Johannes 6:32-59

Johannes 6:32-59 AFR20

Jesus sê toe vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie – nee, my Vader gee vir julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld lewe gee.” Hulle sê toe vir Hom: “Here, gee ons altyd hierdie brood. ” Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie. Maar Ek het vir julle gesê, ‘Julle het My gesien, en tog glo julle nie.’ Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My kom, en Ek sal die een wat na My kom, nooit verstoot nie; want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil uit te voer nie maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie 'n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek. Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan. ” Toe het die Jode oor Hom gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.” En hulle het gesê: “Is hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe kan hy nou sê, ‘Ek het uit die hemel neergedaal?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Hou op om onder mekaar te mor. Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. In die Profete staan daar geskryf, ‘En hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie – net die Een wat van God af kom, Hy het die Vader gesien. Amen, amen, Ek sê vir julle: Hy wat glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf. Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.” Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” Daarop sê Jesus vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.” Dit het Hy in 'n •sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het.