Esegiël 16:42-63

Esegiël 16:42-63 DB

“Eers wanneer Ek jou hard gestraf het, sal my woede teen jou begin bedaar. Dan sal Ek ophou om jaloers op jou te wees. Ek sal rustig raak en nie meer woedend wees oor al jou slegte dade nie. Maar voor dit gebeur, gaan Ek jou eers terugbetaal vir al jou slegte dade, want jy het vergeet wat Ek vir jou gedoen het toe jy nog jonk was. Jy het My woedend gemaak.” So sê die Here, Esegiël se God: “Asof jy nie genoeg slegte dade gepleeg het nie, het jy boonop by ander mans gaan slaap. “Die mense wat spreekwoorde uitdink, sal van jou sê: ‘Aardjie na haar vaartjie!’ Jou eie ma het haar man en kinders verruil vir ander mans. En nou het jy dieselfde aangevang. Jy maak presies nes jou susters, want hulle verruil ook hulle mans en kinders vir ander mans. Ja, dis waar. Jou ma was ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet. Jy tree soos ’n heiden op! “Jou ouer suster was Samaria wat met haar dogters daar in die noorde gebly het. En jou jonger suster was Sodom wat met haar kinders in die suide gebly het. Maar dit was nie genoeg dat jy dieselfde slegte dade as hulle gedoen het nie. Nee, in ’n kort tydjie het jy hulle oortref met die slegte dinge wat jy gedoen het! So seker as wat Ek leef, Sodom en haar dogters het nooit sulke slegte dinge gedoen soos jy en jou dogters nie,” so sê die Here, Esegiël se God. “Sodom se slegte dade was dat sy lui en trots was. Sy het haar ooreet terwyl daar arm mense was wat voor haar huis gesit het en niks gehad het om te eet nie. Sy was trots op haarself terwyl sy die afskuwelikste dinge aangevang het. Daarom het Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee. Gaan kyk self: daar is niks oor van hierdie stede nie. “Selfs Samaria, die ryk van Jerobeam, het nie helfte van die slegte dinge gedoen wat jy doen nie, Israel. Jy het baie slegter dinge gedoen as wat hulle ooit kon uitdink. Trouens, as jy Samaria en Sodom langs jou sit, lyk dit of hulle goeie mense was! Jy behoort jou te skaam. Jou slegte dade is afskuwelik! Jou susters lyk onskuldig as hulle langs jou gaan staan. “Eendag gaan Ek Sodom en Samaria en hulle dogters weer opbou. En Ek sal jou ook weer opbou. Daardie dag sal jy behoorlik skaam wees oor al die slegte dinge wat jy teen My gedoen het. Jou susters lyk goed teen jou. Ek sal jou susters, Sodom en Samaria en hulle dogters, red en hulle weer help. Dan sal Ek jou ook red en help. Jy het mos so gespog dat jy soveel beter is as Sodom. Jy was so vol van jouself. Maar nou wys Ek al jou afskuwelike dade vir die hele wêreld. En hulle almal sien op jou neer. Hulle loop en spot met jou, jou bure. Die Edomiete en die Filistyne lag as hulle na jou kyk. Dit is jou straf. Ek straf jou oor jou afskuwelike, slegte dade,” sê die Here. Daarom sê die Here, die God van Esegiël, nou vir jou: “Ek gee vir jou presies net wat jy verdien. Jy het jou belofte verbreek dat jy aan My getrou sal wees toe jy met My getrou het. Ek maak nie so nie. Ek bly getrou aan jou omdat Ek - toe jy nog jonk was - belowe het dat Ek by jou sal bly. Ek hou my beloftes wat Ek aan jou gemaak het, vir ewig. “Daarom gaan jy nog eendag skaam kry oor jou slegte dade. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Ek jou susters vat, die een ouer as jy en die een jonger as jy, en hulle jou dogters maak. Ek sal ook beloftes aan hulle maak wat Ek nie sal breek nie. En Ek sal weer my belofte aan jou maak. Jy sal dan weet en erken dat Ek die Here is. Dan sal jy aan jou slegte dade dink en baie skaam kry. Jy sal so skaam wees dat jy nie ’n woord sal uitkry nie. Dit sal gebeur op daardie dag as Ek jou vergewe vir al die slegte dinge wat jy aan My gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël.