Op die derde dag het Josef sy broers laat haal en vir hulle gesê: “Doen wat ek vir julle sê en dan sal julle lewe. Dit beloof ek julle, want ek glo in God. As julle werklik eerlik en opreg is, laat een van julle hier bly. Ek sal hom as gyselaar in die tronk hou. Al julle ander kan dan huis toe gaan en kos vir julle honger gesinne gaan gee. Julle moet net met die jongste broer terugkom. Ek sal dan weet julle praat die waarheid en julle sal bly leef.” Almal het saamgestem. Toe het die broers vir mekaar gesê: “Ons kry ons verdiende loon. Daardie middag het ons Josef se groot angs gesien, maar ons het anderpad gekyk. Toe hy by ons gepleit het, het ons gemaak of ons hom nie hoor nie. Dit is waarom ons nou in hierdie groot ellende sit.” Ruben het toe gesê: “Ek het julle gewaarsku om nie die seun seer te maak nie, maar julle wou nie hoor nie. Nou het die uur van rekenskap gekom.” Wat die broers nie geweet het nie, was dat Josef alles verstaan het, want daar was ’n tolk tussen hom en hulle. Josef het eenkant toe gestap en begin huil. Toe hy weer kon praat, het hy Simeon gekies om agter te bly. Hulle het hom voor die ander gevat en in die tronk gesit. Josef het sy mense aangesê om sy broers se houers tot bo toe vol te maak met graan, elkeen se geld in sy sak terug te sit en ook vir elkeen padkos saam te gee. Alles is presies so gedoen. Toe het die broers die sakke op hulle donkies gelaai en hulle is daar weg. Teen die aand se kant toe hulle kamp opslaan, wou een broer voer vir sy esel gee. Toe hy sy sak oopmaak, sien hy sy geld bo in die sak. “Kom kyk hier,” het hy uitgeroep, “iemand het my geld in my sak teruggesit!” Hulle moed het in hulle skoene gesak en hulle het vir mekaar gevra: “Wat is God besig om met ons te doen?” Hulle het weer in Kanaän aangekom en hulle pa, Jakob, gaan groet. Hulle het alles vertel en gesê: “Die man wat die hoof is van die land was baie kortaf met ons. Hy het ons sommer van spioenasie beskuldig. Ons het mooi probeer verduidelik dat ons twaalf broers eerlike mense is wat almal dieselfde pa het, dat die een by Pa in Kanaän is en die ander een dood is, maar dit het niks gehelp nie. Die man het net aangehou dat hy ons eers sal glo as Simeon agterbly terwyl die res van ons kos vir ons families vat. En toe het die man gesê: ‘Eers as julle saam met julle jongste broer na my toe terugkom, sal ek glo dat julle eerlike mense is en nie spioene nie. Dan sal ek Simeon vir julle teruggee en julle kan oral in die land rondgaan.’” Toe die broers hulle sakke met die koring wou leegmaak, sien elkeen sy geld bo-op lê. Die broers en hulle pa, Jakob, was verslae. Jakob het vir hulle gesê: “Ek gaan weer van ’n kind beroof word. Eers is Josef dood, nou is dit Simeon wat ek dalk nooit weer sal sien nie, en dan wil julle ook nog vir Benjamin van my af wegvat. Hoekom moet sulke dinge altyd met my gebeur?” Ruben het Jakob probeer gerusstel: “Pa kan my twee seuns vat en doodmaak as ek Benjamin nie veilig terugbring nie. Ek sal vir hom sorg en hom veilig na Pa toe terugbring.” Jakob het egter geantwoord: “Nee, Benjamin gaan nie saam met jou nie. Sy broer is dood en hy het alleen agtergebly. As daar nou met hom iets op die pad moet gebeur, sal ek op my oudag in die allerbitterste hartseer sterf.”
Lees Genesis 42
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 42:18-38
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's