Rigters 14

14
Simson en die meisie van Timna
1Op ’n keer is Simson na ’n dorp met die naam Timna toe. Daar het ’n sekere Filistynse meisie sy oog gevang. 2Hy is terug huis toe waar hy vir sy pa-hulle gesê het: “Ek het ’n Filistynse meisie in Timna gesien met wie ek wil trou. Tref asseblief die nodige reëlings.”
3Hulle vra toe vir hom: “Is daar nie onder jou eie mense ’n vrou van wie jy dalk hou nie? Hoekom moet jy nou onder die heidense Filistyne vir jou ’n vrou gaan soek?”
Maar Simson het vir sy pa gesê: “Ek hou van haar, ek wil met haar trou.”
4Sy ouers het nie besef dat die Here agter alles sit nie, want die Here het ’n geleentheid gesoek om die Filistyne op hulle plek te sit. In daardie stadium het die Filistyne oor die Israeliete regeer.
5Simson en sy ouers is toe weg Timna toe. By die wingerde naby Timna het ’n jong leeu op Simson afgestorm. 6Die Gees van die Here het Simson sterk gemaak en hy het die leeu met sy kaal hande uitmekaargeskeur asof dit ’n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie. 7In Timna het hy met die Filistynse vrou gaan gesels en hy het sommer baie van haar gehou.
8Later, op pad terug Timna toe vir die troue, het Simson van die pad afgedraai om na die leeu se geraamte te gaan kyk. Daar kry hy toe ’n swerm bye wat in die karkas nes gemaak het met heuning daarin. 9Hy het van die heuning uitgehaal en dit geloop en eet. Toe hy by sy pa-hulle kom, het hy vir hulle ook van die heuning gegee om te eet. Hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie. 10Simson is toe van daar af na die vrou se huis toe, waar hy ’n groot bruilofsfees gehou het volgens die gebruik van die jongmans van daardie tyd. 11Die Filistyne het 30 jongmans gestuur om hom te kom help. 12Simson sê toe vir hulle: “Kom ek vra julle ’n raaisel. As julle die raaisel binne die sewe dae wat die fees aanhou, kan oplos, sal ek vir julle 30 linnehemde en 30 stelle klere gee. 13Maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my 30 linnehemde en 30 stelle klere gee.”
“Reg so,” het hulle gesê, “kom ons hoor wat is jou raaisel!”
14Hy sê toe: “Uit die een wat eet, kom iets te ete en uit die sterke kom iets soets.” Drie dae later kon hulle nog steeds nie met ’n antwoord na vore kom nie.
15Op die vierde dag het hulle vir Simson se vrou gesê: “Haal jou man oor om vir ons die raaisel se antwoord te gee. So nie, verbrand ons jou en jou familie. Of het julle ons dalk hierheen genooi om ons te beroof?”
16Simson se vrou het toe by hom gaan huil en gesê: “Jy het my nie lief nie, jy haat my! Jy het vir my vriende ’n raaisel gevra sonder om eers vir my te sê wat dit beteken.”
“Maar ek het dit nie eens vir my pa-hulle vertel nie,” het hy vir haar gesê, “waarom sou ek vir jou die antwoord gee!” 17Sy het die hele feestyd by hom bly neul daaroor. Op die sewende dag was hy uiteindelik moeg daarvoor en het vir haar die antwoord gegee.
18Op die sewende dag van die fees, net voor sononder, het die mense van die dorp na Simson toe gekom en vir hom gesê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as ’n leeu?”
Hy sê toe vir hulle: “As julle nie by my vrou gaan neul het nie, sou julle nie die antwoord op die raaisel gekry het nie.” 19Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy is af na Askelon toe. Daar het hy 30 mans doodgemaak, hulle klere uitgetrek en dit vir die mans gegee wat die raaisel uitgelê het. Hy was so kwaad oor wat gebeur het dat hy terug is na sy ouerhuis toe om daar te gaan bly. 20Die vrou het toe getrou met die man wat Simson se strooijonker was.

Tans Gekies:

Rigters 14: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid