GENESIS 42:18-38
GENESIS 42:18-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees God! As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg, en bring julle jongste broer na my toe — dan sal julle woorde waar gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen. Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie — daarom kom hierdie benoudheid oor ons. Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis. En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was 'n tolk tussen hulle. Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë gebind. Daarop gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te gee. En so is aan hulle gedoen. En hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek. En toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee, sien hy sy geld; en kyk, dit was sommer bo in sy sak! En hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat het God ons nou aangedoen? En hulle het by hul vader Jakob in die land Kanaän gekom en hom alles vertel wat hulle wedervaar het en gesê: Die man, die heer van die land, het ons hard aangespreek en ons vir spioene van die land gehou. Maar ons het aan hom gesê: Ons is eerlike mense, ons is geen spioene nie. Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is daar nie meer nie, en die jongste is nou by ons vader in die land Kanaän. Daarop het die man, die heer van die land, aan ons gesê: Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is — laat een van julle broers by my bly; en neem vir die honger van julle huisgesinne en trek weg, en bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen spioene is nie. As julle eerlike mense is, sal ek julle broer aan julle teruggee, en julle mag in die land rondtrek. En toe hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondeltjie geld daar in sy sak! En toe hulle hul bondeltjies geld sien, hulle en hul vader, was hulle bevrees. Daarop sê Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders. Josef is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my! Toe spreek Ruben sy vader aan en sê: U kan my twee seuns doodmaak as ek hom nie na u terugbring nie. Vertrou hom aan my toe, en ék sal hom na u terugbring. Maar hy sê: My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; en as 'n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.
GENESIS 42:18-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op die derde dag het Josef vir hulle gesê: “As julle dit doen, sal julle leef. Vir God het ek ook ontsag. As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die plek waar julle bewaak word. Maar julle, gaan bring graan weg vir die honger mense by julle huise. Julle moet julle jongste broer na my toe bring, sodat julle woorde as betroubaar bewys word en julle nie sterf nie.” Hulle het toe so gemaak. Hulle het vir mekaar gesê: “Wel, ons is beslis skuldig oor ons broer wie se sielenood ons gesien het toe hy ons om genade gesmeek, maar ons nie geluister het nie. Daarom het hierdie nood ons nou oorval.” Ruben het gereageer en vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie 'n misstap teen die kind begaan nie’? Maar julle het nie geluister nie. Ook sy bloed, kyk, dit word nou geëis!” Hulle het self nie besef dat Josef verstaan nie, want daar is tussen hulle getolk. Hy het van hulle af weggedraai en gehuil. Toe hy na hulle terugkom, het hy met hulle gepraat en vir Simeon tussen hulle uitgehaal en hom voor hulle oë vasgebind. Josef het toe opdrag gegee dat hulle houers vol graan gemaak moet word, dat elkeen se silwer in sy sak teruggeplaas, en dat daar vir hulle padkos vir die reis gegee moet word. Hy het dit so vir hulle gedoen. Hulle het toe hulle graan op hulle donkies gelaai en daarvandaan vertrek. Een het sy sak oopgemaak om vir sy donkie voer te gee by die oornagplek. Hy sien toe sy silwer – en kyk, dit was bo in sy sak. Hy sê toe vir sy broers: “My silwer is teruggesit! Ja, hier is dit in my sak.” Hulle was verslae, en verskrik het hulle na mekaar gedraai: “Wat is dit wat God aan ons doen?” Toe hulle by Jakob, hulle vader, in die land Kanaän aankom, het hulle hom alles vertel wat hulle oorgekom het: “Die man, die heer van die land, het ons streng aangespreek. Hy het ons uitgemaak vir mense wat op die land spioeneer. Maar ons het vir hom gesê, ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie. Ons was twaalf broers, die seuns van ons vader; die een is nie meer daar nie, en die jongste is vandag by ons vader in die land Kanaän.’ Die man, die heer van die land, het egter vir ons gesê, ‘Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is: Laat bly een van julle broers by my. En vir die honger by julle huise – neem graan en gaan! Bring julle jongste broer na my toe, sodat ek kan weet dat julle nie spioene is nie, maar dat julle eerlike mense is. Julle broer sal ek dan vir julle gee, en dan mag julle deur die land trek.’ ” En toe, terwyl hulle besig is om hulle sakke leeg te maak, daar is elkeen se toegebinde silwer in sy sak! Toe hulle hulle toegebinde silwer sien, hulle en hulle vader, was hulle beangs. Jakob, hulle vader, het vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos! Josef is nie meer daar nie, en Simeon is nie meer daar nie, en Benjamin wil julle neem. Alles is teen my!” Ruben sê toe vir sy vader: “Pa kan maar my twee seuns doodmaak as ek hom nie na pa terugbring nie. Laat hom in my sorg; ek sal hom persoonlik na pa terugbring.” Maar hy antwoord: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en net hy alleen het oorgebly. As 'n noodlottige ramp hom tref op die pad waarop julle gaan, sal julle my grys hare met verdriet in die •doderyk laat afgaan.”
GENESIS 42:18-38 Bybel vir almal (ABA)
Op die derde dag het Josef vir hulle gesê: “Ek dien God. As julle doen wat ek sê, dan sal ek julle nie doodmaak nie. As julle eerlike mense is, dan moet een van julle broers hier in die tronk bly. Julle ander kan dan gaan en vir julle honger mense by die huis koring bring. Julle moet daarna julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en dan sal julle nie sterf nie.” Die broers het dit toe gedoen. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons is skuldig, want ons het 'n baie verkeerde ding aan ons broer gedoen. Ons het gesien dat hy baie bang was, en hy het ons gesoebat om hom te help, maar ons het nie geluister nie. Daarom het ons nou hierdie probleme gekry.” Ruben het vir hulle gesê: “Ek het vir julle gesê julle moet dit nie met die kind doen nie, maar julle het nie geluister nie. Dit is ons skuld dat hy dood is, daarom straf God ons nou.” Hulle het nie besef dat Josef alles verstaan wat hulle vir mekaar sê nie, want wanneer hulle met Josef gepraat het, dan het iemand vir hulle en Josef getolk. Josef het uitgegaan en hy het gaan huil. Toe het hy teruggekom na hulle toe en hy het met hulle gepraat. Hy het vir Simeon laat vasbind terwyl hulle gekyk het. Josef het vir sy slawe gesê om sy broers se sakke vol koring te maak, en om hulle geld terug te sit in hulle sakke. Josef het ook gesê sy slawe moet vir sy broers padkos gee. Josef se broers het hulle koring op hulle donkies gelaai en teruggegaan. Hulle het by 'n plek gekom waar hulle daardie aand wou slaap, en een van die broers het sy sak oopgemaak om vir sy donkie kos te gee. Toe sien hy sy geld. Dit was bo in die sak. Hy sê toe vir sy broers: “Hulle het my geld teruggesit. Hier is dit in my sak.” Die broers het baie groot geskrik. Toe vra hulle vir mekaar: “Wat het God nou aan ons gedoen?” Toe hulle by hulle pa Jakob in Kanaän kom, het hulle vir hom vertel wat alles met hulle gebeur het. Hulle het gesê: “Die man wat die hoof van die land is, het kwaai met ons gepraat en hy het ons toegesluit in die tronk. Hy het gesê ons is spioene in sy land. Ons het vir hom gesê ons is eerlike mense, ons is nie spioene nie. Ons het vir hom gesê ons was twaalf broers, ons was almal seuns van dieselfde pa, een broer is dood en die jongste broer is by Pa in Kanaän. Die hoof van die land het toe vir ons gesê: ‘Ek sal uitvind of julle eerlike mense is. Julle moet een van julle broers by my laat bly. Neem dan kos vir julle honger mense by die huis en gaan terug. Maar julle moet julle jongste broer na my toe bring sodat ek kan weet julle is nie spioene nie, julle is eerlike mense. Dan sal ek julle broer teruggee, en dan mag julle oral in die land rondgaan.’ ” Jakob se seuns het hulle sakke leeggemaak, en elkeen kry toe sy beursie en sy geld in sy sak. Toe hulle dit sien, het hulle en hulle pa baie bang geword. Hulle pa Jakob het vir hulle gesê: “Julle vat al my kinders! Josef is dood en Simeon is nie meer hier nie. Nou wil julle vir Benjamin ook vat. Julle maak dit baie swaar vir my.” Ruben sê toe vir sy pa: “Pa mag my twee seuns doodmaak as ek nie vir Benjamin na Pa toe terugbring nie. Pa moet my glo. Laat Benjamin saamgaan met my, en ek belowe dat ek hom vir Pa sal terugbring.” Maar Jakob het gesê: “My seun Benjamin sal nie saam met julle gaan nie, want sy broer is dood en hy het alleen oorgebly. As daar iets sleg met hom op die pad gebeur, dan sal ek, 'n ou man, van hartseer sterf, en dan sal dit julle skuld wees.”
GENESIS 42:18-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
en op die derde dag sê hy toe vir hulle: “Ek dien God! Op hierdie voorwaarde kan julle bly lewe: as julle eerlike mense is, moet een van julle in die tronk agterbly. Julle ander moet dan graan wegbring vir julle honger huismense. Dan moet julle julle jongste broer na my toe bring. Dan sal ek julle glo, en julle sal nie sterf nie.” Hulle het ingestem en vir mekaar gesê: “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het. Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie. Nou sit ons met dieselfde angs.” Toe sê Ruben vir hulle: “Ek het julle mos gesê julle moet julle nie aan die kind vergryp nie. Maar julle wou nie luister nie, en daarom word sy dood nou op ons gewreek.” Omdat Josef deur 'n tolk met hulle gepraat het, het hulle nie besef dat hy verstaan wat hulle sê nie. Josef het van hulle af weggegaan en gaan huil. Daarna het hy teruggekom na hulle toe en weer met hulle gepraat. Toe het hy vir Simeon gevat en hom voor hulle oë in die tronk gesit. Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol koring gemaak moet word en dat elkeen se geld in die sakke teruggesit moet word. Daar moes ook padkos vir hulle gegee word. Alles is so gedoen vir hulle. Toe laai hulle die graan op hulle donkies en vertrek van daar af. Die aand toe een van die broers sy sak oopmaak om sy donkie te voer, sien hy die geld bo in die sak. Toe sê hy vir sy broers: “Kom kyk hier! My geld is teruggesit in die sak.” Hulle was radeloos, en doodgeskrik sê hulle vir mekaar: “Wat het God ons nou aangedoen?” Toe hulle by hulle pa Jakob in Kanaän aankom, het hulle alles wat met hulle gebeur het, vir hom vertel: “Die man in bevel van daardie land het ons bars aangespreek en ons vir spioene gehou, maar ons het vir hom gesê dat ons eerlike mense is en nie spioene nie. Ons was twaalf broers en ons het dieselfde pa. Die een broer leef nie meer nie, en die jongste is by Pa in Kanaän. Maar die man in bevel van daardie land het vir ons gesê: Hieraan sal ek weet of julle eerlike mense is: een van julle moet hier by my bly. Julle ander moet die kos vir julle honger mense gaan wegbring. Bring dan julle jongste broer na my toe. Dan sal ek weet julle is nie spioene nie maar eerlike mense. Dan sal ek julle broer teruggee en mag julle vry rondbeweeg in die land.” Toe die seuns hulle graansakke leegmaak, kry elkeen sy beursie met geld in sy sak. Toe hulle dit sien, was hulle en hulle pa baie bang, en het hy vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos. Josef leef nie meer nie, Simeon is nie meer hier nie, en nou wil julle nog vir Benjamin ook wegvat! En ek ly daaronder.” Maar Ruben het vir sy pa gesê: “Pa kan albei my seuns om die lewe bring as ek nie vir Benjamin na Pa toe terugbring nie. Maak my verantwoordelik vir hom, en ek sal hom vir Pa terugbesorg.” Jakob het net gesê: “Sy broer is dood. My seun gaan nie saam met julle nie. Hy is al wat vir my oor is. As iets hom op die pad moet oorkom, sal ek deur julle toedoen in my ouderdom van verdriet sterf.”
GENESIS 42:18-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Josef vir hulle op die derde dag: Doen dit en leef; want ek vrees God: As julle ware manne is, laat een van julle broers gevange wees in die huis van julle gevangenis; gaan, dra koring vir die hongersnood van julle huise. Maar bring jou jongste broer na my toe; so sal julle woorde bekragtig word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen. En hulle het vir mekaar gesê: Ons is waarlik skuldig aan ons broer, deurdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het, en ons het nie geluister nie; daarom het hierdie benoudheid oor ons gekom. En Ruben het hulle geantwoord en gesê: Ek het nie met julle gespreek en gesê: Moenie teen die kind sondig nie; en julle wou nie hoor nie? daarom, kyk, ook sy bloed word geëis. En hulle het nie geweet dat Josef hulle verstaan nie; want hy het met hulle gespreek deur 'n tolk. En hy het hom van hulle af weggedraai en geween; en weer na hulle teruggekeer en met hulle gespreek en Simeon van hulle geneem en hom voor hulle oë geboei. Toe het Josef bevel gegee om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld in sy sak terug te gee en vir hulle padkos te gee; en so het hy met hulle gedoen. En hulle het op hul esels die koring gelaai en daarvandaan weggegaan. En toe een van hulle sy sak oopmaak om sy esel voer in die herberg te gee, het hy sy geld bekyk; want kyk, dit was in sy sak se mond. Toe sê hy aan sy broers: My geld is terugbetaal; en kyk, dit is selfs in my sak; En hulle het by hulle vader Jakob gekom in die land Kanaän en hom alles vertel wat met hulle gebeur het; sê, Die man, wat die heer van die land is, het hard met ons gepraat en ons as spioene van die land geneem. En ons het vir hom gesê: Ons is ware manne; ons is geen spioene nie: Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; een is nie, en die jongste is vandag by ons vader in die land Kanaän. En die man, die heer van die land, het vir ons gesê: Hieraan sal ek weet dat julle ware manne is; Laat een van julle broers hier by my agter en neem voedsel vir die hongersnood van julle huisgesinne, en gaan weg. En bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen spioene is nie, maar dat julle ware manne is; so sal Ek julle, julle broer, verlos, en julle sal handel dryf in die land. En terwyl hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondel geld in sy sak; en toe hulle sowel as hul vader die bondels geld sien, het hulle bang geword. Toe sê hulle vader Jakob vir hulle: Ek het julle van my kinders beroof; Josef is nie, en Símeon is nie, en julle sal Benjamin wegneem; al hierdie dinge is teen my. En Ruben het met sy vader gespreek en gesê: Maak my twee seuns dood as ek hom nie na jou toe bring nie; gee hom in my hand, en ek sal hom na jou terugbring. Toe sê hy: My seun mag nie saam met jou aftrek nie; want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; as onheil hom tref op die pad waarop julle gaan, dan sal julle my grys hare met droefheid na die graf afbring.
GENESIS 42:18-38 Die Boodskap (DB)
Op die derde dag het Josef sy broers laat haal en vir hulle gesê: “Doen wat ek vir julle sê en dan sal julle lewe. Dit beloof ek julle, want ek glo in God. As julle werklik eerlik en opreg is, laat een van julle hier bly. Ek sal hom as gyselaar in die tronk hou. Al julle ander kan dan huis toe gaan en kos vir julle honger gesinne gaan gee. Julle moet net met die jongste broer terugkom. Ek sal dan weet julle praat die waarheid en julle sal bly leef.” Almal het saamgestem. Toe het die broers vir mekaar gesê: “Ons kry ons verdiende loon. Daardie middag het ons Josef se groot angs gesien, maar ons het anderpad gekyk. Toe hy by ons gepleit het, het ons gemaak of ons hom nie hoor nie. Dit is waarom ons nou in hierdie groot ellende sit.” Ruben het toe gesê: “Ek het julle gewaarsku om nie die seun seer te maak nie, maar julle wou nie hoor nie. Nou het die uur van rekenskap gekom.” Wat die broers nie geweet het nie, was dat Josef alles verstaan het, want daar was ’n tolk tussen hom en hulle. Josef het eenkant toe gestap en begin huil. Toe hy weer kon praat, het hy Simeon gekies om agter te bly. Hulle het hom voor die ander gevat en in die tronk gesit. Josef het sy mense aangesê om sy broers se houers tot bo toe vol te maak met graan, elkeen se geld in sy sak terug te sit en ook vir elkeen padkos saam te gee. Alles is presies so gedoen. Toe het die broers die sakke op hulle donkies gelaai en hulle is daar weg. Teen die aand se kant toe hulle kamp opslaan, wou een broer voer vir sy esel gee. Toe hy sy sak oopmaak, sien hy sy geld bo in die sak. “Kom kyk hier,” het hy uitgeroep, “iemand het my geld in my sak teruggesit!” Hulle moed het in hulle skoene gesak en hulle het vir mekaar gevra: “Wat is God besig om met ons te doen?” Hulle het weer in Kanaän aangekom en hulle pa, Jakob, gaan groet. Hulle het alles vertel en gesê: “Die man wat die hoof is van die land was baie kortaf met ons. Hy het ons sommer van spioenasie beskuldig. Ons het mooi probeer verduidelik dat ons twaalf broers eerlike mense is wat almal dieselfde pa het, dat die een by Pa in Kanaän is en die ander een dood is, maar dit het niks gehelp nie. Die man het net aangehou dat hy ons eers sal glo as Simeon agterbly terwyl die res van ons kos vir ons families vat. En toe het die man gesê: ‘Eers as julle saam met julle jongste broer na my toe terugkom, sal ek glo dat julle eerlike mense is en nie spioene nie. Dan sal ek Simeon vir julle teruggee en julle kan oral in die land rondgaan.’” Toe die broers hulle sakke met die koring wou leegmaak, sien elkeen sy geld bo-op lê. Die broers en hulle pa, Jakob, was verslae. Jakob het vir hulle gesê: “Ek gaan weer van ’n kind beroof word. Eers is Josef dood, nou is dit Simeon wat ek dalk nooit weer sal sien nie, en dan wil julle ook nog vir Benjamin van my af wegvat. Hoekom moet sulke dinge altyd met my gebeur?” Ruben het Jakob probeer gerusstel: “Pa kan my twee seuns vat en doodmaak as ek Benjamin nie veilig terugbring nie. Ek sal vir hom sorg en hom veilig na Pa toe terugbring.” Jakob het egter geantwoord: “Nee, Benjamin gaan nie saam met jou nie. Sy broer is dood en hy het alleen agtergebly. As daar nou met hom iets op die pad moet gebeur, sal ek op my oudag in die allerbitterste hartseer sterf.”
GENESIS 42:18-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op die derde dag sê Josef vir hulle: “Ek dien God. As julle maak soos ek sê, sal julle lewe. As julle werklik eerlike mense is, sal een van julle in die tronk agterbly. Die ander kan egter huis toe gaan met die kos vir julle gesinne. Maar julle moet julle jongste broer volgende keer saambring. So sal ek weet of julle die waarheid praat. As julle dit doen, sal ek julle lewens spaar.” Hulle het dié reëling aanvaar. Die broers het toe onder mekaar gepraat: “Dit het alles gebeur oor wat ons lank gelede aan Josef gedoen het. Ons het sy angs en benoudheid gesien en gehoor hoe hy gesmeek het, maar ons het ons doof gehou. Dis hoekom hierdie moeilikheid nou oor ons kom.” “Het ek nie vir julle gesê om dit nie te doen nie?” sê Ruben. “Maar julle wou mos nie luister nie. Nou gaan ons almal sterf omdat ons hom vermoor het.” Hulle het natuurlik nie geweet Josef verstaan alles wat hulle gesê het nie, want hy het deur ’n tolk met hulle gepraat. Josef het dadelik omgedraai weg van hulle af, want hy kon nie sy trane bedwing nie. Hy het weer na hulle toe teruggegaan en voor hulle oë vir Simeon laat boei en tronk toe gestuur. Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol graan gemaak word en dat die geld wat hulle betaal het bo-op in die sakke teruggesit word. Hy het ook vir hulle padkos vir die pad gegee. Dit is presies net so gedoen. Daarop het hulle die graan op die donkies gelaai en die tog terug huis toe aangepak. Toe een van hulle sy sak oopmaak om kos vir sy donkies uit te haal, kry hy sy geld bo in die sak. “Haai! Kom kyk hier!” skree hy vir sy broers. “My geld is hier bo-op in my sak!” Hulle het hulle doodgeskrik en vir mekaar gesê: “Wat het God met ons laat gebeur?” Toe hulle in die land Kanaän by Jakob, hulle pa, aankom, het hulle hom alles vertel wat gebeur het. “Die man in beheer van die land het bars met ons gepraat,” vertel hulle. “Hy het ons vir spioene aangesien, maar ons het gesê: ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie. Ons is twaalf broers, die seuns van een pa. Een van ons is dood en die jongste is by ons pa in die land Kanaän.’ Daarop sê die belangrike man vir ons: ‘Om te kan vasstel of julle eerlik is, moet een van julle hier by my agterbly. Neem nou die graan vir julle honger gesinne en gaan huis toe. Maar julle moet julle jongste broer saambring hier na my toe. Dan sal ek weet dat julle eerlik is en nie spioene nie. Ek sal dan julle broer uit die tronk vrylaat en julle mag vrylik rondbeweeg in die land.’” Hulle het die sakke oopgemaak en kyk! die geld wat elkeen vir die graan betaal het, lê bo in sy sak! Hulle en hulle pa was vreesbevange. Jakob het uitgeroep: “Julle beroof my van my kinders! Josef leef nie meer nie en Simeon is ook weg. Nou wil julle Benjamin ook wegneem. Alles is teen my!” Ruben sê toe vir sy pa: “Pa kan al twee my seuns doodmaak as ek Benjamin nie na Pa toe terugbring nie. Laat hom in my hande en ek sal hom aan Pa terugbesorg.” Maar Jakob sê: “My seun sal beslis nie met julle saamgaan nie. Sy broer Josef is nou al dood en hy is al een wat oor is van sy ma se kinders. As hy op die pad iets oorkom, sal julle my in my ouderdom met smart in die graf laat gaan.”