Genesis 49:1-33

Genesis 49:1-33 DB

Jakob het al sy seuns laat kom en vir hulle gesê: “Kom staan hier om my. Ek wil iets oor elkeen van julle en julle toekoms sê. “Kom, Jakob se kinders, staan nader en luister goed. Luister mooi na julle pa, Israel. Ruben, jy is nou wel my eersgeborene, my steunpilaar en my eerstelingseun. Jy moes die vernaamste en die belangrikste onder jou broers gewees het. Jy is egter soos ’n waterstroom wat sy eie pad loop. Jy sal nie meer die belangrikste wees nie, want jy het by Bilha, my byvrou, geslaap en my diep seergemaak. “Simeon en Levi is broers. Hulle is mans van geweld en hulle doen die allerverskriklikste dinge. Met hulle geheime planne wil ek niks te doen hê nie. Ek wil nie deel van hulle vergaderings en grootpratery wees nie. In hulle verskriklike woede maak hulle mense dood en maak hulle diere moedswillig kreupel. Dit sal sleg met hulle gaan omdat hulle woede geen perke ken nie, omdat hulle wrede dinge aanvang. Ek sal hulle sonder enige grond tussen die ander stamme laat woon. “Juda, al jou broers sal jou eer. Jou vyande sal jou onderdanig wees. Jou broers sal in respek voor jou buig. Juda is soos ’n jong leeu, hy vernietig sy prooi en keer na sy lêplek terug. Soos ’n leeu krul hy hom in sy blyplek op en niemand sal dit naby sy skuilplek waag nie. Juda sal nog koning word en sy koningskap sal eeue lank duur. Uit jou sal iemand kom wat regeer. Van oral sal die volke kom om in eerbied voor hom te buig en hom te eer. Juda sal altyd volop hê. Aan sy wingerde sal die groot, ryp trosse swaar hang. Sy donkies sal sommer van die beste druiwe staan en eet en sy klere sal hy in rooi wyn was. Sy mooi oë sal donkerder as wyn wees en sy tande wit van al die melk. “Sebulon sal langs die see bly. Sy strand sal ’n hawe vir baie skepe wees en sy gebied sal tot by Sidon strek. “Issaskar is soos ’n donkie wat ’n lekker lêplek soek en hom by die skape se voerbak uitstrek. Vir Issaskar is sy woongebied mooi, ’n goeie plek om in te woon. Daarom het hy baie hard gewerk. Soos ’n slaaf het hy elke dag gewerk. “Dan sal ’n goeie leier vir sy mense wees en sy stam net so belangrik soos al die ander stamme. Mag Dan soos ’n slang by die grootpad wees wat die vyand se perde in die hakskeen byt sodat die ruiter agteroor val.” Op hierdie stadium het Jakob ’n skietgebed opgesê: “Here, ek wag dat U my kom red.” Toe het hy weer verder gegaan. “’n Bende rowers sal Gad aanval, maar hy sal hulle oorwin en agternasit. “Aser se land is vrugbaar en sy oeste ryk. Selfs ’n koning kan van sy lekkernye eet. “Naftali is soos ’n takbok, wild en vry, en sy lammetjies mooi. “Josef is ’n vrugbare boom wat by die fontein groei. Sy takke groei oor die muur. Sy vyande het hom met alle mag aangeval en hom met hulle pyle en boë agtervolg. Daar het egter niks van gekom nie, want hulle boë was te styf en hulle arms te bewerig. Jakob se sterk God het Josef bewaar. Israel se Herder en Beskermer was heeltyd by Josef. Josef, dit is my God wat jou so help. Dit is die almagtige God wat jou seën sodat dit altyd by jou sal reën, sodat daar genoeg water vir putte en fonteine sal wees en sodat jou vee en kinders sal vermeerder. Josef, jy sal die goeie dinge van die lewe ontvang: goeie koringoeste en groen weivelde, ryp gesaaides soos in die ou tyd, mooi en vrugbare heuwels. Mag al hierdie woorde waar word, want Josef is anders as sy broers en hy sal hulle lei. “Benjamin is soos ’n woedende wolf. In die môre vang hy sy prooi en in die aand deel hy dit met almal.” Dit was Jakob se laaste woorde aan sy seuns, die latere twaalf stamme van Israel. Op dié manier het hy elke seun van hom gegroet en geseën. Jakob het vir oulaas met al die seuns gepraat. “Ek is besig om te sterf,” het hy gesê. “As ek dood is, moet julle my by my mense in die familiegraf by Magpela, net oos van Mamre in die land Kanaän begrawe. Abraham het dit destyds van Efron, die Hetiet, gekoop omdat hy dit as ’n begraafplek wou gebruik het. “Abraham is daar begrawe en ook sy vrou Sara. Isak en sy vrou, Rebekka, lê ook daar en dit is ook die plek waar ek Lea begrawe het. “Julle weet mos waar dit is. Dit is die grot wat Abraham vroeër van Efron, die Hetiet gekoop het. Nou vra ek mooi dat julle my ook daar sal begrawe.” Toe Jakob klaar gepraat het, het hy weer gaan lê en die laaste asem uitgeblaas.

Video for Genesis 49:1-33