Johannes 20:11-16

Johannes 20:11-16 AFR20

Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk en twee engele met wit klere aan daar sien sit, waar die liggaam van Jesus gelê het – een waar sy kop en een waar sy voete was. Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier, en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy het omgedraai en – in Hebreeus – vir Hom gesê: “Rabboeni! ” Dit beteken ‘Leermeester’.