GENESIS 29:16-35

GENESIS 29:16-35 NLV

Laban het twee dogters gehad. Lea was die oudste en Ragel die jongste. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was baie aantreklik en het ’n pragtige figuur gehad. Jakob was verlief op Ragel. Daarom sê hy: “Ek sal sewe jaar werk om Ragel, die jongste dogter, as vrou te kry.” “Afgespreek!” sê Laban. “Ek sal haar eerder vir jou gee as vir iemand buite die familiekring. Bly by ons.” Jakob het toe sewe jaar gewerk om Ragel as vrou te kry. Maar hy het haar so liefgehad dat dit vir hom soos ’n paar dae was. Toe die tyd verby was, sê Jakob vir Laban: “Ek het my deel van die ooreenkoms nagekom. Gee haar nou vir my sodat ons kan trou.” Laban nooi toe almal in die omgewing uit om saam die bruilof te kom vier. Maar daardie nag, toe dit donker was, neem Laban vir Lea na Jakob toe; en hy het by haar geslaap. Laban het Silpa as persoonlike slavin vir Lea gegee. Toe Jakob die volgende oggend wakker word, sien hy met skok dis Lea! “U het my bedrieg!” sê Jakob vir Laban. “Ek het sewe jaar lank vir u gewerk om Ragel te kry! Hoekom het u my verkul?” “Dis nie ons gebruik dat ’n jonger dogter voor die oudste een trou nie,” antwoord Laban. “Wag totdat die huweliksweek verby is, dan gee ek Ragel ook vir jou op voorwaarde dat jy nog ’n verdere sewe jaar vir my werk.” Jakob het ingestem. ’n Week na die huwelik met Lea het Laban ook Ragel as vrou vir hom gegee. Laban het Bilha as persoonlike slavin vir Ragel gegee. Jakob het toe ook by Ragel gaan slaap. Hy het haar baie liewer gehad as vir Lea en nog ’n verdere sewe jaar vir Laban gewerk. Omdat Lea minder geliefd was, het die HERE vir haar kinders gegee, maar Ragel was kinderloos. Lea het swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die HERE het my verdriet gesien; dalk sal my man my nou liefhê.” Sy het weer swanger geword en nog ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Simeon genoem, “want,” het sy gesê, “die HERE het gehoor dat ek minder geliefd is. Daarom het Hy my nog ’n seun gegee.” Sy het nog ’n keer swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Levi genoem, “want,” het sy gesê, “my man sal nou sekerlik aan my geheg raak omdat ek nou al vir hom drie seuns gegee het!” Sy het nog ’n keer swanger geword en ’n seun in die wêreld gebring. Sy het hom Juda genoem, “want,” het sy gesê, “nou sal ek die HERE prys!” Daarna het sy nie meer kinders gehad nie.

Video vir GENESIS 29:16-35