GALASIËRS 4:8-20

GALASIËRS 4:8-20 Die Boodskap (DB)

Destyds, toe julle nog nie kinders van God was nie, was julle slawe van ’n spul dooie gode. Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan? Wil julle weer van voor af slawe daarvan word? Kyk, julle is klaar weer besig met ’n klomp nuttelose gebruike: julle hou allerhande heilige dae en maande en spesiale feesdae. Dink julle dat dit julle nader aan God sal bring? Ek is regtig bekommerd dat al my harde werk onder julle pure verniet was. Julle breek alles af wat ek daar by julle opgebou het. My liewe broers en susters, ek smeek julle: staan ’n slag in my skoene, dan sal julle besef hoe baie ek vir julle omgee. Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het. Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het toe ek vroeër daar by julle was. Nie een van julle het ’n skewe woord vir my gesê of my sleg behandel nie. Onthou julle nog hoe siek ek was toe ek daardie eerste maal by julle kom preek het? Tog het julle my baie goed versorg. Dit was glad nie vir julle ’n probleem of ’n verleentheid om dit te doen nie. Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang as wat julle ’n engel van God, ja, vir Jesus Christus self sou ontvang. Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword? Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal en vir my gegee het. Maar nou is ek skielik julle vyand! En dit net omdat ek vir julle die waarheid vertel. Weet julle, daardie vals predikers wat nou by julle optree, maak net asof hulle vir julle omgee. Maar hulle draai julle eintlik ’n rat voor die oë. Hulle misbruik net julle goedheid tot hulle eie voordeel. Hulle wil net hê julle moet hulle op die hande dra en ’n groot ophef van hulle maak. Julle moet oppas vir hulle! Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is. Julle is vir my soos my eie kinders. Ek voel oor julle soos ’n ma wat geboortepyne het. Hierdie pyn sal nie ophou voor Christus weer in julle lewe die ereplek kry nie. Ek wens dat ek nou daar by julle kon wees. Dan sou dit nie vir my nodig gewees het om so met julle te raas nie. Ongelukkig het ek nie ’n ander keuse nie. Ek moet my hart hier op papier uitpraat, want ek is raadop met julle.

GALASIËRS 4:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe julle God nog nie geken het nie, was julle slawe van gode wat nie regtig gode is nie. Nou ken julle egter vir God, of eerder: God ken julle. Hoe is dit dan moontlik dat julle weer na die patetiese en armsalige magte van die wêreld wil terugkeer om hulle soos slawe te dien? Julle hou aan om spesiale dae, maande, seisoene en jare te vier! Ek is bekommerd oor julle. Al my harde werk onder julle was dalk verniet. Broers en susters, ek pleit by julle: Word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my nooit enige kwaad aangedoen nie. Julle onthou mos nog die eerste keer toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het. Ek het na julle gekom terwyl ek siek was. Hoewel my siekte vir julle ’n beproewing was, het julle nie vir my gegril of my vermy nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek ’n engel, ja, asof ek Christus Jesus self was. Julle het julleself destyds as bevoorreg beskou. Wat het dan nou gebeur? Ek kan regtig daarvan getuig dat julle, as dit moontlik was, selfs julle oë sou uitgeruk het om hulle vir my te gee. Het ek nou vir julle ’n vyand geword omdat ek julle eerlik die waarheid vertel? Die ander mense wat skynbaar so baie ywer vir julle het, het nie goeie bedoelings nie. Hulle wil ’n wig tussen ons indryf sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. Dit is goed om jou vir ’n goeie saak te beywer. Maar doen dit dan altyd, en nie net as ek daar by julle is nie. Ag, my kinders, totdat Christus in julle lewens vorm aanneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle. Ek wens dat ek op hierdie oomblik by julle kan wees en op ’n ander trant met julle kan praat, want ek is regtig bekommerd oor julle.

GALASIËRS 4:8-20 Bybel vir almal (ABA)

Voorheen, toe julle nog nie vir God geken het nie, het julle ander gode gedien wat nie regtig gode is nie. Maar nou ken julle vir God, of, dit is beter om te sê dat God nou vir julle ken. Daarom moet julle nie nou weer teruggaan en slawe word van die Wette van Moses nie, wette wat niks beteken nie. Julle probeer om al die feeste te vier wat die Jode vier, elke dag en maand en tyd wat die Jode vier. Dit is verkeerd. Daarom is ek bekommerd dat al my harde werk niks gehelp het vir julle nie. Vriende, ek vra baie mooi vir julle: Julle moet word soos ek, want ek het voorheen geword soos julle. Julle was toe goed vir my. Julle weet ek het die eerste maal daar by julle die goeie boodskap gepreek omdat ek siek was. Julle het baie swaar gekry omdat ek siek was, maar julle het my nie daaroor gehaat nie en julle was nie skaam oor my nie. Julle het my gehelp en ek was welkom by julle soos 'n engel van God, ja, soos Christus Jesus self. Julle het baie gelukkig gevoel. As julle kon, dan sou julle toe julle oë uitgehaal het om dit vir my te gee. Maar nou is julle heeltemal anders! Julle moenie dink ek is nou julle vyand omdat ek die waarheid praat nie! Daardie mense by julle wil vir julle baie dinge doen, maar dit is verkeerde dinge. Hulle wil julle weghou van my, want hulle wil hê julle moet vir hulle dinge doen. Julle moet onthou: Julle moet elke dag goeie dinge doen, wanneer ek by julle is, en ook wanneer ek nie by julle is nie. Julle is vir my soos my kinders, julle laat my nou weer baie swaar kry, en dit sal aanhou totdat Christus die belangrikste is in julle lewens. Ek wens ek was nou daar by julle. Dan kon ek op 'n ander manier met julle probeer praat, want ek weet nie wat om nou vir julle te sê nie.

GALASIËRS 4:8-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar was 'n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs. Ek smeek julle, broers: Word soos ek, soos ek my ook met julle vereenselwig het. Julle het my nooit sleg behandel nie. Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het. En al was my toestand vir julle 'n versoeking om my te verag of selfs te verfoei, het julle dit nie gedoen nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek 'n engel van God was, ja, asof ek Christus Jesus self was. Julle was so bly daaroor. Wat het nou van julle blydskap geword? Dít kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het. Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou? Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. Om jou vir 'n goeie saak te beywer, is goed, maar dan moet dit altyd die geval wees en nie net as ek by julle is nie. My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. Ek wens ek kon nou by julle wees en op 'n ander toon met julle praat. Ek is werklik besorg oor julle.

GALASIËRS 4:8-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, was julle verslaaf aan gode wat in werklikheid nie bestaan nie. En noudat julle God leer ken het – of liewer, noudat julle deur God geken is – hoe is dit moontlik dat julle weer terugdraai na die swak en minderwaardige elementêre beginsels, en weer van voor af daaraan verslaaf wil raak? Julle onderhou vasgestelde dae en maande en tye en jare. Wat julle betref, is ek bevrees dat al my harde arbeid onder julle dalk tevergeefs was. Ek smeek julle, broers, word soos ek, omdat ek soos julle geword het! Julle het my geen onreg aangedoen nie. Julle weet dat ek die eerste keer weens my siekte die evangelie aan julle verkondig het, en alhoewel my siek liggaam vir julle 'n beproewing was, het julle my nie verag of verfoei nie. Inteendeel, julle het my soos 'n engel van God ontvang, soos •Christus Jesus! Waar is julle blydskap oor my dan nou? Ek kan van julle getuig dat, indien dit moontlik was, julle julle oë sou uitruk en vir my sou gee! Het ek dan julle vyand geword omdat ek vir julle die waarheid vertel? Hulle beywer hulle nie met goeie bedoelings vir julle nie; inteendeel, hulle wil julle van my af weghou, sodat julle julle vir húlle kan beywer. Dis goed om julle altyd vir die goeie te beywer, en nie net wanneer ek by julle is nie. My kinders, ek ervaar weer geboortepyne oor julle, totdat Christus in julle gestalte kry. Ek wens ek was nou by julle, en kon met 'n ander stemtoon met julle praat, want ek is raadop met julle!