Genesis 39:6-20

Genesis 39:6-20 DB

Josef was in beheer van net mooi alles in die huis van Potifar. Al wat Potifar nog gedoen het, was om die kos te eet wat vir hom voorgesit is. Josef was goed gebou en aantreklik en Potifar se vrou het hom raakgesien. Sy het sommer reguit vir hom gesê: “Kom slaap by my.” Josef het geweier en gesê: “U man het alles in hierdie huis aan my toevertrou. Hy doen niks as hy my nie eers vra nie. In hierdie huis het ek die meeste mag en u man sal my alles gee wat ek vra. Behalwe natuurlik u, sy vrou. Hoe kan ek nou sy vertroue skend en by u gaan slaap? So iets is baie verkeerd en ’n groot sonde teen God.” Potifar se vrou het net aangehou en hom elke dag geteister. Josef het nie toegegee nie en het bly weier om by haar te gaan slaap. Op ’n dag het Josef alleen in Potifar se huis gewerk. Al die ander huiswerkers was buite en Josef het alleen agtergebly. Mevrou Potifar het Josef toe aan sy baadjie gegryp en gesê: “Slaap tog nou by my.” Hy het hom losgeruk en buitentoe gehardloop. Potifar se vrou het met sy baadjie in haar hande gestaan. Toe sy sien sy het nog die baadjie wat Josef in sy haas agtergelaat het, het sy die ander huiswerkers geroep en vir hulle gesê: “My man het hierdie Hebreër in ons huis ingebring en kyk net wat het hy aangevang. Terwyl ek geslaap het, het hy in my kamer ingekom en wou by my kom slaap. Ek het toe so hard as wat ek kan, begin skreeu. En toe hy my gille hoor, het hy gevlug. In sy haas het hy egter sy baadjie hier gelos.” Sy het die baadjie gehou totdat haar man die aand huis toe gekom het. Sy het vir hom ook dieselfde storie vertel: “Die Hebreeuse slaaf wat jy hier aangebring het en wat vir ons moes werk, het in my kamer ingebars terwyl ek geslaap het. Toe ek egter begin skreeu, het hy gevlug, maar hy het sy baadjie hier by my gelos. Dit is nou wat jou slaaf aan my gedoen het.” Toe Potifar dit hoor, was hy woedend. Hy het Josef gegryp en hom in die tronk gegooi. Dit was die tronk waarin al die mense gestop is wat teen die koning oortree het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 39:6-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid