Op ’n keer het Simson na Gasa toe gegaan. Daar het hy ’n prostituut raakgeloop en by haar geslaap. Die woord het gou die rondte gedoen dat Simson in die omgewing was. Die mense van Gasa het toe die huis omsingel en die hele nag lank vir hom by die stad se hekke gewag. Hulle het doodstil in die donker vir hom gesit en wag en by hulleself gedink: Wag maar, teen dagbreek maak ons hom dood. Maar Simson het net tot middernag bly lê. Toe staan hy op en gryp die toegesluite deure van die stadshekke en ruk hulle met slot en grendel uit hulle kosyne uit. Toe tel hy die hekke op sy skouers en loop met hulle die berg regoor Hebron tot bo uit. Daar het hy toe die hekke laat lê. ’n Ruk later het Simson verlief geraak op ’n vrou wat in die Sorekvallei gebly het. Haar naam was Delila. Die leiers van die Filistyne het met haar gaan praat en vir haar gesê: “Verlei vir Simson om jou te vertel waar sy krag vandaan kom. Vind ook uit hoe ons hom kan oorrompel om hom te boei sodat hy magteloos is. As jy dit doen, sal ons elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.” Delila het toe vir Simson gevra: “Sê tog vir my waar kom jy aan jou bomenslike krag. Wat sou ’n mens moes gebruik om jou so vas te maak dat iemand jou kan oorrompel?” Simson het haar geantwoord: “As hulle my met sewe klam boogsnare vasmaak, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Die leiers van die Filistyne het toe vir haar sewe klam boogsnare gebring waarmee sy Simson vasgebind het. Intussen het sy ook vooraf van die mans in ’n ander vertrek in die huis laat wegkruip. Toe skree sy: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die boogsnare so maklik gebreek soos ’n garingdraad wanneer jy dit met ’n vlam brand. Die geheim van sy krag het steeds onbekend gebly. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het my vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou vir my waarmee ’n mens jou sou kon vasmaak!” Sy antwoord was: “As ek behoorlik vasgemaak word met splinternuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Delila het toe nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind en weer die mans soos die vorige keer in ’n ander vertrek laat wegkruip. Sy skree toe vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Simson het die toue om sy arms gebreek asof dit garingdraad was. Toe sê Delila vir hom: “Jy het my weer vir die gek gehou deur nie vir my die waarheid te vertel nie. Sê nou regtig vir my waarmee ’n mens jou kan vasmaak!” “Goed,” sê hy vir haar, “jy moet net my sewe haarlokke tussen die materiaal op jou weefstoel inweef en dit met ’n pen vasmaak, dan sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Terwyl hy geslaap het, het Delila sy sewe haarlokke tussen die materiaal in die weefstoel ingeweef en dit met ’n pen vasgesteek. Toe skree sy weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Hy het wakker geword en sy hare met een pluk uit die weefstoel losgeruk, pen en al. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg.” Sy het dae lank aangehou neul en kerm totdat hy dit later nie meer kon uithou nie. Hy het toe vir haar die waarheid vertel: “Van my geboorte af is my hare nog nooit gesny nie omdat ek aan God toegewy is. As my hare afgesny word, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens.” Delila het besef dat hy dié keer die waarheid gepraat het; daarom het sy hierdie boodskap vir die leiers van die Filistyne gestuur: “Kom nog een keer terug. Hierdie keer het hy my die waarheid vertel!” Hulle het toe teruggekom en die geld saam met hulle gebring. Sy het Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Toe roep sy ’n man om sy sewe haarlokke te kom afsny. Sy krag het hom onmiddellik begin verlaat. Sy skree toe weer vir hom: “Simson, die Filistyne is hier!” Toe hy wakker skrik, het hy gedink: “Ek sal my net weer soos die vorige kere losruk.” Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom gevang en sy oë uitgesteek. Toe vat hulle hom Gasa toe waar hulle hom met ’n dubbele bronsketting geboei het. Terwyl hy in die tronk was, moes hy die meul draai wat die koring gemaal het.
Lees Rigters 16
Deel
Vergelyk alle weergawes: Rigters 16:1-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's