Johannes 6:32-59

Johannes 6:32-59 DB

Jesus antwoord hulle: “Daardie woorde sê nie dat dit Moses was wat die brood uit die hemel gegee het nie. Dit is eintlik my Vader wat die brood uit die hemel vir julle gee. En dit is nie sommer gewone brood nie; dit is die ware brood. En weet julle wat is die ware brood? Dit is sy Seun wat uit die hemel kom en die ewige lewe vir mense gee.” Gretig sê hulle: “Gee ons asseblief van daardie brood, sommer nou en vir altyd!” Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie. Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak. Ek het mos van die hemel af gekom om te kom doen wat my Vader beplan het. Laat Ek julle vertel wat my Vader se plan is: Hy wil nie hê dat een enkele mens wat aan Hom en My behoort, iets oorkom nie. Ek moet hulle almal op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan. Sy wens is dat elkeen wat raaksien wie die Seun is en Hom met sy hele hart aanvaar, die lewe sal kry wat nooit sal ophou nie. Ek sal daardie persoon op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan.” Die Jode het toe onderlangs begin mompel omdat Jesus gesê het dat Hy die brood is wat uit die hemel gekom het. “Is Josef nie sy pa nie? Ja-nee, ons ken sy pa en ma goed. Ons weet mos waar hy vandaan kom. Hoe kan hy nou hier vir ons kom staan en vertel dat hy uit die hemel gekom het?” “Vir wat staan julle so onder mekaar en mompel?” vra Jesus toe. “Spaar julleself die moeite! My Vader wat My gestuur het, trek mense na My toe wat by My hoort. Dit is die mense wat Ek op die dag van die wederkoms uit die dood sal laat opstaan. Julle moet dus nie die idee kry dat julle op julle eie sonder my Vader deel sal word van God se familie nie. Een van die boodskappers van God het juis dít bedoel toe hy geskryf het: ‘Hulle almal sal leerlinge van God self wees.’ Elkeen wat dus soos ’n goeie leerling mooi luister na wat die Vader sê, sal weet dat hy na My toe moet kom. Daarmee sê Ek nie dat iemand anders die Vader al persoonlik gesien het nie, behalwe die Seun. Hy was by die Vader en het van Hom af gekom. Hy het eerstehandse kennis van die Vader. Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is. Want Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood. Die brood wat uit die hemel kom, is anders. As iemand daarvan eet, sal hy nooit doodgaan nie. Dit sal sy geestelike behoeftes vir altyd stil. Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.” Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?” Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink. Ek herhaal, wie my liggaam eet en my bloed drink, het die lewe wat nooit sal ophou nie. Met die wederkoms sal Ek hom liggaamlik laat opstaan. Weet julle wat stil ’n mens se geestelike honger en dors? Dít: my liggaam is die ware geestelike voedsel en my bloed die ware geestelike drank. Dit werk so: as iemand my liggaam eet en my bloed drink, ontstaan daar ’n geestelike eenheid tussen ons. Vir so ’n persoon word Ek die fokus van sy lewe en Ek is ook altyd by hom. Die Vader, wat My gestuur het, het die lewe. Hy het aan My die lewe gegee en daarom lewe Ek. Net so sal Ek dieselfde goddelike lewe aan die persoon gee wat My ‘eet’. Daarom kan Ek sê: hierdie brood wat uit die hemel gekom het, verskil heeltemal van die brood wat julle voorouers geëet het. Hulle almal is dood, maar wie van hierdie hemelse brood eet, sal so lank lewe as wat God daar is, en dit is vir ewig.” Hierdie leersame gesprek het in Kapernaum plaasgevind waar die Jode bymekaargekom het.