Genesis 25:29-34

Genesis 25:29-34 DB

Op ’n dag het Jakob heerlike kos gemaak. Esau daag toe uit die bloute daar op. Hy was moeg en honger en sê toe vir Jakob: “Ek is uitgeput en honger. Gee my tog so ’n ietsie van jou lekker kos, van die rooi goed wat jy daar het.” Toe Esau gebore is, was hy mos so rooierig en dit is waarom hulle hom Esau genoem het. Jakob, die skelm, het geantwoord: “Gee my eers al jou regte en voordele as oudste kind.” “Ag, wat,” het Esau gesê, “jy kan maar alles vat. Ek is tog aan die doodgaan en nou help al daardie regte en voordele my net mooi niks. So, vat dit vir jou.” Die geslepe Jakob het egter druk op Esau geplaas: “Nee, jy moet eers sweer en beloof dat alles myne is.” Esau het toe sy woord gegee dat Jakob sy eersgeboortereg kon kry. Jakob het toe vir Esau ’n stuk brood gegee en van die heerlike lensiebredie vir hom uitgeskep. Esau het alles opgeslurp en ook nog iets gedrink. Toe het hy opgestaan en geloop. So het Esau sy eersgeboortereg vir Jakob gegee. Vir ’n lekker bord kos het hy al sy regte en voordele as oudste seun van die familie weggegee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid