Die volgende dag het die skare wat oorkant die meer gestaan het, gesien dat daar net een bootjie is. Hulle het geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot geklim het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het. Daar het toe ook ander bootjies van Tiberias af aangekom, naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat daarvoor gedank is. Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle self in bootjies geklim en na Kapernaum toe oorgevaar op soek na Jesus. Toe hulle Hom oorkant die meer aantref, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?”
Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.”
Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?”
Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.”
Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en tot geloof in u kan kom? Wat besonders doen u vir ons? Ons voorvaders het tog manna in die woestyn geëet soos daar geskryf staan: ‘Brood uit die hemel het Hy aan hulle gegee om te eet.’”
Jesus het hulle daarop geantwoord: “Ek verseker julle, dis nie Moses wat aan julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar my Vader. En dit is Hy wat nou aan julle die ware brood uit die hemel gee.
“Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee.”
Hulle het toe vir Hom gesê: “Meneer, gee altyd vir ons hierdie brood.”
Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie. Ek het mos vir julle gesê dat julle My wel sien, en tog nie glo nie. Elkeen wat die Vader aan My gee, sal na My toe kom; en Ek sal dié persoon wat na My toe kom, nooit verstoot nie. Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan.
“Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.”
Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?”
Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek. In die profete staan daar geskryf: ‘Hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand al die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van die Vader af gekom het – Hý het die Vader gesien.
“Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.”
Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?”
Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom.
“Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe.
“Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.”
Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee.
Toe baie van Jesus se dissipels dit hoor, het hulle gesê: “Hierdie boodskap is te kras, wie kan daarna luister?”
Jesus het besef dat sy dissipels hieroor mor en Hy het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? Wat dan as julle vir My, die Seun van die Mens, sien opvaar na waar Ek vroeër was? Dit is die Gees wat lewend maak; die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe. En tog is daar sommige onder julle wat nie glo nie.” (Jesus het van die heel begin af geweet wie dit is wat nie glo nie en wie dit is wat Hom gaan verraai.) Daarop het Hy gesê: “Daarom het Ek aan julle gesê dat niemand in staat is om na My toe te kom as dit nie aan so ’n persoon gegun word deur die Vader nie.”
Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan na hulle vroeëre lewe en nie meer saam met Hom die pad geloop nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: “Wil júlle nie ook weggaan nie?”
Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. Ons is daarvan oortuig en weet dat U die Heilige van God is.”
Jesus het daarop teenoor hulle reageer: “Het Ek dan nie self julle twaalf uitgesoek nie? Maar een van julle is ’n duiwel!” Jesus het gepraat van Judas, die seun van Simon Iskariot, want hy sou Hom uitlewer, hy wat een van die twaalf was.