GENESIS 49:1-33

GENESIS 49:1-33 Bybel vir almal (ABA)

Jakob het sy seuns geroep en gesê: “Kom hier na my toe sodat ek vir julle kan vertel wat later met julle nageslag sal gebeur. Kom hier en luister, seuns van Jakob. Kom luister na julle pa Jakob. “Ruben, jy was my eerste kind. Jy is gebore toe ek jonk en sterk was, jy is my beste en belangrikste seun. Maar jy sal nie die belangrikste bly nie, want jy het 'n verkeerde ding gedoen. Jy was soos water wat oor die walle stroom. Jy het seks gehad met jou pa se vrou, jy het my bed onrein gemaak. “Simeon en Levi is broers wat dieselfde is. Hulle is lief om te baklei. Hulle kom bymekaar en maak planne, maar ek wil nie daar saam met hulle wees nie, want hulle het mense doodgemaak toe hulle kwaad was. Hulle het wrede dinge gedoen aan diere en hulle het die diere se hakskene afgesny omdat hulle lus was om dit te doen. Ek vervloek hulle omdat hulle so baie kwaad geword het. Hulle sal nie bymekaar kan bly nie, hulle sal woon tussen die ander mense, oral in die land Israel. “Juda, jou broers sal jou prys. Jy sal jou vyande oorwin en jy sal regeer oor jou broers. My seun Juda, jy is soos 'n jong leeu wat opstaan nadat hy 'n bok gevang het. Jy gaan lê soos 'n leeu wat gaan slaap, en almal is bang om jou te pla. Daar sal altyd 'n koning in jou nageslag wees. Hy sal regeer totdat Silo kom. Baie volke sal gehoorsaam wees aan hom. Hy sal die beste wingerdstokke hê en hy sal sy donkie daaraan vasmaak. Hy sal so baie wyn hê dat hy sy klere daarin kan was. Sy oë sal meer blink as wyn, sy tande sal witter wees as melk. “Sebulon sal naby die see woon, by die strand waar die bote is. Hy sal grond hê tot by die stad Sidon. “Issaskar is soos 'n sterk donkie wat tussen die saalsakke lê. Hy sal 'n goeie rusplek en 'n mooi land sien. Hy sal tevrede wees om hard te werk daarvoor, ja, hy sal soos 'n slaaf werk. “My seun Dan sal seker maak dat mense reg doen aan sy volk, want hulle is ook een van die stamme van Israel. Dan is soos 'n slang langs die pad. Hy is soos 'n horingslang wat die perd se hakskeen byt, sodat die man wat op die perd ry, agteroor val. “Here, Ek wag dat U my help. “'n Klomp rowers sal vir Gad aanval, maar hy sal hulle wegjaag, hy sal van agter kom en hy sal hulle aanval. “Aser sal goeie kos eet. Hy sal kos eet wat konings altyd eet. “Naftali is soos 'n takbok wat vry rondloop. Hy sal 'n mooi nageslag hê. “Josef is soos 'n jong vrugteboom by 'n fontein. Sy takke groei oor die muur. Baie mense sal hom aanval en hulle sal hom met pyl en boog skiet. Hulle sal hom laat swaarkry, maar hy sal hulle oorwin. Sy boog en sy arms is sterk, want die sterk God van Jakob help hom. Die God wat die Rots van Israel is, is sy Herder. Josef, die God van jou pa sal jou help, die Almagtige God sal jou seën. Hy sal jou seën met reën uit die hemel en met water uit die grond. Hy sal die ma's seën sodat hulle baie kinders kan kry en melk sal hê vir die kinders. My seun, ek seën jou meer as my ander kinders. Die seën sal aanhou so lank soos die berge en heuwels daar is. Met Josef sal dit goed gaan, want hy sal die leier van sy broers wees. “Benjamin is soos 'n wolf wat ander diere doodmaak. In die oggend en in die aand eet hy die diere wat hy gevang het en hy gee dit vir sy kleintjies.” Dit is die twaalf stamme van Israel, en dit is wat hulle pa vir hulle gesê het. Hy het hulle geseën, en hy het vir elke stam sy eie seën gegee. Jakob het vir sy seuns gesê: “Wanneer ek sterf, dan moet julle my gaan begrawe by my voorvaders in die grot op die grond wat aan Efron die Hetiet behoort het. Die grot en grond van Makpela is naby Mamre in Kanaän. Dit is die grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, gekoop het om daar 'n graf te hê. Abraham se familie het hom en sy vrou Sara daar begrawe, en ook vir Isak en sy vrou Rebekka, en vir Lea. Abraham het die grond en die grot daarop van die Hetiete gekoop.” Toe Jakob klaar met sy seuns gepraat het, het hy weer gaan lê en hy het gesterf.

GENESIS 49:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar. Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader! Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag! Opbruising soos van waters — jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim. Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld. Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink. Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel. Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is 'n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos 'n leeu en soos 'n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees. Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed. Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk. Sébulon sal woon by die strand van die see; en hy sal by die strand van die skepe wees, met die sykant na Sidon toe. Íssaskar is 'n sterkgebeende esel wat tussen die veekrale lê. Toe hy sien dat die rus goed en die land lieflik is, het hy sy skouer gebuig om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig. Dan sal aan sý volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel. Laat Dan 'n slang wees op die weg, 'n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval. Op u verlossing wag ek, HERE! Gad — 'n bende sal hom aanval, maar hý sal hulle aan die hakskeen gryp. Aser, sy spys is vet, en hý lewer koninklike lekkernye. Náftali is soos 'n wildsbok so vry, hy wat mooi woorde laat hoor. Josef is 'n jong vrugteboom, 'n jong vrugteboom by 'n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob — daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is, van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers. Benjamin is 'n wolf wat verskeur; in die môre eet hy sy prooi, en in die aand deel hy buit uit. Húlle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader aan hulle gesê het, en hy het hulle geseën; hy het hulle geseën, elkeen volgens sy besondere seën. Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is; in die spelonk wat op die stuk grond van Magpéla is, wat oos van Mamre lê, in die land Kanaän; die stuk grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, as eiendomsgraf gekoop het. Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe — die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het. Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.

GENESIS 49:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jakob het sy seuns laat roep en vir hulle gesê: “Kom hier! Ek wil vir julle sê wat met julle nageslagte sal gebeur: Kom na my toe, seuns van Jakob, luister na Israel, julle vader! “Ruben, jy is die oudste, toonbeeld van my krag, gebore toe ek in my fleur was; jy is die vernaamste, die sterkste. Maar jy sal nie langer die vernaamste wees nie, want soos stormwater was jy onstuimig: jy het jou vergryp aan 'n vrou van jou vader, jy het my bed verontreinig toe jy daarin geklim het. “Simeon en Levi is die een soos die ander: altyd gereed vir geweld. Aan hulle beraadslagings wil ek geen deel hê nie, in hulle vergaderings wil ek nie kom nie, want koelbloedig het hulle mense vermoor, roekeloos het hulle diere mishandel. Die straf van God sal hulle tref oor hulle geweldpleging, hulle onbeteuelde drif: hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob, versprei word tussen die stamme van Israel. “Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer: jy sal jou vyande onderwerp en jou broers sal voor jou buig. Jy is 'n leeu, my seun Juda, wat van die prooi af wegstap. Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos 'n leeu, soos 'n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie. Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp. Hy maak sy rydier vas aan 'n wingerdstok, sy donkie aan die beste wingerdstok. Sy klere is so rooi soos wyn, sy koningskleed so rooi soos druiwesap. Sy oë is donkerder as wyn, sy tande witter as melk. “Sebulon woon by die strand, by die strand waar skepe is, sy oë is op Sidon gerig. “Issaskar is 'n sterk pakdier, hy gaan lê tussen sy twee saalsakke. Hy sien 'n goeie woonplek, 'n mooi landstreek, en daarvoor onderwerp hy hom aan dwangarbeid, doen hy slawewerk. “Dan is een van die stamme van Israel, hy handhaaf die reg van sy volk. Dan is 'n slang op die pad, 'n horingslang op die grootpad, hy pik die perd aan sy hakskeen, die ruiter val agteroor. “Ek wag dat U red, Here! “Gad – 'n bende oorval hom, maar hy val hulle van agter af aan. “Aser eet ryk kos, hy eet koningskos. “Naftali is 'n takbok wat vry rondloop, hy het 'n mooi nageslag. “Josef is 'n boom wat vrugte dra, 'n vrugteboom by die fontein, sy takke groei oor die omheining. Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan, hulle is baie en hulle is sy vyande. Maar hulle boog misluk elke keer, hulle sterk arms bewe, want die magtige God van Jakob gryp in, die Rots van Israel beskerm hom. Die God van jou vader sal jou help, Josef, die Almagtige sal jou seën, Hy seën jou met reën uit die hemel, met water diep onder die grond uit, met moeders wat hulle kinders voed, met baie kinders. Die seëninge wat jou vader gegee het, is sterk, sterker as dié van die ou-ou berge, as die kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is. Daardie seëninge kom op Josef, op hom wat die leier van sy broers sal wees. “Benjamin is 'n wolf wat prooi verskeur: vroeg in die môre eet hy buit, in die aand vang hy sy prooi.” Dit is al twaalf die stamme van Israel. So het hulle pa met hulle gepraat toe hy hulle geseën het. Hy het hulle een vir een geseën, elkeen met 'n eie seën. Jakob het vir sy kinders gesê: “Wanneer ek sterf, moet julle my gaan begrawe in die familiegraf, in die grot op die grond van die Hetiet Efron. Dit is die Makpelagrot teenoor Mamre in Kanaän. Abraham het die stuk grond by die Hetiet Efron gekoop om 'n begraafplek te hê. Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe, Isak en sy vrou Rebekka is daar begrawe, en daar het ek vir Lea begrawe. Abraham het die grond en die grot daarop by die Hetiete gekoop.” Toe Jakob klaar gepraat het, het hy gaan lê, die asem uitgeblaas en gesterf.

GENESIS 49:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jakob het sy seuns laat roep en gesê: “Kom bymekaar, sodat ek julle kan inlig oor wat met julle gaan gebeur in die toekoms. “Kom bymekaar en luister, seuns van Jakob, luister na Israel, julle vader. Ruben, jy is my eersgeborene, my sterkte, die eersteling van my manlike krag – uitsonderlik in verhewenheid, uitsonderlik in krag. Onbeheerbaar soos water, sal jy nie voorrang geniet nie; want jy het op jou vader se beddens geklim, en dit toe verontreinig. Hy het op my slaapbank geklim. “ Simeon en Levi is broers – werktuie van geweld is hulle besnydenismesse. In hulle kring moet ek self nie kom nie; met hulle vergadering wil ek my nie vereenselwig nie. Want in hulle toorn het hulle mense vermoor, uit moedswilligheid het hulle beeste se hakskeensenings afgekap. Vervloek is hulle toorn, want dit is fel, en hulle gramskap, want dit is meedoënloos. Ek sal hulle uitmekaarjaag in Jakob, hulle verstrooi in Israel. “ Juda, jy, jou broers sal jou prys! Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; die seuns van jou vader sal diep voor jou buig. 'n Leeuwelpie is Juda; van die prooi, my seun, het jy opgestaan. Hy sak af, gaan lê soos 'n leeu, soos 'n leeuwyfie. Wie sal hom opjaag? Die septer sal nie van Juda wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort, kom, en volke aan hom gehoorsaam is. Aan 'n wingerdstok maak hy sy donkiehings vas, aan 'n edeldruif die vul van sy donkiemerrie. Hy was sy bokleed in wyn, en sy klere in die sap van druiwe. Die oë is donkerder as wyn, die tande witter as melk. “ Sebulon – aan die strand van die seë sal hy woon; ja, hy is by die strand waar die skepe is, met sy verste gebied langs Sidon. “ Issaskar is 'n bonkige donkie wat gaan lê tussen die saalsakke. Hy het gesien hoe goed die rusplek is, en hoe lieflik die land. Hy het sy skouer laat sak vir die las, hy het 'n dwangarbeider geword. “ Dan handhaaf die reg van sy volk as een van die stamme van Israel. Dan is 'n slang op die pad, 'n horingslang op die gebaande weg, wat die hakskene van 'n perd pik, en sy ruiter val agteroor. “ Op u verlossing wag ek, HERE. “ Gad – 'n bende val hom aan, maar hy val die hakskeen aan. “ Uit Aser kom dit: Ryk is sy kos, hy self gee lekkernye geskik vir 'n koning. “ Naftali is 'n vrygelate rooitakbokooi wat mooi lammers gee. “ 'n Vrugbare jong wynstok is Josef, 'n vrugbare jong wynstok langs 'n fontein; die ranke hang oor die putmuur. Hulle het hom uitgetart en op hom geskiet; die boogskutters het hom verwoed teengestaan. Maar sy boog het bestendig gebly, en sy voorarms was behendig, vanweë die hande van die Magtige van Jakob, vanweë die roem van die Herder, die Rots van Israel, vanweë die God van jou vader, sodat Hy jou sou help, ja, God, die Almagtige, sodat Hy jou sou seën met seëninge uit die hemel daarbo, seëninge van die •oerwater wat daar onder lê, seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge van jou Vader oortref die seëninge van die ewige berge, die begeerlikhede van die oeroue heuwels. Mag dit rus op die kop van Josef, op die hoof van die prins onder sy broers. “Benjamin is 'n wolf wat verskeur. In die oggend verslind hy geroofde goed, en teen die aand verdeel hy buit.” Hulle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader vir hulle gesê het toe hy hulle geseën het. Hy het hulle geseën, elkeen met sy gepaste seën. Jakob het vir hulle sy laaste opdragte gegee. Hy het vir hulle gesê: “Ek gaan met my mense verenig word. Begrawe my by my voorouers in die grot op die stuk grond van Efron, die Hetiet, in die grot wat op die stuk grond by Magpela is, oos van Mamre, in die land Kanaän. Abraham het die stuk grond by Efron, die Hetiet, as eiendom gekoop vir 'n begraafplek. Daar het hulle Abraham en sy vrou Sara begrawe. Daar het hulle Isak en sy vrou Rebekka begrawe. En daar het ek Lea begrawe. Die aankoop van die stuk veld en die grot wat daarop is, was van die Hetiete.” Toe Jakob klaar was met die opdragte aan sy seuns, het hy sy voete teruggetrek op die bed. Hy het sy asem uitgeblaas en is met sy mense verenig.

GENESIS 49:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Jakob het sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan vertel wat julle in die laaste dae sal oorkom. Kom bymekaar en luister, seuns van Jakob! en luister na julle vader Israel. Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die begin van my sterkte, die voortreflikheid van waardigheid en die voortreflikheid van krag. Onstabiel soos water, jy sal nie uitblink nie; omdat jy opgegaan het na jou vader se bed; dan het jy dit verontreinig; hy het opgegaan na my rusbank. Simeon en Levi is broers; instrumente van wreedheid is in hulle woonplekke. O my siel, kom nie in hulle verborgenheid nie; Wees nie verenig vir hulle vergadering nie, my eer, want in hul toorn het hulle 'n man gedood en in hul eie wil 'n muur afgegrawe. Vervloek is hulle toorn, want dit was hewig; en hulle toorn, want dit was wreed: Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel. Juda, jy is die een wat jou broers sal prys; jou hand sal in die nek van jou vyande wees; jou vader se kinders sal voor jou neerbuig. Juda is 'n leeumannetjie; van die buit af, my seun, het jy opgeklim; wie sal hom opwek? Die septer sal van Juda nie wyk nie, ook nie 'n wetgewer tussen sy voete uit totdat Silo kom nie; en vir hom sal die versameling van die volk wees. Hy bind sy vul aan die wingerdstok en sy eselvul aan die uitgesoekte wingerdstok; hy het sy klere in wyn gewas en sy klere in die bloed van druiwe. Sy oë sal rooi wees van wyn en sy tande wit van melk. Sébulon sal by die hawe van die see woon; en hy sal 'n hawe van skepe wees; en sy grondgebied moet tot by Sidon wees. Issaskar is 'n sterk esel wat tussen twee laste lê: En hy het gesien dat rus goed was en die land aangenaam was; en sy skouer gebuig om te dra en 'n dienskneg geword vir belasting. Dan sal sy volk oordeel soos een van die stamme van Israel. Dan sal 'n slang op die pad wees, 'n adder op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteruit val. Ek wag op U heil, o HERE. Gad, 'n bende sal hom oorwin, maar hy sal uiteindelik oorwin. Uit Aser sal sy brood vet word, en hy sal koninklike lekkernye gee. Naftali is 'n hind wat losgelaat is; hy het goeie woorde. Josef is 'n vrugbare tak, selfs 'n vrugteboom by 'n put; wie se takke oor die muur loop: Die boogskutters het hom baie bedroef en op hom geskiet en hom gehaat. Maar sy boog het in sterkte gebly, en die arms van sy hande is sterk gemaak deur die hande van die magtige God van Jakob; (vandaar is die herder, die klip van Israel:) Selfs deur die God van jou vader, wat jou sal help; en deur die Almagtige, wat jou sal seën met seëninge van die hemel daarbo, seëninge van die watervloed wat onder lê, seëninge van die borste en van die moederskoot. Die seëninge van jou vader het die oorhand gehad bo die seëninge van my voorgeslagte tot aan die uiterste grens van die ewige heuwels: dit sal wees op die hoof van Josef en op die skedel van die hoof van hom wat afgesonder was van sy broers. Benjamin verskeur soos 'n wolf: in die môre sal hy die prooi verslind, en in die nag sal hy buit verdeel. Al hierdie is die twaalf stamme van Israel; en dit is dit wat hulle vader met hulle gespreek en hulle geseën het; elkeen volgens sy seën het hy hulle geseën. En hy het hulle bevel gegee en vir hulle gesê: Ek moet by my volk versamel word; begrawe my by my vaders in die spelonk wat in die veld van Efron, die Hetiet, is, In die spelonk wat in die veld van Magpela is, wat voor Mamre lê, in die land Kanaän, wat Abraham saam met die stuk grond van Efron, die Hetiet, gekoop het as 'n besitting van 'n graf. Daar het hulle Abraham en Sara, sy vrou, begrawe; daar het hulle Isak en sy vrou Rebekka begrawe; en daar het ek Lea begrawe. Die aankoop van die stuk grond en van die spelonk wat daarin is, was van die kinders van Het. En toe Jakob klaar was met die bevele aan sy seuns, het hy sy voete in die bed bymekaargemaak en die gees opgegee en is by sy volk versamel.

GENESIS 49:1-33 Die Boodskap (DB)

Jakob het al sy seuns laat kom en vir hulle gesê: “Kom staan hier om my. Ek wil iets oor elkeen van julle en julle toekoms sê. “Kom, Jakob se kinders, staan nader en luister goed. Luister mooi na julle pa, Israel. Ruben, jy is nou wel my eersgeborene, my steunpilaar en my eerstelingseun. Jy moes die vernaamste en die belangrikste onder jou broers gewees het. Jy is egter soos ’n waterstroom wat sy eie pad loop. Jy sal nie meer die belangrikste wees nie, want jy het by Bilha, my byvrou, geslaap en my diep seergemaak. “Simeon en Levi is broers. Hulle is mans van geweld en hulle doen die allerverskriklikste dinge. Met hulle geheime planne wil ek niks te doen hê nie. Ek wil nie deel van hulle vergaderings en grootpratery wees nie. In hulle verskriklike woede maak hulle mense dood en maak hulle diere moedswillig kreupel. Dit sal sleg met hulle gaan omdat hulle woede geen perke ken nie, omdat hulle wrede dinge aanvang. Ek sal hulle sonder enige grond tussen die ander stamme laat woon. “Juda, al jou broers sal jou eer. Jou vyande sal jou onderdanig wees. Jou broers sal in respek voor jou buig. Juda is soos ’n jong leeu, hy vernietig sy prooi en keer na sy lêplek terug. Soos ’n leeu krul hy hom in sy blyplek op en niemand sal dit naby sy skuilplek waag nie. Juda sal nog koning word en sy koningskap sal eeue lank duur. Uit jou sal iemand kom wat regeer. Van oral sal die volke kom om in eerbied voor hom te buig en hom te eer. Juda sal altyd volop hê. Aan sy wingerde sal die groot, ryp trosse swaar hang. Sy donkies sal sommer van die beste druiwe staan en eet en sy klere sal hy in rooi wyn was. Sy mooi oë sal donkerder as wyn wees en sy tande wit van al die melk. “Sebulon sal langs die see bly. Sy strand sal ’n hawe vir baie skepe wees en sy gebied sal tot by Sidon strek. “Issaskar is soos ’n donkie wat ’n lekker lêplek soek en hom by die skape se voerbak uitstrek. Vir Issaskar is sy woongebied mooi, ’n goeie plek om in te woon. Daarom het hy baie hard gewerk. Soos ’n slaaf het hy elke dag gewerk. “Dan sal ’n goeie leier vir sy mense wees en sy stam net so belangrik soos al die ander stamme. Mag Dan soos ’n slang by die grootpad wees wat die vyand se perde in die hakskeen byt sodat die ruiter agteroor val.” Op hierdie stadium het Jakob ’n skietgebed opgesê: “Here, ek wag dat U my kom red.” Toe het hy weer verder gegaan. “’n Bende rowers sal Gad aanval, maar hy sal hulle oorwin en agternasit. “Aser se land is vrugbaar en sy oeste ryk. Selfs ’n koning kan van sy lekkernye eet. “Naftali is soos ’n takbok, wild en vry, en sy lammetjies mooi. “Josef is ’n vrugbare boom wat by die fontein groei. Sy takke groei oor die muur. Sy vyande het hom met alle mag aangeval en hom met hulle pyle en boë agtervolg. Daar het egter niks van gekom nie, want hulle boë was te styf en hulle arms te bewerig. Jakob se sterk God het Josef bewaar. Israel se Herder en Beskermer was heeltyd by Josef. Josef, dit is my God wat jou so help. Dit is die almagtige God wat jou seën sodat dit altyd by jou sal reën, sodat daar genoeg water vir putte en fonteine sal wees en sodat jou vee en kinders sal vermeerder. Josef, jy sal die goeie dinge van die lewe ontvang: goeie koringoeste en groen weivelde, ryp gesaaides soos in die ou tyd, mooi en vrugbare heuwels. Mag al hierdie woorde waar word, want Josef is anders as sy broers en hy sal hulle lei. “Benjamin is soos ’n woedende wolf. In die môre vang hy sy prooi en in die aand deel hy dit met almal.” Dit was Jakob se laaste woorde aan sy seuns, die latere twaalf stamme van Israel. Op dié manier het hy elke seun van hom gegroet en geseën. Jakob het vir oulaas met al die seuns gepraat. “Ek is besig om te sterf,” het hy gesê. “As ek dood is, moet julle my by my mense in die familiegraf by Magpela, net oos van Mamre in die land Kanaän begrawe. Abraham het dit destyds van Efron, die Hetiet, gekoop omdat hy dit as ’n begraafplek wou gebruik het. “Abraham is daar begrawe en ook sy vrou Sara. Isak en sy vrou, Rebekka, lê ook daar en dit is ook die plek waar ek Lea begrawe het. “Julle weet mos waar dit is. Dit is die grot wat Abraham vroeër van Efron, die Hetiet gekoop het. Nou vra ek mooi dat julle my ook daar sal begrawe.” Toe Jakob klaar gepraat het, het hy weer gaan lê en die laaste asem uitgeblaas.

GENESIS 49:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jakob roep toe al sy seuns bymekaar en sê: “Kom staan hier om my sodat ek julle kan vertel wat in die toekoms met julle sal gebeur. “Kom luister, seuns van Jakob; luister na Israel, julle vader. “Ruben, jy is my oudste seun, die kind van my kragtige jeug, die vernaamste en die sterkste. Jy is onstuimig soos die golwe van die see, maar jy sal nie langer die belangrikste wees nie. Want jy het by een van my vroue geslaap; jy het my in my bed onteer. “Simeon en Levi is een en dieselfde, mense van geweld en wapens. Ek wil ver van hulle af bly. Ek wil nooit deel hê aan hulle bose planne nie, hulle wat in woede mense vermoor het, diere vir die plesier vermink het. Vervloek is hulle woede, want dit is wreed. Daarom sal hulle nageslag verstrooi word, uitgestrooi oor die hele Israel heen. “Juda, jou broers sal jou prys. Jy sal jou vyande onderwerp. Jou broers sal voor jou buig. Juda is ’n jong leeu wat pas sy prooi verslind het. Soos ’n leeu rek hy uit en gaan lê, soos ’n leeumannetjie, en wie sal hom steur? Die mag sal nie van Juda weggeneem word nie, ook nie die heerskappy van sy nasate nie, totdat die een kom aan wie dit behoort, die een vir wie die nasies sal gehoorsaam. Hy maak sy donkie vas aan ’n druiwestok, die vul van sy donkie aan die beste wingerdstok. Hy was sy klere in wyn, sy kleed in druiwemos. Sy oë is donkerder as wyn en sy tande witter as melk. “Sebulon sal hom vestig aan die kus by die see en sal ’n hawe wees vir skepe. Sy grense sal tot by Sidon strek. “Issaskar is ’n sterk pakdier wat rus by die veekrale. Wanneer hy sien hoe goed die plek is, hoe mooi die landstreek, sal hy ’n las vrywillig dra en hom aan dwangarbeid onderwerp. “Dan sal regspreek oor sy mense as een van die stamme in Israel. Hy is ’n slang langs die pad, ’n giftige adder langs die voetpad wat pik na die hakskeen van perde en die ruiter agteroor laat val. Ek wag op u verlossing, o HERE! “Gad sal deur rowerbendes geplunder word, maar hy sal hulle aanval van agter af. “Aser sal voedsame kos produseer, voedsel geskik vir ’n koning. “Naftali is ’n bok wat vrygelaat is en pragtige lammers voortbring. “Josef is ’n vrugbare boom, ’n vrugbare boom by ’n fontein. Sy takke strek oor die muur. Hy word aangeval deur boogskutters wat na hom skiet en hom teister. Maar sy boog het sterk gebly, sy arms het meer krag gekry deur die Magtige Een van Jakob, die Herder, die Rots van Israel. Mag die God van ons vaders jou help; mag die Almagtige jou seën met die seëninge uit die hemel daarbo, seëninge van die aarde hieronder, en seëninge van borste en moederskoot. Mag die seëninge van jou pa meer wees as die seëninge van die ewige berge, as die oorvloed van die eeue oue heuwels. Hierdie seëninge sal op die kop van Josef kom, hy wat die leier is onder sy broers. “Benjamin is ’n wolf op soek na prooi. Hy verslind sy prooi in die oggend en in die aand verdeel hy die buit.” Dit is die twaalf stamme van Israel en dit is die seëninge waarmee Jakob sy twaalf seuns geseën het. Elkeen het ’n seën ontvang wat vir hom toepaslik was. Jakob het hulle opdrag gegee: “Ek gaan binnekort sterf. Begrawe my by my pa en oupa in die grot wat op die grond van Efron die Hetiet is. Dit is die grot van Makpela, naby Mamre in Kanaän, wat Abraham van Efron die Hetiet as ’n permanente begraafplek gekoop het. Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe. Daar is ook Isak en sy vrou Rebekka begrawe. En daar het ek vir Lea begrawe. Dit is die grot wat my oupa Abraham van die Hetiete gekoop het.” Toe Jakob klaar was met sy opdragte, het hy sy voete in sy bed opgetrek, sy laaste asem uitgeblaas en gesterf.