Johannes 10:11-16

Johannes 10:11-16 DB

“Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewer self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom. “Iemand wat gehuur word om die skape op te pas, tree nie soos ’n herder op nie. Die skape behoort mos nie aan hom nie. Daarom gee hy nie regtig om vir die skape nie. As ’n leeu byvoorbeeld op die skape afstorm, sal die gehuurde man net maak dat hy so vinnig moontlik wegkom. Hy sal nie eens probeer om die skape te help nie. Die leeu sal al die tyd in die wêreld hê om onder die skape te baljaar. Wat met die skape gebeur, maak nie eintlik vir die gehuurde man saak nie. “Ek is vir almal wat My volg soos die beste herder van wie hulle kan droom. Daar is ’n sterk verhouding tussen My en elke gelowige. Ons ken mekaar. Soos my Vader My ken en Ek Hom ken, so ken Ek en elke gelowige mekaar. Omdat ons vir mekaar omgee, sal Ék liewer sterf as om toe te laat dat my volgelinge iets oorkom. Die mense wat julle hier sien, is nie die enigstes wat My volg nie. Daar is baie ander ook, wat van ander plekke af kom. Ek sal ook vir hulle die beste herder wees waarvan hulle kan droom. Uiteindelik sal my volgelinge soos een groot skaaptrop wees met My as hulle enigste herder.