GENESIS 1:1-12
GENESIS 1:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag. En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so. En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was. En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
GENESIS 1:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Alles het begin toe God die hemel en die aarde gemaak het. Daar was niks op die aarde nie, niemand kon daar woon nie. Daar was net 'n groot see, en dit was baie donker. Die Gees van God het oor die water beweeg soos 'n sterk wind. God het gesê: “Daar moet lig wees.” En toe was daar lig. God het gesien die lig is goed. Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig “dag” genoem en Hy het die donker “nag” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die eerste dag. God het gesê: “Daar moet 'n hemeldak wees, die lug daarbo, en dit moet die water wat bo is, skei van die water wat onder is.” Dit het toe gebeur. God het die hemeldak gemaak en Hy het die water onder die dak geskei van die water bo die dak. God het die ronde dak “hemel” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die tweede dag. God het gesê: “Die water onder die hemel moet bymekaarkom op een plek, sodat daar ook grond kan wees.” Dit het toe gebeur. God het die grond “aarde” genoem en Hy het die water “see” genoem. God het gesien dit is goed. God het gesê: “Daar moet plante op die aarde groei – groen plante wat saad dra, en bome wat vrugte dra en wat saad in die vrugte dra.” Dit het toe gebeur. Daar het plante op die aarde gegroei – groen plante wat hulle eie saad dra, en bome wat hulle eie saad in die vrugte dra. God het gesien dit is goed.
GENESIS 1:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. Toe het God gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.” So het dit gebeur. God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag. Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.” So het dit gebeur. God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaargekom het, het Hy “see” genoem. En God het gesien dit is goed. Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.” So het dit gebeur. Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.
GENESIS 1:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef, en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien dat die lig goed was. God het toe die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig dag genoem en die donker het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was oggend – dag een. God het gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water.” God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het toe so gebeur. God het die gewelf hemel genoem. En dit was aand en dit was oggend – 'n tweede dag. God het gesê: “Laat die water wat onder die hemel is, op een plek bymekaarkom, sodat die droë grond sigbaar word.” Dit het toe so gebeur. God het die droë grond ‘land’ genoem en die versamelplek van die water het Hy ‘see’ genoem. God het gesien dat dit goed is. God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.
GENESIS 1:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was sonder vorm en leeg. Duisternis was op die wêreldvloed en die Gees van God het op die waters gesweef. God het gesê: Laat daar lig wees, en daar was lig. God het gesien dat die lig goed was, en God het die lig van die duisternis geskei. God het die lig Dag genoem, en die duisternis het Hy Nag genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees in die middel van die waters, en laat dit die waters van die uitspansel skei. God het die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel was, geskei van die waters wat bo die uitspansel was. God het die uitspansel hemel genoem, en dit was aand en dit was môre, die tweede dag. Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek versamel word, en laat die droë land verskyn.” En dit was so. God het die droë grond Aarde genoem; en die versameling van die waters het Hy see genoem, en God het gesien dat dit goed was. Toe het God gesê: Laat die aarde gras voortbring, die plante wat saad gee en die vrugtebome wat vrugte dra volgens sy soorte, wie se saad in homself is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het gras voortgebring en plante wat saad gee volgens sy soorte, en die boom wat vrugte dra, waarvan die saad in homself was, volgens sy soorte; en God het gesien dat dit goed was.
GENESIS 1:1-12 Die Boodskap (DB)
In die begin van alle tyd het God die hemel en die aarde gemaak. Voor die skepping was alles eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: “Laat daar lig wees.” Skielik was daar oral lig. God was baie tevrede met die lig wat Hy gemaak het. Hy het dit apart van die donkerte gehou. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die eerste dag van die skepping. God het weer gepraat: “Laat daar ’n soliede massa in die middel van al die waters kom, sodat daar ’n duidelike skeiding tussen die waters sal wees.” En dit het gebeur. God het toe hierdie soliede struktuur gemaak. Dit het die ontsaglike massas waters onder en bo die aarde uitmekaargehou. God het hierdie blou struktuur in die lug “hemel” genoem. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die tweede dag van die skepping. God het verder gegaan en gesê: “Laat al die water onder die hemelruim op een plek bymekaarkom sodat daar ook droë land sal wees.” En dit was so. God het die droë land “aarde” genoem en die plek waar al die water bymekaargekom het, “see”. God het gesien dat dit wat Hy geskep het, goed was. God het weer gepraat en gesê: “Laat die aarde sy groeikrag wys en laat daar oral welige groen plante uitkom; verskillende plante met hulle sade. Laat daar oor die hele aarde verskillende soorte vrugtebome wees.” En alles het presies so gebeur. Uit die vrugbare aarde het daar oral welige groen plante opgekom, alle denkbare soorte plante. En binne-in elke plant was elkeen se saad. Daar was ook oral vrugtebome. God was baie tevrede met wat Hy rondom Hom gesien het.
GENESIS 1:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die begin het God die ganse heelal geskep, die hemel daarbo en die aarde hieronder. Maar die aarde was ’n vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis. Die Gees van God het oor die oppervlakte van die water gesweef. Toe beveel God: “Laat daar lig wees!” en dit was so. Die lig was vir God goed. Daarop het God die lig en die donkerte van mekaar geskei. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit alles het op die eerste dag gebeur. God het beveel: “Laat daar skeiding kom tussen die waters!” So het God die hemelkoepel gemaak wat die water bokant die aarde skei van die water onder op die aarde. Dit het alles net so gebeur. God noem toe die blou koepel “hemel”. Dit het op die tweede dag gebeur. God het beveel: “Laat die water op die aarde op een plek bymekaarkom sodat die droë grond te voorskyn kan kom!” Dit het presies so gebeur. God noem toe die droë grond “land” en die versameling water noem Hy “see”. Ook dit was vir God goed. Toe beveel God: “Laat plante uit die grond voortspruit wat saad dra en ook vrugtebome wat vrugte gee.” En dit het gebeur. Die aarde het toe sulke plante voortgebring, asook vrugtebome van allerlei soorte. God het gesien dat dit goed was.