GENESIS 25:29-34
GENESIS 25:29-34 Bybel vir almal (ABA)
Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het van die veld gekom en hy was baie moeg. Esau sê toe vir Jakob: “Ek is baie honger. Gee my asseblief van daardie rooi sop van jou.” Daarom het hulle Esau ook Edom genoem. Maar Jakob sê vir hom: “Gee dan vir my eers die regte wat jy het omdat jy eerste gebore is.” Toe sê Esau: “Goed. Ek is baie honger. Ek voel ek sal sterf. Die regte sal my niks help wanneer ek dood is nie.” Jakob sê toe: “Jy moet dit eers vir my belowe.” Esau het dit belowe en hy het sy regte vir Jakob gegee. Jakob het vir Esau brood en die lensiesop gegee. Esau het dit geëet en hy het opgestaan en geloop. So het Esau sy regte weggegee. Dit was nie vir hom belangrik nie.
GENESIS 25:29-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jakob het 'n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom. Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.
GENESIS 25:29-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op 'n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg!” Daarom is hy Edom genoem. Toe sê Jakob vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.” Esau het geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene te wees?” Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met 'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my oormaak.” Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.
GENESIS 25:29-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jakob was besig om 'n gereg gaar te maak, toe Esau van die veld af kom – hy was uitgeput. Esau sê toe vir Jakob: “Gee my asseblief 'n sluk van die rooi goed, hierdie rooi goed, want ek is uitgeput.” (Daarom word hy Edom genoem.) Jakob het geantwoord: “Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.” Toe sê Esau: “Kyk, ek is op die punt om dood te gaan; wat is 'n eersgeboortereg dan vir my werd?” Jakob het gesê: “Lê eers vir my 'n eed af.” Hy het toe vir hom 'n eed afgelê en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. Jakob gee toe vir Esau brood en die kooksel lensies. Hy het geëet en gedrink, opgestaan en weggegaan. So het Esau sy eersgeboortereg geminag.
GENESIS 25:29-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Jakob het sooi gemaak, en Esau het uit die veld gekom, en hy was moeg. Daarop sê Esau vir Jakob: Laat my tog van daardie selfde rooi drankie proe; want ek is moeg. Daarom is sy naam Edom genoem. Toe sê Jakob: Verkoop vandag jou eersgeboortereg aan my. Toe sê Esau: Kyk, ek is op die punt om te sterwe; en watter voordeel sal hierdie eersgeboortereg my aandoen? Toe sê Jakob: Sweer aan my vandag; en hy het vir hom gesweer, en hy het sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. Toe het Jakob vir Esau brood en pan lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en gegaan. So het Esau sy eersgeboortereg verag.
GENESIS 25:29-34 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Jakob heerlike kos gemaak. Esau daag toe uit die bloute daar op. Hy was moeg en honger en sê toe vir Jakob: “Ek is uitgeput en honger. Gee my tog so ’n ietsie van jou lekker kos, van die rooi goed wat jy daar het.” Toe Esau gebore is, was hy mos so rooierig en dit is waarom hulle hom Esau genoem het. Jakob, die skelm, het geantwoord: “Gee my eers al jou regte en voordele as oudste kind.” “Ag, wat,” het Esau gesê, “jy kan maar alles vat. Ek is tog aan die doodgaan en nou help al daardie regte en voordele my net mooi niks. So, vat dit vir jou.” Die geslepe Jakob het egter druk op Esau geplaas: “Nee, jy moet eers sweer en beloof dat alles myne is.” Esau het toe sy woord gegee dat Jakob sy eersgeboortereg kon kry. Jakob het toe vir Esau ’n stuk brood gegee en van die heerlike lensiebredie vir hom uitgeskep. Esau het alles opgeslurp en ook nog iets gedrink. Toe het hy opgestaan en geloop. So het Esau sy eersgeboortereg vir Jakob gegee. Vir ’n lekker bord kos het hy al sy regte en voordele as oudste seun van die familie weggegee.
GENESIS 25:29-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het doodmoeg van die veld af teruggekom. Esau sê toe vir Jakob: “Gee my tog van daardie rooi goed, want ek wil doodgaan van die honger.” Dis hoe Esau sy ander naam, Edom – wat “rooi” beteken – gekry het. Jakob antwoord hom: “Dis alles goed en wel, maar dan moet jy jou regte as oudste seun in ruil daarvoor gee.” “Wat maak dit eintlik saak,” antwoord Esau, “ek is tog op die punt om van honger te sterf. Wat beteken my eersgeboortereg dan vir my?” Jakob dring egter daarop aan: “Lê ’n eed af dat jou regte nou myne word.” Esau het toe ’n eed afgelê en so sy eersgeboortereg as oudste aan Jakob, die jongste, verkoop. Toe gee Jakob vir Esau brood en sop. Hy het dit geëet en gedrink en weggegaan asof sy eersgeboortereg vir hom niks beteken nie.