GENESIS 39:6-20

GENESIS 39:6-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het alles wat aan hom behoort, in Josef se hande gelaat. Met hom daar, het hy hom met niks bemoei nie, behalwe met die kos wat hy eet. Josef het 'n mooi voorkoms gehad en was besonder aantreklik. Ná verloop van tyd het die vrou van sy eienaar Josef reguit aangekyk en gesê: “Kom lê by my!” Maar hy het geweier en vir die vrou van sy eienaar gesê: “Kyk, met my hier bemoei my heer hom met niks in die huis nie. Alles wat hy besit, het hy in my hande gelaat. Hy is in hierdie huis nie belangriker as ek nie. Hy het van my niks weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek dan hierdie verskriklike kwaad doen en teen God sondig?” Alhoewel sy dag ná dag met Josef gepraat het, het hy nie aan haar gehoor gegee om langs haar te gaan lê en by haar te wees nie. Toe hy egter op 'n sekere dag in die huis ingaan om sy werk te doen en daar niemand van die huiswerkers in die huis was nie, pak sy hom aan sy kleed beet en sê: “Kom lê by my!” Hy het egter sy kleed in haar hand agtergelaat en gevlug; hy het na buite uitgegaan. Toe sy sien dat hy sy kleed in haar hand agtergelaat en na buite gevlug het, roep sy haar huiswerkers en sê vir hulle: “Sien julle! Hy het vir ons 'n Hebreeuse man gebring sodat hy hom met ons kan vermaak. Hy het na my toe ingekom om by my te lê, maar ek het hard geskreeu. Toe hy hoor dat ek uitroep en skreeu, het hy sy kleed hier langs my laat lê en gevlug; hy het buitentoe gegaan.” Sy het sy kleed langs haar neergesit totdat sy eienaar tuisgekom het. Sy het dieselfde woorde vir hom gesê: “Die Hebreeuse slaaf wat jy vir ons gebring het, het na my toe gekom om hom met my te vermaak! Toe ek hard uitroep en skreeu, het hy sy kleed langs my agtergelaat en na buite gevlug.” Toe sy eienaar die woorde van sy vrou hoor, dit wat sy vir hom gesê het, “Dít is die dinge wat jou slaaf aan my gedoen het,” het hy kwaad geword. Josef se eienaar het hom gevat en hom in die gevangenis gegooi, die plek waar die koning se gevangenes aangehou is. Hy was daar in die gevangenis

GENESIS 39:6-20 Die Boodskap (DB)

Josef was in beheer van net mooi alles in die huis van Potifar. Al wat Potifar nog gedoen het, was om die kos te eet wat vir hom voorgesit is. Josef was goed gebou en aantreklik en Potifar se vrou het hom raakgesien. Sy het sommer reguit vir hom gesê: “Kom slaap by my.” Josef het geweier en gesê: “U man het alles in hierdie huis aan my toevertrou. Hy doen niks as hy my nie eers vra nie. In hierdie huis het ek die meeste mag en u man sal my alles gee wat ek vra. Behalwe natuurlik u, sy vrou. Hoe kan ek nou sy vertroue skend en by u gaan slaap? So iets is baie verkeerd en ’n groot sonde teen God.” Potifar se vrou het net aangehou en hom elke dag geteister. Josef het nie toegegee nie en het bly weier om by haar te gaan slaap. Op ’n dag het Josef alleen in Potifar se huis gewerk. Al die ander huiswerkers was buite en Josef het alleen agtergebly. Mevrou Potifar het Josef toe aan sy baadjie gegryp en gesê: “Slaap tog nou by my.” Hy het hom losgeruk en buitentoe gehardloop. Potifar se vrou het met sy baadjie in haar hande gestaan. Toe sy sien sy het nog die baadjie wat Josef in sy haas agtergelaat het, het sy die ander huiswerkers geroep en vir hulle gesê: “My man het hierdie Hebreër in ons huis ingebring en kyk net wat het hy aangevang. Terwyl ek geslaap het, het hy in my kamer ingekom en wou by my kom slaap. Ek het toe so hard as wat ek kan, begin skreeu. En toe hy my gille hoor, het hy gevlug. In sy haas het hy egter sy baadjie hier gelos.” Sy het die baadjie gehou totdat haar man die aand huis toe gekom het. Sy het vir hom ook dieselfde storie vertel: “Die Hebreeuse slaaf wat jy hier aangebring het en wat vir ons moes werk, het in my kamer ingebars terwyl ek geslaap het. Toe ek egter begin skreeu, het hy gevlug, maar hy het sy baadjie hier by my gelos. Dit is nou wat jou slaaf aan my gedoen het.” Toe Potifar dit hoor, was hy woedend. Hy het Josef gegryp en hom in die tronk gegooi. Dit was die tronk waarin al die mense gestop is wat teen die koning oortree het.

GENESIS 39:6-20 Bybel vir almal (ABA)

Potifar het hom oor niks bekommer nie, want hy het geweet dat Josef alles wat hy het, goed sal oppas. Hy het nie gedink aan enige iets wat hy het nie, hy het net gedink aan die kos wat hy geëet het. Nadat Josef die bestuurder van die huis geword het, het Potifar se vrou na Josef begin kyk en sy het verlief geraak op hom. Sy het vir Josef gesê: “Kom slaap by my.” Maar Josef het geweier en hy het vir haar gesê: “Nee, Meneer weet dat ek alles in sy huis goed sal oppas. Ek mag van alles gebruik wat hy het, maar ek mag nie seks hê met jou nie, want jy is sy vrou. Ek mag nie hierdie baie verkeerde ding doen nie. Dit is sonde teen God.” Potifar se vrou het aangehou en sy het elke dag probeer om vir Josef te verlei, maar hy het nie na haar geluister nie, en hy het nie seks gehad met haar nie. Eendag het hy in Potifar se huis kom werk, soos hy altyd gedoen het. Daar was niemand anders in die huis nie. Potifar se vrou het vir Josef gegryp en sy het aan sy klere vasgehou en gesê: “Kom slaap by my.” Maar Josef het buitetoe gevlug en hy het sy klere daar gelos, die klere wat sy in haar hand vasgehou het. Toe sy sien dat Josef sy klere in haar hand gelos het toe hy buitetoe gevlug het, roep sy die ander mense van haar huis en sê vir hulle: “Kyk, Meneer het hierdie Hebreeuse slaaf hiernatoe gebring om met ons te spot. Hy het na my toe gekom om seks te hê met my, maar ek wou nie en ek het baie hard geskree. Toe hy hoor ek skree so hard, het hy sy klere by my gelos en buitetoe gevlug.” Sy het Josef se klere by haar gehou totdat haar man by die huis gekom het. Toe vertel sy vir hom: “Die Hebreeuse slaaf wat jy na ons toe gebring het, het na my toe gekom en wou seks hê met my. Ek het baie hard geskree, en toe het hy sy klere by my gelos en buitetoe gevlug.” Toe Potifar hoor wat sy vrou vir hom vertel wat Josef wou doen, het hy baie kwaad geword. Potifar het vir Josef in die tronk laat toesluit, die tronk waar die koning sy gevangenes gehou het. Josef het lank daar in die tronk gebly.

GENESIS 39:6-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien. Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop. Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons 'n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu; en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop. En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer tuisgekom het. En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en gesê: Die Hebreeuse kneg wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer; en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na buite gevlug. Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou kneg aan my gedoen — het hy baie kwaad geword; en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis.

GENESIS 39:6-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy het alles aan Josef oorgelaat en hom aan niks gesteur nie, behalwe aan sy kos. Josef was fris gebou en mooi. Na sy bevordering in sy eienaar se huis het dié se vrou na Josef gekyk en vir hom gesê: “Kom slaap by my.” Maar hy wou nie en hy het vir sy eienaar se vrou gesê: “Meneer steur hom aan niks vandat ek hier is nie. Wat hy besit, het hy onder my sorg geplaas. Daar is niemand wat in hierdie huis meer gesag het as ek nie. Meneer het niks van my teruggehou nie, behalwe vir u, want u is sy vrou. Hoe kan ek so 'n verkeerde ding doen? Ek sal mos teen God sondig!” Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap. Op 'n dag toe Josef in die huis ingaan om sy werk te doen, was daar niemand van die ander slawe in die huis nie. Toe gryp Potifar se vrou hom aan sy klere en sê: “Kom lê by my.” Maar Josef het buitentoe gevlug, terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou. Toe sy sien dat hy buitentoe gevlug het terwyl sy 'n stuk van sy klere in haar hand bly hou, roep sy die ander slawe van haar huis en sê vir hulle: “Kyk, Meneer het hierdie Hebreër na ons toe gebring om ons te kom verneder. Hy wou by my kom slaap, maar toe ek hard begin skree en hy hoor hoe hard ek aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos.” Sy het die stuk klere by haar gehou tot Josef se eienaar huis toe gekom het. Sy het alles vir hom vertel en vir hom gesê: “Die Hebreeuse slaaf wat jy hier by ons ingebring het, het by my kom aanlê, maar toe ek hard aanhou roep, het hy buitentoe gevlug en hierdie stuk klere by my gelos.” Toe Josef se eienaar by sy vrou hoor wat sy slaaf alles aan haar gedoen het, was hy kwaad, en het hy vir Josef gevat en in die tronk gegooi waarin die mense was wat deur die koning gevange gehou is. Terwyl Josef daar in die tronk was

GENESIS 39:6-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het alles wat hy gehad het in Josef se hand gelos; en hy het nie geweet wat hy moes hê nie, behalwe die brood wat hy geëet het. En Josef was 'n aantreklike mens en 'n guns. En ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë op Josef gerig; en sy sê: Lê by my. Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, my heer weet nie wat by my in die huis is nie, en hy het alles wat hy het, aan my oorgegee; Daar is niemand groter in hierdie huis as ek nie; en hy het niks van my teruggehou behalwe vir jou nie, omdat jy sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot boosheid doen en teen God sondig? En terwyl sy dag vir dag met Josef gespreek het, het hy nie na haar geluister om by haar te lê of by haar te wees nie. En omtrent hierdie tyd het Josef in die huis ingegaan om sy werk te doen; en daar was nie een van die manne van die huis daar binne nie. En sy het hom aan sy kleed gegryp en gesê: Lê by my, en hy het sy kleed in haar hand gelos en gevlug en hom uitgehaal. En dit het gebeur, toe sy sien dat hy sy kleed in haar hand gelos het en gevlug het, dat sy die manne van haar huis geroep en met hulle gespreek en gesê het: Kyk, hy het 'n Hebreeus na ons ingebring om met ons te spot; hy het na my ingekom om by my te lê, en ek het met 'n groot stem uitgeroep: En toe hy hoor dat ek my stem verhef en geroep het, het hy sy kleed by my gelos en gevlug en hom uitgehaal. En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer by die huis gekom het. En sy het volgens hierdie woorde met hom gespreek en gesê: Die Hebreeuse dienaar wat jy na ons toe gebring het, het na my ingekom om met my te spot. En terwyl ek my stem verhef en roep, het hy sy kleed by my gelos en weggevlug. En dit het gebeur toe sy heer die woorde van sy vrou hoor wat sy met hom gespreek het en gesê het: So het U dienaar aan my gedoen; dat sy toorn ontvlam het. En die heer van Josef het hom geneem en hom in die gevangenis gesit, 'n plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis.

GENESIS 39:6-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarom het Potifar hom aangestel oor alles wat hy besit. Met Josef aan die stuur het hy geen bekommernisse gehad nie, behalwe om te besluit wat hy wou eet! Josef was goed gebou en baie aantreklik. Ná sy bevordering het Potifar se vrou met begeerte na hom begin kyk. Sy het hom genooi om by haar te kom slaap. Maar Josef het geweier. “Kyk,” sê hy vir haar, “my meester vertrou my met alles in sy hele huishouding. Niemand het meer gesag daaroor as ek nie. Hy het niks van my weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek ooit so ’n slegte ding doen? Ek sal mos teen God oortree.” Sy het dag na dag druk op hom uitgeoefen, maar hy het volhard om nie toe te gee aan haar versoeke nie. Hy het selfs so ver moontlik uit haar pad probeer bly. Eendag was hy besig om sy werk te doen terwyl daar niemand anders in die huis was nie. Sy kom toe en gryp hom aan sy klere en eis van hom: “Kom slaap by my!” Josef het hom losgeskeur, maar in die proses die kledingstuk waaraan sy hom gegryp het, agtergelaat en uit die huis gehardloop. Toe sy sien dat sy ’n stuk van sy klere in haar hand vashou en dat hy gevlug het, begin sy skree. Almal in die huis kom toe aangehardloop. “My man het hierdie Hebreeuse slaaf hier gebring om ons te beledig!” het sy gesnik. “Hy het my probeer verkrag, maar ek het geskree. Toe hy hoor hoe ek om hulp roep, het hy weggehardloop, maar hierdie kledingstuk by my agtergelaat.” Sy het die kledingstuk by haar gehou totdat haar man weer tuisgekom het. Sy sê toe vir hom: “Daardie Hebreeuse slaaf wat jy hier ingebring het, het probeer om by my aan te lê. Gelukkig het ek geskree. Toe hardloop hy hier uit, maar het sy kleed agtergelaat!” Nadat Potifar sy vrou se storie gehoor het oor wat hy met haar probeer aanvang het, was hy briesend. Hy gryp Josef en gooi hom in die tronk waar die koning se gevangenes gehou word. Terwyl hy daar in die tronk was

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid