Johannes 20:11-16

Johannes 20:11-16 DB

Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer. Daar, presies op die plek waar die liggaam van Jesus gelê het, het twee hemelse wesens gesit. Hulle het helder, wit klere aangehad. Die een het gesit waar Jesus se kop gelê het en die ander een by sy voete. “Vir wat huil jy so?” vra hulle haar. “Hulle het my Here se liggaam hier weggevat. En ek weet nou glad nie waarheen hulle Hom gevat het nie,” sê Maria hartseer. Met dié kyk sy om. Daar sien sy Iemand staan. Dit was Jesus, maar sy het Hom glad nie herken nie. Jesus vra haar toe: “Waarom huil jy so? Vir wie soek jy?” Maria het gedog dis die man wat in die tuin werk. “Asseblief, Meneer,” smeek Maria, “as jy Hom uit die graf gevat het, sê my tog waar sy lyk nou is. Ek sal dit vat en verder daarna kyk.” “Maria!” sê Jesus. Sy swaai vinnig om. “Rabbi!” roep sy in Hebreeus uit. (Die naam verwys na iemand wat mense leer.)