nou sien, weet ons nie. Wie sy oë oopgemaak het, weet ons ook nie. Vra hom liewer self; hy is oud genoeg; hy kan namens homself praat.”
Sy ouers het hierdie dinge gesê omdat hulle bang was vir die Joodse leiers.
Die Joodse leiers het toe reeds onder mekaar beraadslaag en besluit dat iemand wat bely dat Jesus die Messias is, uit die sinagoge geban moes word. Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”
Die Jode het die man wat blind was, vir ’n tweede keer nadergeroep en vir hom gesê: “Gee erkenning aan God; ons weet dat hierdie man ’n sondaar is.”
Maar hy het geantwoord: “As hy ’n sondaar is, weet ek dit nie. Een ding weet ek wel: Ek wat blind was, sien nou!”
Daarop het hulle vir hom gesê: “Wat het hy vir jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?”
Hy het hulle geantwoord: “Ek het julle reeds vertel, maar julle het nie geluister nie. Om watter rede wil julle dit weer hoor? Julle wil tog sekerlik nie ook dissipels van hom word nie?”