Galasiërs 4:8-20

Galasiërs 4:8-20 DB

Destyds, toe julle nog nie kinders van God was nie, was julle slawe van ’n spul dooie gode. Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan? Wil julle weer van voor af slawe daarvan word? Kyk, julle is klaar weer besig met ’n klomp nuttelose gebruike: julle hou allerhande heilige dae en maande en spesiale feesdae. Dink julle dat dit julle nader aan God sal bring? Ek is regtig bekommerd dat al my harde werk onder julle pure verniet was. Julle breek alles af wat ek daar by julle opgebou het. My liewe broers en susters, ek smeek julle: staan ’n slag in my skoene, dan sal julle besef hoe baie ek vir julle omgee. Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het. Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het toe ek vroeër daar by julle was. Nie een van julle het ’n skewe woord vir my gesê of my sleg behandel nie. Onthou julle nog hoe siek ek was toe ek daardie eerste maal by julle kom preek het? Tog het julle my baie goed versorg. Dit was glad nie vir julle ’n probleem of ’n verleentheid om dit te doen nie. Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang as wat julle ’n engel van God, ja, vir Jesus Christus self sou ontvang. Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword? Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal en vir my gegee het. Maar nou is ek skielik julle vyand! En dit net omdat ek vir julle die waarheid vertel. Weet julle, daardie vals predikers wat nou by julle optree, maak net asof hulle vir julle omgee. Maar hulle draai julle eintlik ’n rat voor die oë. Hulle misbruik net julle goedheid tot hulle eie voordeel. Hulle wil net hê julle moet hulle op die hande dra en ’n groot ophef van hulle maak. Julle moet oppas vir hulle! Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is. Julle is vir my soos my eie kinders. Ek voel oor julle soos ’n ma wat geboortepyne het. Hierdie pyn sal nie ophou voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie. Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees. Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie. Ongelukkig het ek nie ’n ander keuse nie. Ek moet my hart hier op papier uitpraat, want ek is raadop met julle.