Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het baie mooi oë gehad, maar Ragel, die jongste, was baie mooi. Jakob het verlief geraak op Ragel en daarom het hy vir Laban gesê: “Oom hoef my nie te betaal nie. Ek sal vir Oom se jongste dogter, vir Ragel, werk. Sewe jaar lank sal ek vir haar werk en dan moet sy my vrou word.” “Goed dan,” het Laban gesê. “Jy bly hier by my en jy werk sewe jaar lank vir Ragel. Dit is beter dat jy haar kry as die een of ander kêrel wat nie deel van ons is nie.” So het Jakob vir Ragel gewerk. Sewe jaar lank! En dit was glad nie eens vir hom moeilik nie. Dit het soos ’n paar dae gevoel, want hy was baie lief vir Ragel. Op ’n dag het Jakob vir Laban gesê: “My sewe jaar is verby. Gee Ragel asseblief vir my sodat ek by haar kan gaan slaap.” Laban het toe ’n groot fees gehou en al die mense van die dorp genooi. Laataand het Laban vir Lea, sy oudste, gevat en haar na Jakob toe gebring. Sy het ’n sluier om haar gehad en Jakob het haar nie herken nie. Dié nag het Jakob toe by Lea geslaap. Laban het die nag sommer ook sy slavin Silpa gevat en haar vir Lea gegee. Teen dagbreek het Jakob ontdek hy is bedrieg. Langs hom was Lea en nie Ragel nie. Woedend het hy Laban toegesnou: “Wat het jy aan my gedoen? Ek het sewe jaar vir jou gewerk sodat ek Ragel kon kry en toe bedrieg jy my. Hoekom het jy dit gedoen?” Kom nou, kom nou,” het Laban gesê. “Hier by ons gebeur dinge anders. Hier trou ’n mens eers met die oudste dogter en dan met die jongste. Vier tog hierdie week die huweliksfees saam met ons, dan sal ek Ragel ook vir jou gee. Ek beloof jou, maar dan moet jy nog sewe jaar vir my werk.” Jakob het ingestem. ’n Week lank het hy die huweliksfees gevier. Aan die einde van die feestyd het Laban toe Ragel vir hom as vrou gegee. Laban het toe sy slavin Bilha vir Ragel gegee. Jakob het by Ragel geslaap en hy was baie lief vir haar. Hy het haar liewer gehad as vir Lea. En hy het nog sewe jaar vir Laban gewerk. Die Here het gesien dat Jakob nie lief was vir Lea nie. Hy het Lea toe baie vrugbaar gemaak, maar Ragel was kinderloos. Lea het ’n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem en gesê: “Die Here het my hartseer raakgesien. Nou sal my man my uiteindelik liefhê.” Sy het weer ’n seun gehad en gesê: “Die Here het gehoor dat Jakob my nie liefhet nie, en daarom het Hy my hierdie kind gegee.” Sy het hom Simeon genoem. Nog ’n seun is gebore en Lea het gesê: “My man sal my nou werklik liefhê omdat ek vir hom drie seuns gegee het.” Sy het die seun Levi genoem. ’n Vierde seun is gebore en Lea het oorstelp gesê: “Hierdie keer wil ek die Here net loof en prys.” Dit is waarom sy die kind Juda genoem het. Lea het hierna vir eers nie weer kinders gehad nie.
Lees Genesis 29
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 29:16-35
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's