“Eers wanneer Ek my wraak teen jou laat uitwoed het, sal my woede afgekoel wees. Dan sal Ek kalm word en nie meer vir jou kwaad wees nie. Maar eers gaan Ek jou ten volle laat boet vir jou sondes, want jy het jou jongdae vergeet toe jy hierdie dinge gedoen het. So sê die oppermagtige HERE. Want by al jou walglike sondes het jy ook hierdie afstootlike dinge gedoen. Mense wat spreekwoorde maak, sal van jou sê: ‘Die dogter is nes die ma.’ Jou ma het ook haar eie man en kinders verag, net soos jy. En jy is net soos jou susters, want hulle het hulle mans en kinders ook verag. Ja, jou ma was mos ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet. “Jou ouer suster is Samaria wat saam met haar dogters noord van jou geleef het. En jou jonger suster is Sodom wat saam met haar dogters suid van jou geleef het. Jy het nie sommer maar net gesondig soos hulle nie. Nee, dit was nie genoeg vir jou nie. Binne ’n kort rukkie het jy hulle ver oortref! So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige HERE, Sodom en haar dogters het nooit gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. Sodom en haar dogters se sonde was dat hulle trots was en te veel kos gehad het en glad nie vir ander omgegee het nie. Hulle het nie arm en behoeftige mense gehelp nie. Hulle was trots en het afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle uitgeroei, soos jy gesien het. “Selfs Samaria het nie die helfte van die sondes gedoen wat jy gedoen het nie. Jy het veel erger dinge gedoen as jou susters. Trouens, in vergelyking met jou lyk hulle regverdig! Jy moet jou skaam omdat jy met jou sondes jou susters geregverdig het. Skaam jou omdat jou sondes só afskuwelik is dat jou susters in vergelyking met jou regverdig lyk! “Eendag gaan Ek die lot van Sodom en haar dogters en Samaria en haar dogters verander. Dan sal Ek jou ook weer oprig. Daardie dag sal jy skaam voel oor alles wat jy gedoen het, oor jou sondes wat hulle goed laat voel het in vergelyking met jou. Ja, jou susters, Sodom en Samaria, en hulle mense sal herstel word. Dan sal jy en jou mense ook herstel word. Vroeër, toe jy trots was, het jy op Sodom neergesien. Maar nou is jou afskuwelike gedrag voor die hele wêreld ten toon gestel. Jy is nou die een op wie neergesien word: deur die mense van Edom en die omgewing, en die mense van Filistea. Van alle kante af sien mense op jou neer. Dit is die straf op jou afskuwelike sondes, sê die HERE. “Nou sê die oppermagtige HERE: Ek gee jou wat jy verdien, want jy het jou plegtige eed geminag en jou verbond gebreek. Nogtans sal Ek onthou van die verbond wat Ek met jou gesluit het toe jy nog jonk was. Ek sal ’n ewige verbond met jou sluit. Dan sal jy skaam wees as jy die dinge onthou wat jy gedoen het. Ek maak jou jonger en ouer susters dan jóú dogters, selfs al is hulle nie deel van ons verbond nie. Ek sal weer my verbond met jou sluit, en jy sal erken dat Ek die HERE is. Jy sal jou sondes onthou. En dan sal jy stilbly omdat jy skaam kry, dié dag as Ek jou vergewe vir alles wat jy gedoen het, sê die oppermagtige HERE.”
Lees ESEGIËL 16
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: ESEGIËL 16:42-63
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's