JOHANNES 10:11-16
JOHANNES 10:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder sal sterf sodat sy skape kan lewe. Iemand wat geld kry om die skape op te pas, sal nie doen wat die Goeie Herder doen nie. Iemand wat geld kry om die skape op te pas, is nie regtig 'n herder nie, en dit is nie sy skape nie. Wanneer hy sien 'n wolf kom, dan los hy die skape en hy hardloop weg. Dan vat die wolf die skape weg en hy jaag hulle na al die kante toe. Ja, iemand wat geld kry om die skape op te pas, is nie regtig bekommerd oor die skape nie. “Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en my skape ken My, soos die Vader My ken en soos Ek die Vader ken. Ek sal sterf sodat my skape kan lewe. Ek het ook ander skape wat nie in hierdie kraal is nie. Ek moet ook voor hulle loop. Hulle sal ook na my stem luister. Al my skape sal eendag in een trop wees en Ek sal die hele trop se herder wees.
JOHANNES 10:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Maar die huurling en hy wat nie 'n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. En die huurling vlug, omdat hy 'n huurling is en niks vir die skape omgee nie. Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.
JOHANNES 10:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 'n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy 'n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is 'n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie. “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder.
JOHANNES 10:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Die huurarbeider, wat nie 'n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle – omdat die man 'n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie. Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder.
JOHANNES 10:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek is die goeie herder: die goeie herder gee sy lewe vir die skape. Maar hy wat 'n huurling is en nie 'n herder nie, wie se skape nie besit nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en verstrooi die skape. Die huurling vlug, want hy is 'n huurling en gee nie om vir die skape nie. Ek is die goeie herder, en ek ken my skape, en ek word deur myne geken. Soos die Vader My ken, so ken Ek die Vader, en Ek lê my lewe af vir die skape. En ek het ander skape wat nie van hierdie kraal is nie; hulle moet ek ook bring, en hulle sal my stem hoor; en daar sal een kraal en een herder wees.
JOHANNES 10:11-16 Die Boodskap (DB)
“Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewer self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom. “Iemand wat gehuur word om die skape op te pas, tree nie soos ’n herder op nie. Die skape behoort mos nie aan hom nie. Daarom gee hy nie regtig om vir die skape nie. As ’n leeu byvoorbeeld op die skape afstorm, sal die gehuurde man net maak dat hy so vinnig moontlik wegkom. Hy sal nie eens probeer om die skape te help nie. Die leeu sal al die tyd in die wêreld hê om onder die skape te baljaar. Wat met die skape gebeur, maak nie eintlik vir die gehuurde man saak nie. “Ek is vir almal wat My volg soos die beste herder van wie hulle kan droom. Daar is ’n sterk verhouding tussen My en elke gelowige. Ons ken mekaar. Soos my Vader My ken en Ek Hom ken, so ken Ek en elke gelowige mekaar. Omdat ons vir mekaar omgee, sal Ék liewer sterf as om toe te laat dat my volgelinge iets oorkom. Die mense wat julle hier sien, is nie die enigstes wat My volg nie. Daar is baie ander ook, wat van ander plekke af kom. Ek sal ook vir hulle die beste herder wees waarvan hulle kan droom. Uiteindelik sal my volgelinge soos een groot skaaptrop wees met My as hulle enigste herder.
JOHANNES 10:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape. ’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle. Hy is ’n tipiese kontrakwerker en gee niks vir die skape om nie. Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My, net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape. Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder.