Op die derde dag het Josef vir hulle gesê: “As julle dit doen, sal julle leef. Vir God het ek ook ontsag. As julle eerlik is, laat een van julle broers gevange bly in die plek waar julle bewaak word. Maar julle, gaan bring graan weg vir die honger mense by julle huise. Julle moet julle jongste broer na my toe bring, sodat julle woorde as betroubaar bewys word en julle nie sterf nie.”
Hulle het toe so gemaak. Hulle het vir mekaar gesê: “Wel, ons is beslis skuldig oor ons broer wie se sielenood ons gesien het toe hy ons om genade gesmeek, maar ons nie geluister het nie. Daarom het hierdie nood ons nou oorval.” Ruben het gereageer en vir hulle gesê: “Het ek nie vir julle gesê, ‘Moenie 'n misstap teen die kind begaan nie’? Maar julle het nie geluister nie. Ook sy bloed, kyk, dit word nou geëis!” Hulle het self nie besef dat Josef verstaan nie, want daar is tussen hulle getolk. Hy het van hulle af weggedraai en gehuil. Toe hy na hulle terugkom, het hy met hulle gepraat en vir Simeon tussen hulle uitgehaal en hom voor hulle oë vasgebind.
Josef het toe opdrag gegee dat hulle houers vol graan gemaak moet word, dat elkeen se silwer in sy sak teruggeplaas, en dat daar vir hulle padkos vir die reis gegee moet word. Hy het dit so vir hulle gedoen. Hulle het toe hulle graan op hulle donkies gelaai en daarvandaan vertrek.
Een het sy sak oopgemaak om vir sy donkie voer te gee by die oornagplek. Hy sien toe sy silwer – en kyk, dit was bo in sy sak. Hy sê toe vir sy broers: “My silwer is teruggesit! Ja, hier is dit in my sak.” Hulle was verslae, en verskrik het hulle na mekaar gedraai: “Wat is dit wat God aan ons doen?”
Toe hulle by Jakob, hulle vader, in die land Kanaän aankom, het hulle hom alles vertel wat hulle oorgekom het: “Die man, die heer van die land, het ons streng aangespreek. Hy het ons uitgemaak vir mense wat op die land spioeneer. Maar ons het vir hom gesê, ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie. Ons was twaalf broers, die seuns van ons vader; die een is nie meer daar nie, en die jongste is vandag by ons vader in die land Kanaän.’ Die man, die heer van die land, het egter vir ons gesê, ‘Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is: Laat bly een van julle broers by my. En vir die honger by julle huise – neem graan en gaan! Bring julle jongste broer na my toe, sodat ek kan weet dat julle nie spioene is nie, maar dat julle eerlike mense is. Julle broer sal ek dan vir julle gee, en dan mag julle deur die land trek.’ ”
En toe, terwyl hulle besig is om hulle sakke leeg te maak, daar is elkeen se toegebinde silwer in sy sak! Toe hulle hulle toegebinde silwer sien, hulle en hulle vader, was hulle beangs. Jakob, hulle vader, het vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos! Josef is nie meer daar nie, en Simeon is nie meer daar nie, en Benjamin wil julle neem. Alles is teen my!”
Ruben sê toe vir sy vader: “Pa kan maar my twee seuns doodmaak as ek hom nie na pa terugbring nie. Laat hom in my sorg; ek sal hom persoonlik na pa terugbring.” Maar hy antwoord: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en net hy alleen het oorgebly. As 'n noodlottige ramp hom tref op die pad waarop julle gaan, sal julle my grys hare met verdriet in die •doderyk laat afgaan.”