HEBREËRS 1:1-5
HEBREËRS 1:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vroeër het God dikwels en op baie maniere deur die profete met ons voorvaders gepraat. Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun. God het Hom bestem om die erfgenaam van alles te wees; trouens, Hy het deur Jesus Christus ook die wêreld en alles wat daarin is, gemaak. Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon. Jesus Christus is oneindig groter as die engele, net soos die erenaam van Seun wat Hy gekry het, baie heerliker is as dié van die engele. God het tog nooit vir enige engel gesê wat Hy vir Jesus gesê het nie: “Jy is my Seun. Vandag het Ek jou Vader geword.” Op ’n ander plek sê God weer: “Ek sal sy Vader wees, en Hy sal my Seun wees.”
HEBREËRS 1:1-5 Bybel vir almal (ABA)
God het lank gelede baie maal en op baie maniere gepraat met ons voorouers. Hy het verskillende profete na hulle toe gestuur. Maar nou aan die einde van hierdie tyd het God sy Seun gestuur. Só het God met ons gepraat. God het besluit dat die Seun alles moet erf, want God en die Seun het die hemel en die aarde gemaak. Die Seun wys dat God die Koning is, en die Seun is presies soos God. Wanneer die Seun sê dat iets moet gebeur, dan gebeur dit. Hy laat alles gebeur. Hy het die mense gereinig van hulle sondes, en Hy het gaan sit op die belangrikste plek langs die Koning in die hemel. Die Seun het belangriker geword as die engele. Daarom het God vir Hom 'n Naam gegee wat belangriker is as die naam van die engele. Die Seun van God is belangriker as die engele, want God het nooit vir een van die engele hierdie woorde gesê nie
HEBREËRS 1:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
NADAT God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy 'n voortrefliker naam geërf het as hulle. Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom 'n Vader wees, en Hy sal vir My 'n Seun wees?
HEBREËRS 1:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam. Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê
HEBREËRS 1:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep. Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese. Hy hou alles in stand deur sy magtige woord; en nadat Hy die reiniging van sondes bewerk het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogtes. Hy is hoog bo die engele verhef, net soos wat Hy 'n Naam geërf het wat uitnemender as hulle s'n is. Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” En ook: “Ek sal vir Hom 'n Vader wees, en Hy sal vir My 'n Seun wees.”
HEBREËRS 1:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
God, wat op baie tye en op verskillende maniere in die verlede tot die vaders gespreek het deur die profete, Hy het in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur sy Seun, wat Hy as erfgenaam van alle dinge aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het; Hy, wat die glans van sy heerlikheid en die uitdruklike beeld van sy wese was, en alles onderhou deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself ons sondes gereinig het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte; Hy is soveel beter gemaak as die engele, omdat Hy 'n voortrefliker naam as hulle verkry het. Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? En weer, Ek sal vir Hom 'n Vader wees, en Hy sal vir My 'n Seun wees?
HEBREËRS 1:1-5 Die Boodskap (DB)
Deur die jare heen het God nie stilgebly nie. Hy het gedurig met ons voorouers gepraat deur spesiale boodskappers te stuur en ook nog op baie ander maniere. Maar die tyd is nou ryp dat God sy mense weer naby aan Hom wil bring. Daarom het Hy met ons kom praat deur sy Seun, aan wie God alles gegee het. Deur hierdie Seun het God alles gemaak wat bestaan. Wanneer jy na die Seun kyk, sien jy eintlik vir God self en hoe wonderlik Hy is. Die Seun lyk net soos God. Hy sorg dat alles in die skepping bly soos dit behoort te wees, want Hy hoef net te praat en dan gebeur dit. Nadat Hy gesorg het dat ons skoon gewas is van ons sondes, is Hy terug na die magtige en groot God in die hemel toe. Daar sit Hy nou op die ereplek langs God. God het Hom belangriker as enige ander hemelse wese gemaak. Daar is nie ’n hemelse wese wat in status of posisie naby die Seun kom nie. Hy is eenvoudig baie groter as hulle. Daar is nie enige hemelse wese oor wie God ooit die dinge gesê het wat Hy oor sy Seun gesê het nie. Vir wie van hulle het Hy ooit gesê: “Jy is my Seun; Ek is jou Vader van vandag af,” of: “Ek is sy Vader en Hy is my Seun”?