Hebreërs 1:1-5

Hebreërs 1:1-5 DB

Deur die jare heen het God nie stilgebly nie. Hy het gedurig met ons voorouers gepraat deur spesiale boodskappers te stuur en ook nog op baie ander maniere. Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun, aan wie God alles gegee het. Deur hierdie Seun het God alles gemaak wat bestaan. Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy eintlik vir God self en hoe wonderlik Hy is. Die Seun lyk net soos God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit. Nadat Hy gesorg het dat ons skoon gewas is van ons sondes, is Hy terug na die magtige en groot God in die hemel toe. Daar sit Hy nou op die ereplek langs God. God het Hom belangriker as enige ander hemelse wese gemaak. Daar is nie ’n hemelse wese wat in status of posisie naby die Seun kom nie. Hy is eenvoudig baie groter as hulle. Daar is nie enige hemelse wese oor wie God ooit die dinge gesê het wat Hy oor sy Seun gesê het nie. Vir wie van hulle het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; Ek is jou Vader van vandag af,” of: “Ek is sy Vader en Hy is my Seun”?