Hebreërs 13:14-21

Hebreërs 13:14-21 DB

Ons eintlike plek waar ons gaan bly, is mos nie op aarde nie, maar ons sien uit na die blyplek wat aan die kom is. Laat ons God daarom gedurig prys en mooi dinge oor Hom sê omdat Jesus dit vir ons moontlik maak. Dít moet mense doen wat openlik sê dat hulle aan God behoort. Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak. Luister wat julle geestelike leiers sê en doen wat hulle vra. Hulle moet julle geestelik oppas en moet vir God kan verduidelik hoe hulle dit gedoen het. Moenie dit vir hulle swaar maak nie, want dit sal julle niks in die sak bring nie. Luister liewer na hulle en maak dit vir hulle lekker om geestelike leiers te wees. Bid vir ons. Niks pla ons nie, want ons probeer ons bes om altyd die regte pad te loop. Vra God veral of Hy my nie weer gou na julle toe sal laat kom nie. God het ons Here Jesus uit die dood laat opstaan. Deur die bloed van hierdie Jesus het daar ’n nuwe ooreenkoms tussen God en ons tot stand gekom. Die ooreenkoms sal vir ewig en altyd bly staan. Hierdie Jesus is ook die groot Herder wat na sy skape kyk. Mag hierdie God van vrede julle alles gee wat julle nodig het sodat julle kan doen wat Hy van julle verwag. Mag Hy deur Jesus in ons lewe dinge doen waarop Hy trots kan wees. Aan Jesus behoort die eer en grootheid vir ewig en altyd. Amen.