Jeremia 35:2-10

Jeremia 35:2-10 DB

In dié tyd was Jojakim die koning van Juda. Hy het gesê: “Gaan na die plek toe waar die Rekabiete bly. Nooi hulle om saam met jou na die tempel van die Here te kom. Vat hulle na een van die vertrekke binne-in die tempel en gee vir hulle wyn om te drink.” Ek het toe vir Jaäsanja wat die seun van Jeremia en die kleinseun van Gabassinja is, gaan haal. Verder ook al sy broers en seuns. Die hele Rekabiete-groep het mense gehad wat hulle belange op die hart gedra het. Ek het hulle na die tempel toe gebring. Ons het toe na ’n vertrek in die tempel gegaan wat aan die volgelinge van Ganan behoort het. Ganan was die seun van Jigdalja. Hy het bekend gestaan as iemand wat aan God behoort. Hierdie kamer was langs die een wat deur die amptenare in die paleis gebruik is. Dit was ook reg bokant die kamer wat Maäseja die seun van Sallum gebruik het. Maäseja was in beheer van die tempel se ingang. Ek het bekers met wyn en bekers om uit te drink voor die Rekabiete neergesit. Toe nooi ek hulle om van die wyn te drink. Maar hulle het geantwoord: “Nee, ons drink nie wyn nie. Jonadab die seun van Rekab is ons voorvader. Hy het ons opdrag gegee dat nie ons of ons nageslag ooit wyn mag drink nie. Hy het ook gesê dat ons nie huise mag bou om in te bly nie. Ons moet altyd in tente bly. Verder mag ons ook nie graan of wingerde plant nie. As ons hierdie voorskrifte sou hou, sou ons lank kon bly in die land waar ons soos bywoners leef. Ons was nog altyd aan Jonadab gehoorsaam en het niks van hierdie goed gedoen nie. Vandat hy ons die opdrag gegee het om nie wyn te drink nie, het nie ons of ons vroue of ons kinders enige wyn gedrink nie. Ons bou nie huise om in te bly nie. Verder het ons ook nie wingerde of landerye met graan op nie. Ons bly in tente en ons gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab vir ons gegee het.