Toe dit die volgende dag lig word, het die mense besef dat daar net een skuitjie weggevaar het en Jesus was beslis nie daarin nie. Sy dissipels is alleen, sonder Hom, daar weg. Intussen het daar ook ander skuitjies uit Tiberias daar aangekom. Toe die mense begin besef dat Jesus net so min soos sy dissipels nog in daardie omgewing was, stroom hulle na die skuitjies toe. Hulle sit toe af in die rigting van Kapernaum, op soek na Jesus. Daar kry hulle Hom toe ook. Hulle vra Hom toe: “Meneer, wanneer het u hier aangekom?”
Jesus sê toe: “Hoekom doen julle al die moeite om My so te volg? Dit is definitief nie omdat julle God in my dade raakgesien het nie. Nee, julle doen dit maar net omdat Ek vir julle kos gegee en julle lekker geëet het. Ai, alles net vir ’n ete! Moenie al julle energie verspil om gewone kos in die hande te probeer kry nie. Gewone kos eet julle vandag en môre is julle weer van voor af honger. Doen liewer moeite vir daardie kos wat julle vir altyd aan die lewe sal hou. As julle dit eet, sal julle nooit weer honger word nie. Die Seun van die mens sal daardie kos vir julle kan gee. God die Vader self staan mos agter alles wat sy Seun doen.”
Hulle vra Hom toe: “Help ons: Wat moet ons doen om God tevrede te stel?” Jesus sê toe vir hulle: “Wil julle weet wat God wil hê julle moet doen? Hy wil hê dat julle sy Seun wat Hy na julle toe gestuur het, met oop arms sal aanvaar en julle aan sy kant sal skaar.”
“Nou toe, wys ons wat u kan doen,” sê hulle. “Die Seun van God moet mos wonderlike dinge kan doen. Laat ons sien wat u kan doen om ons te oortuig dat God aan u kant is. Wys ons wie u is. Dan eers sal ons glo wat u sê. Neem byvoorbeeld die wonderlike ding wat met ons voorouers gebeur het. In die woestyn het Moses vir hulle manna gegee om te eet. Daar staan geskryf: ‘Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.’”
Jesus antwoord hulle: “Daardie woorde sê nie dat dit Moses was wat die brood uit die hemel gegee het nie. Dit is eintlik my Vader wat die brood uit die hemel vir julle gee. En dit is nie sommer gewone brood nie; dit is die ware brood. En weet julle wat is die ware brood? Dit is sy Seun wat uit die hemel kom en die ewige lewe vir mense gee.”
Gretig sê hulle: “Gee ons asseblief van daardie brood, sommer nou en vir altyd!”
Jesus antwoord hulle: “Ek is die brood van die lewe; Ek gee die ewige lewe vir mense. As iemand na My toe kom en vat wat Ek hom gee, sal hy geestelik heeltemal versadig word. As hy My vertrou, sal hy nooit weer geestelik dors kry nie.
Ek noem dit omdat julle gesien het wat Ek doen, maar tog wil julle nie glo wat Ek vir julle sê nie. Die mense wat na My toe kom, is die mense wat God by My wil hê. As iemand eers eenmaal na My toe gekom het, kan Hy volledig op My staatmaak. Ek het mos van die hemel af gekom om te kom doen wat my Vader beplan het. Laat Ek julle vertel wat my Vader se plan is: Hy wil nie hê dat een enkele mens wat aan Hom en My behoort, iets oorkom nie. Ek moet hulle almal op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan. Sy wens is dat elkeen wat raaksien wie die Seun is en Hom met sy hele hart aanvaar, die lewe sal kry wat nooit sal ophou nie. Ek sal daardie persoon op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan.”
Die Jode het toe onderlangs begin mompel omdat Jesus gesê het dat Hy die brood is wat uit die hemel gekom het. “Is Josef nie sy pa nie? Ja-nee, ons ken sy pa en ma goed. Ons weet mos waar hy vandaan kom. Hoe kan hy nou hier vir ons kom staan en vertel dat hy uit die hemel gekom het?”
“Vir wat staan julle so onder mekaar en mompel?” vra Jesus toe. “Spaar julleself die moeite! My Vader wat My gestuur het, trek mense na My toe wat by My hoort. Dit is die mense wat Ek op die dag van die wederkoms uit die dood sal laat opstaan. Julle moet dus nie die idee kry dat julle op julle eie sonder my Vader deel sal word van God se familie nie. Een van die boodskappers van God het juis dít bedoel toe hy geskryf het: ‘Hulle almal sal leerlinge van God self wees.’ Elkeen wat dus soos ’n goeie leerling mooi luister na wat die Vader sê, sal weet dat hy na My toe moet kom. Daarmee sê Ek nie dat iemand anders die Vader al persoonlik gesien het nie, behalwe die Seun. Hy was by die Vader en het van Hom af gekom. Hy het eerstehandse kennis van die Vader. Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is. Want Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood. Die brood wat uit die hemel kom, is anders. As iemand daarvan eet, sal hy nooit doodgaan nie. Dit sal sy geestelike behoeftes vir altyd stil. Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.”
Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?” Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink. Ek herhaal, wie my liggaam eet en my bloed drink, het die lewe wat nooit sal ophou nie. Met die wederkoms sal Ek hom liggaamlik laat opstaan. Weet julle wat stil ’n mens se geestelike honger en dors? Dít: my liggaam is die ware geestelike voedsel en my bloed die ware geestelike drank. Dit werk so: as iemand my liggaam eet en my bloed drink, ontstaan daar ’n geestelike eenheid tussen ons. Vir so ’n persoon word Ek die fokus van sy lewe en Ek is ook altyd by hom. Die Vader, wat My gestuur het, het die lewe. Hy het aan My die lewe gegee en daarom lewe Ek. Net so sal Ek dieselfde goddelike lewe aan die persoon gee wat My ‘eet’. Daarom kan Ek sê: hierdie brood wat uit die hemel gekom het, verskil heeltemal van die brood wat julle voorouers geëet het. Hulle almal is dood, maar wie van hierdie hemelse brood eet, sal so lank lewe as wat God daar is, en dit is vir ewig.”
Hierdie leersame gesprek het in Kapernaum plaasgevind waar die Jode bymekaargekom het.
Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se volgelinge onder mekaar gepraat: “Het julle dit gehoor? ’n Mens praat mos nie so nie! Wie kan daarna luister?” Hulle kon hierdie gebrom nie vir Jesus wegsteek nie. Hy sê toe vir hulle: “Voel julle dit is te erg? Hoe gaan julle voel as julle My sien teruggaan hemel toe waar Ek oorspronklik vandaan kom? Dit moet so wees. Wanneer Ek teruggaan, kom gee die Gees vir mense die ewige lewe. ’n Mens kan dit tog nie doen nie. Ek is egter ’n uitsondering. Die Gees werk nou reeds deur my woorde en daarom kan julle die ewige lewe kry as julle luister na wat Ek vir julle sê. Maar daar is ’n klomp van julle wat dit ongelukkig nie wil glo nie.” (Jesus het van die begin af geweet watter mense glo en watter nie. Hy het ook geweet dat Judas teen Hom sou draai.) Teen hierdie agtergrond sê Hy toe: “Nou verstaan julle miskien ook waarom Ek sê dat niemand ’n Christen kan word as die Vader dit nie vir hom moontlik maak nie.”
Na dié gesprek het baie van Jesus se volgelinge nie meer in Hom belanggestel nie. Hulle het omgedraai en toe op die ou manier met hulle lewe aangegaan.
Jesus vra toe vir sy twaalf getrouste volgelinge: “En julle? Het julle nie ook lus om alles maar op te gee en ook weg te gaan nie?”
Simon Petrus antwoord: “Here, na wie anders sal ons gaan? Daar is niemand soos U nie! U vertel dan vir ons hoe om die ewige lewe te kry. Ons weet tog dat God U spesiaal uitgesonder het om dit te doen. Daarvan is ons doodseker.”
Jesus sê toe: “Jy praat so. Een van julle wat hier staan, is ’n duiwel, al het Ek hom self gevra om my volgeling te word.” (Jesus het van Judas, uit die familie van Simon Iskariot, gepraat. Hy was een van Jesus se twaalf intiemste volgelinge. Hy sou Jesus egter later verraderlik aan sy vyande uitlewer.)