Rigters 13

13
Simson se geboorte
1Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle vir 40 jaar in die mag van die Filistyne oorgegee.
2Daar was ’n man uit Sora uit die stam van Dan met die naam Manoag. Hy en sy vrou was kinderloos omdat sy nie swanger kon raak nie. 3Daar het toe ’n Boodskapper van die Here aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy kon nog nooit swanger word nie, maar binnekort gaan jy wel swanger word en geboorte gee aan ’n seun. 4Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie. 5Soos ek gesê het, jy sal geboorte gee aan ’n seun. Sy hare mag nooit gesny word nie, want dié kind sal van sy geboorte af net vir God se diens opsy gesit wees. Dit sal hy wees wat die Israeliete uit die mag van die Filistyne red.”
6Die vrou het toe vir haar man gesê: “Daar het ’n Boodskapper van God by my aangekom. Hy het net soos ’n engel van God gelyk. Om die waarheid te sê, ek was nogal bang vir hom. Ek het nie vir hom gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het ook nie vir my gesê wat sy naam is nie. 7Maar hy het vir my gesê: ‘Jy is swanger en jy gaan geboorte gee aan ’n seun. Jy moet van nou af nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie, want die kind sal van sy geboorte tot sy dood aan God toegewy wees.’”
8Manoag het toe gebid en vir die Here gesê: “Here, stuur asseblief weer die man van God na ons toe sodat hy vir ons kan verduidelik hoe ons die kind moet grootmaak.”
9Die Here het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom waar sy alleen in die veld gesit het. Manoag was nie by haar nie. 10Daarom het sy vinnig na hom toe gehardloop en vir hom gesê: “Die man wat nou die dag met my gepraat het, is weer hier!”
11Manoag is toe dadelik saam met sy vrou daar weg. By die man aangekom, vra hy vir hom: “Is jy die man wat nou die dag met my vrou gepraat het?”
“Ja, dit is ek,” het hy geantwoord.
12Manoag vra toe vir hom: “As jou belofte waar word, hoe moet die kind optree?”
13Die Boodskapper van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet seker maak dat sy alles doen wat Ek vir haar gesê het om te doen. 14Sy mag nie druiwe eet of wyn en sterk drank drink nie. Sy mag ook nie enige verbode kos eet nie. Sy moet net doen wat Ek vir haar gesê het.”
15Manoag sê toe vir die Boodskapper van die Here: “Bly nog so ’n rukkie hier, dan maak ons vir jou ’n bokkie gaar.”
16Die Boodskapper van die Here sê toe vir Manoag: “Al bly ek nog ’n ruk hier, sal ek in elk geval nie jou kos eet nie. Gebruik eerder die bokkie as ’n brandoffer vir die Here om vir Hom dankie te sê.”
Manoag het nie besef dat dit die Here se Boodskapper is nie, 17en hy vra toe vir hom: “Wat is jou naam? Ek vra dit sodat ons aan jou eer kan bewys wanneer jou woorde waar word.”
18“Hoekom vra jy my Naam?” het die Boodskapper van die Here gevra. “In elk geval, al sê ek dit ook vir jou, sal jy dit nie verstaan nie.”
19Manoag het toe ’n bokkie saam met ’n bietjie graan as ’n offer op ’n klip neergesit. Toe doen die Here ’n wonder voor hulle oë. 20Terwyl die vlam van die altaar af opvlam die lug in, het die Boodskapper van die Here in die vlamme teruggegaan hemel toe. Toe Manoag en sy vrou dit sien, het hulle plat op die grond neergeval. 21Die Boodskapper het nie weer na hulle toe gekom nie, en Manoag het besef dat die Boodskapper ’n Engel van die Here was. 22Toe sê Manoag vir sy vrou: “Nou sal ons sekerlik doodgaan, want ons het God gesien!”
23Maar sy het hom geantwoord: “As die Here van plan was om ons dood te maak, sou Hy nooit ons offers aanvaar het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike goed laat sien het en vir ons sulke goeie nuus gebring het as dit sy plan was nie.”
24Toe haar seun gebore is, het sy hom Simson genoem. Die kind het ouer geword en die Here het hom geseën. 25Die Gees van die Here het in hom begin werk in die omgewing van Magane-Dan, tussen Sora en Estaol.

Tans Gekies:

Rigters 13: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid