EKSODUS 27:7-19

EKSODUS 27:7-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die draaghoute moet in die ringe gesteek word, sodat die draaghoute aan altwee kante van die altaar is as hulle dit dra. Jy moet dit hol, van planke, maak. Soos dit jou op die berg getoon is, so moet hulle dit maak. JY moet ook die voorhof van die tabernakel maak. Aan die suidekant, na die suide toe, moet daar vir die voorhof behangsels wees van fyn dubbeldraad-linne; honderd el moet die lengte vir die een kant wees; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees. So moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd el lank; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke. Die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees. En in die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar behangsels van vyftig el wees; daarby tien pilare en hulle tien voetstukke. En die breedte van die voorhof aan die oostekant, teen sonop, vyftig el — sodat daar vyftien el behangsels vir die een kant is, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke; en vir die ander kant vyftien el behangsels, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke; en vir die poort van die voorhof 'n bedekking van twintig el, van pers, purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk; daarby vier pilare en hulle vier voetstukke. Al die pilare van die voorhof moet rondom van silwerringe voorsien wees; hulle kramme moet van silwer wees en hulle voetstukke van koper. Die lengte van die voorhof moet honderd el wees en die breedte vyftig by vyftig en die hoogte vyf el, van fyn dubbeldraad-linne, daarby voetstukke van koper. Aangaande al die gereedskap van die tabernakel, by sy hele bewerking, en al sy penne en al die penne van die voorhof, hulle moet van koper wees.

EKSODUS 27:7-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word. Die draaghoute moet weerskante van die altaar wees om dit te kan dra. Jy moet die altaar van plank maak, in die vorm van 'n kas. Maak dit presies soos dit vir jou op die berg gewys is.” “Jy moet ook 'n voorhof vir die tabernakel maak. Aan die suidekant, die regterkant, moet daar gordyne van goed geweefde linne wees, vyftig meter breed. Om die gordyne te hang, moet daar twintig style met twintig bronsvoetstukke wees en ook kramme aan die style, en silwergordynstokke. “Ook aan die noordekant moet die gordyne vyftig meter breed wees. Daar moet twintig style en twintig bronsvoetstukke wees, kramme aan die style, en silwergordynstokke. “In die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet die gordyne vyf en twintig meter breed wees met tien style en tien voetstukke. “Die breedte van die voorhof aan die voorkant, die oostekant, moet ook vyf en twintig meter wees. Die gordyne aan die een kant hiervan moet sewe en 'n half meter breed wees, dit moet drie style en drie voetstukke hê, en aan die ander kant moet die gordyne ook sewe en 'n half meter breed wees met drie style en drie voetstukke. In die ingang van die voorhof moet daar 'n afskorting van tien meter wees. Dit moet van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne wees, netjiese borduurwerk. Om dit te hang, moet daar ook nog vier style en vier voetstukke wees. Vir die style van die voorhof moet daar heeltemal rondom silwergordynstokke wees, en ook silwerkramme en bronsvoetstukke. Die lengte van die voorhof moet vyftig meter wees, sy breedte vyf en twintig en sy hoogte twee en 'n half. Dit moet van goed geweefde linne wees en sy voetstukke van brons. “Al die toebehore van die tabernakel en al sy tentpenne, sowel as dié vir die voorhof, moet van brons wees.”

EKSODUS 27:7-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die draaghoute moet deur die ringe gesteek word, sodat daar draaghoute aan al twee kante van die altaar is wanneer dit gedra word. Jy moet die altaar van planke maak, hol aan die binnekant. Soos Hy jou op die berg gewys het, presies so moet hulle dit maak.” “Jy moet 'n binneplein vir die •tabernakel maak. Aan die suidekant moet die behangsels vir die binneplein van fyn dubbeldraadlinne wees, 'n honderd el lank vir die een kant. Dit moet twintig staanders met hulle twintig bronsvoetstukke hê, maar die hakies van die staanders en hulle hegplekke moet van silwer wees. Net so moet daar aan die noordekant behangsels oor 'n lengte van honderd el wees, met twintig staanders en bronsvoetstukke, en die hakies van die staanders en hulle hegplekke moet van silwer wees. Oor die breedte van die binneplein aan die westekant moet daar vyftig el behangsels wees, met hulle tien staanders en tien voetstukke. Die breedte van die binneplein aan die voorkant, die oostekant, moet vyftig el wees. Die behangsels langs die ingang moet vyftien el wees, met drie staanders en drie voetstukke. Aan die ander kant moet die behangsels vyftien el wees, met drie staanders en drie voetstukke. By die ingang van die binneplein moet daar 'n gordyn van twintig el wees, gemaak van pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn dubbeldraadlinne – met die kundigheid van 'n borduurder – met vier staanders en vier voetstukke. “Al die staanders rondom die binneplein moet van silwerhegplekke voorsien word; hulle hakies moet van silwer en hulle voetstukke van brons wees. Die lengte van die binneplein moet honderd el wees, die breedte regdeur vyftig el, en die hoogte vyf el, die behangsels gemaak van fyn dubbeldraadlinne, en met bronsvoetstukke. “Wat al die toebehore van die tabernakel betref: Alles vir die dienswerk in die tabernakel, asook al die tentpenne van die tabernakel en die tentpenne van die binneplein, moet van brons wees.”

EKSODUS 27:7-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die draaghoute moet in die ringe gesit word, en die draaghoute moet aan die twee kante van die altaar wees om dit te dra. Hol met style moet jy dit maak; soos dit jou op die berg gewys is, so moet hulle dit maak. En jy moet die voorhof van die tabernakel maak: aan die suidekant, na die suide, moet daar behangsels vir die voorhof wees van fyn dubbeldraad-linne van honderd el lank aan die een kant. En sy twintig pilare en hulle twintig voetstukke moet van koper wees; die kramme van die pilare en hulle ringe moet van silwer wees. En net so moet daar aan die noordekant in die lengte behangsels wees van honderd el lank, en sy twintig pilare en hulle twintig kopervoetstukke; die kramme van die pilare en hulle ringe van silwer. En vir die breedte van die voorhof aan die westekant moet behangsels van vyftig el wees: hulle pilare tien en hulle voetstukke tien. En die breedte van die voorhof aan die oostekant na die ooste moet vyftig el wees. Die behangsels aan die een kant van die poort moet vyftien el wees: hulle pilare drie en hulle voetstukke drie. En aan die ander kant moet vyftien el behangsels wees: hulle pilare drie en hulle voetstukke drie. En vir die poort van die voorhof moet 'n behangsel wees van twintig el, van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, met naaldwerk bewerk; en hulle pilare moet vier wees en hulle voetstukke vier. Al die pilare rondom die voorhof moet met silwer gevuld wees; hulle kramme moet van silwer wees en hulle voetstukke van koper. Die lengte van die voorhof moet honderd el wees en die breedte vyftig oral, en die hoogte vyf el van fyn dubbeldraad-linne en hulle voetstukke van koper. Al die voorwerpe van die tabernakel in die hele diens daarvan, en al sy penne en al die penne van die voorhof, moet van koper wees.

EKSODUS 27:7-19 Die Boodskap (DB)

Wanneer die altaar gedra moet word, moet die drahoute deur daardie ringe gesteek word sodat vier mense, twee aan elke kant, dit kan dra. Soos Ek vir jou op die berg gewys het, is die altaar ’n houtkis wat binne hol is.” “Jy moet vir die tent ook ’n binnehof maak. Dit is ’n vierkantige lapa met fyn linnemure. Aan die suidekant moet dit 44 meter lank wees. Die materiaal moet aan hakies en horisontale gordynstokke van silwer hang. Die gordynstokke is vas bo-op regop pale. Daar is twintig pale en elkeen staan op ’n kopervoetstuk. Aan die teenoorstaande noordekant is die muur presies net so lank. Daar is ook net soveel regop pale op kopervoetstukke as aan die eerste kant. Die linnemuur hang ook aan silwerhakies. Aan die westekant van die binnehof moet die afskorting 23 meter lank wees. Daar moet tien regop pale op koper voetstukke wees. “Aan die oostekant, die kant waar die son opkom, moet die binnehof ook 23  meter lank wees. Daar moet ’n opening daar wees, met tien meter muur aan elke kant van die ingang. Die linnemure aan al twee kante van die opening hang ook elkeen aan drie regop pale wat op voetstukke staan. Vir die ingang wat na die binnekant van die lapa loop, moet jy ’n gordyn maak uit geweefde linne met blou, pers en bloedrooi weefwerk en borduursel. Dit hang aan vier regop pale wat op voetstukke staan. Al die regop pale wat reg rondom die binnehof gebruik word, moet met silwergordynstokke aan mekaar verbind word. Die stokke moet silwerhakies hê waaraan die linnemure opgehang kan word. Elke paal staan op sy eie kopervoetstuk. Die binnehof is dus 44 by 23 meter groot en die geweefde materiaal aan die kante is twee en ’n half meter hoog en hang aan pale op kopervoetstukke. “Soos al die gereedskap wat binne-in die tent gebruik word, moet die tentpenne waarmee die mure van die afskorting geanker word, ook van koper gemaak wees.”

EKSODUS 27:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sit die pale deur die ringe aan die kante om dit daaraan te dra. Die altaar is van plank en hol binne. Jy moet dit presies net so maak soos jy dit op die berg gesien het.” “Maak ’n binnehof vir die tabernakel. Skort dit af met ’n gordyn van fyn linne. Aan die suidelike kant moet dit 44 meter lank wees. Die gordyn word regop gehou deur twintig regop koperpale wat op twintig voetstukke van koper staan. Die gordyn hang aan hakies van silwer wat aan silwergordynpale bo-op die regop pale vas is. Aan die noordekant van die binnehof is dit presies dieselfde. Daar is die gordyn ook 44 meter lank. Dit hang aan silwerhakies en pale wat op kopervoetstukke rus. Die afskorting aan die westekant van die voorhof is 23 meter lank. Daar is tien koperpale op hulle voetstukke. Aan die oostekant is die opening ook 23 meter lank. Die ingang na die binnehof kom aan die oostekant. Aan die regterkant van die opening is daar ’n linnegordyn van sewe en ’n half meter lank wat aan drie regop pale op hulle voetstukke hang. Die gordyn aan die linkerkant is ook van sewe en ’n half meter linne aan drie pale op hulle voetstukke. “Vir die ingang na die binnehof moet jy ’n afskorting van tien meter maak. Dit moet van linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is. Dit moet ook geborduur wees. Dit hang aan vier regop pale op hulle voetstukke. Al die regop pale van die binnehof word aan mekaar verbind met silwergordynpale waaraan daar silwerhakies is. Elke paal staan op sy voetstuk van koper. Die binnehof is dus 44 meter lank en 23 meter breed. Dit word afgeskort met ’n linnegordyn wat twee en ’n half meter hoog is. Die gordyn hang aan regop pale wat van koper gemaak is. “Alles wat binne-in die tabernakel gebruik word, ook die tentpenne waarmee die afskorting buite geanker word, moet van koper gemaak word.