In die begin van alle tyd het God die hemel en die aarde gemaak. Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: “Laat daar lig wees.” Skielik was daar oral lig. God was baie tevrede met die lig wat Hy gemaak het. Hy het dit apart van die donkerte gehou. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die eerste dag van die skepping. God het weer gepraat: “Laat daar ’n soliede massa in die middel van al die waters kom, sodat daar ’n duidelike skeiding tussen die waters sal wees.” En dit het gebeur. God het toe hierdie soliede struktuur gemaak. Dit het die ontsaglike massas waters onder en bo die aarde uitmekaargehou. God het hierdie blou struktuur in die lug “hemel” genoem. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die tweede dag van die skepping. God het verder gegaan en gesê: “Laat al die water onder die hemelruim op een plek bymekaarkom sodat daar ook droë land sal wees.” En dit was so. God het die droë land “aarde” genoem en die plek waar al die water bymekaargekom het, “see”. God het gesien dat dit wat Hy geskep het, goed was. God het weer gepraat en gesê: “Laat die aarde sy groeikrag wys en laat daar oral welige groen plante uitkom; verskillende plante met hulle sade. Laat daar oor die hele aarde verskillende soorte vrugtebome wees.” En alles het presies so gebeur. Uit die vrugbare aarde het daar oral welige groen plante opgekom, alle denkbare soorte plante. En binne-in elke plant was elkeen se saad. Daar was ook oral vrugtebome. God was baie tevrede met wat Hy rondom Hom gesien het.
Lees Genesis 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 1:1-12
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's