Eksodus 27:7-19

Eksodus 27:7-19 DB

Wanneer die altaar gedra moet word, moet die drahoute deur daardie ringe gesteek word sodat vier mense, twee aan elke kant, dit kan dra. Soos Ek vir jou op die berg gewys het, is die altaar ’n houtkis wat binne hol is.” “Jy moet vir die tent ook ’n binnehof maak. Dit is ’n vierkantige lapa met fyn linnemure. Aan die suidekant moet dit 44 meter lank wees. Die materiaal moet aan hakies en horisontale gordynstokke van silwer hang. Die gordynstokke is vas bo-op regop pale. Daar is twintig pale en elkeen staan op ’n kopervoetstuk. Aan die teenoorstaande noordekant is die muur presies net so lank. Daar is ook net soveel regop pale op kopervoetstukke as aan die eerste kant. Die linnemuur hang ook aan silwerhakies. Aan die westekant van die binnehof moet die afskorting 23 meter lank wees. Daar moet tien regop pale op koper voetstukke wees. “Aan die oostekant, die kant waar die son opkom, moet die binnehof ook 23  meter lank wees. Daar moet ’n opening daar wees, met tien meter muur aan elke kant van die ingang. Die linnemure aan al twee kante van die opening hang ook elkeen aan drie regop pale wat op voetstukke staan. Vir die ingang wat na die binnekant van die lapa loop, moet jy ’n gordyn maak uit geweefde linne met blou, pers en bloedrooi weefwerk en borduursel. Dit hang aan vier regop pale wat op voetstukke staan. Al die regop pale wat reg rondom die binnehof gebruik word, moet met silwergordynstokke aan mekaar verbind word. Die stokke moet silwerhakies hê waaraan die linnemure opgehang kan word. Elke paal staan op sy eie kopervoetstuk. Die binnehof is dus 44 by 23 meter groot en die geweefde materiaal aan die kante is twee en ’n half meter hoog en hang aan pale op kopervoetstukke. “Soos al die gereedskap wat binne-in die tent gebruik word, moet die tentpenne waarmee die mure van die afskorting geanker word, ook van koper gemaak wees.”

Video vir Eksodus 27:7-19