Johannes 13:18-30

Johannes 13:18-30 DB

Ek praat nie van julle almal nie. Ek ken julle goed, want Ek het julle as my vriende gekies. In die Skrif staan: ‘Die een wat saam met My geëet het, het my seer geskop.’ Julle sal dit sien waar word. Ek sê dit nou al vir julle. Kyk maar net. Wanneer dit gebeur, sal julle nie onkant gevang word nie, want julle sal weet dat dit moet gebeur. Wanneer dit gebeur, sal julle net al hoe meer oortuig raak wie Ek regtig is. “Dit moet julle altyd besef: sê nou Ek stuur iemand en mense ontvang hom met oop arms, is dit eintlik vir My wat hulle so ontvang. En as hulle My so met oop arms ontvang, ontvang hulle eintlik so vir God wat My gestuur het.” Jesus het nog ernstiger geword en was nou sigbaar ontsteld. “Ai, dit is vir My swaar om dit vir julle te sê, maar een van julle gaan My lelik in die rug steek.” “Wie sou dit nou wees?” het sy volgelinge so stilletjies onder mekaar gevra. Simon skraap toe moed bymekaar om te vra. Hy knik toe vir die dissipel wat langs Jesus gesit het. (Dit was die dissipel van wie Jesus baie gehou het.) “Vra ’n bietjie wie dit is.” Die dissipel leun toe oor: “Here, wie is dit?” Jesus sê toe: “Ek gaan ’n bietjie sous op hierdie brood sit en dit vir een van julle gee. Kyk mooi, dit is hy!” Jesus doen dit toe en gee die brood vir Judas, seun van Simon Iskariot. Hy het dit gevat en geëet. Van toe af het Satan ’n houvas op hom gekry. Jesus sê toe: “Moenie nog wag nie. Maak gou!” Die ander aan tafel het nie geweet wat Jesus bedoel nie. Hulle het gedink dit het maar iets met die geld te doen. (Judas het mos met die geld gewerk.) Judas moes seker nog iets vir die fees gaan koop of ietsie vir die armes gee, het hulle vir mekaar gesê. Judas het dadelik opgestaan en uitgestap. Buite was dit pikdonker.