Johannes 6:8-13

Johannes 6:8-13 DB

Andreas, die broer van Simon Petrus, wat ook ’n getroue volgeling van Jesus was, sê toe vir Hom: “Wel, hier is darem ’n kind met so ’n ietsie. Hy het vyf klein garsbroodjies en twee vissies. Maar ek moet sê, ek weet nie hoe dit ons eintlik gaan help nie.” Jesus sê toe: “Sê vir die mense om vir hulle ’n plek te kry om te sit.” Daar was gras waar die mense hulle toe lekker tuis gemaak het. Net die mans alleen was omtrent 5 000. Daar was baie mense. Jesus het toe die garsbroodjies by die seuntjie gevat en vir God dankie gesê vir die kos. Hy het die broodjies toe onder die mense begin uitdeel. Hy het dieselfde met die vis gedoen. En die mense het geëet, soveel as wat hulle wou. Toe die mense genoeg gehad het om te eet, sê Jesus vir sy volgelinge: “Ek sien daar het heelwat kos oorgebly. Gaan maak dit bymekaar sodat niks gemors word nie.” Die dissipels het dit gedoen en twaalf mandjies nodig gehad om die brood wat oorgebly het in te sit. Dit alles het met die vyf broodjies van die seuntjie begin.