Daniël 5:1-17

Daniël 5:1-17 DB

’n Klompie jare later het koning Belsasar een aand ’n groot feesete gehou vir ’n groot groep van sy hooggeplaastes, edelmanne en edelvroue. Tydens hierdie ete het hy heerlik saam met hulle wyn gedrink. Later, toe hy al heeltemal te veel gedrink het, het hy beveel dat hulle van die goue en silwerbekers wat sy pa, Nebukadnesar, uit die tempel in Jerusalem gevat het, moet gaan haal sodat hy en sy hooggeplaaste gaste en sy vroue en byvroue daaruit kon drink. Hulle het die goue en silwerbekers gaan haal en die koning en al sy gaste het daaruit gedrink. Hulle het ook heildronke gedrink op al hulle afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip. Skielik het daar ’n mensehand verskyn wat op die gepleisterde muur van die paleis begin skryf het, op die plek waar die lamplig die helderste geskyn het. Die koning self het ook die hand sien skryf. Hy het doodsbleek geword van skrik. Sy knieë het letterlik begin bewe van vrees. Hy was so bang dat hy op sy mense geskree het om dadelik die towenaars, fortuinvertellers en sterrevoorspellers te gaan roep. Toe hulle inkom, sê hy vir hulle: “Vir die een wat kan lees wat hier geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, wag daar ’n beloning. Ek sal vir hom ’n koninklike kleed gee om aan te trek en ’n goue ketting om om sy nek te dra. Hy sal saam met my regeer as die persoon met die derde meeste gesag in die koninkryk.” Al sy raadgewers het hulle bes probeer, maar nie een van hulle kon die skrif lees of die boodskap daarvan uitlê nie. Koning Belsasar was angsbevange. Sy hooggeplaaste gaste was so uit die veld geslaan dat hulle nie geweet het wat om te doen nie. Die koning se ma het die lawaai gehoor wat die koning en sy gaste gemaak het. Sy stap toe die eetsaal binne en sê: “Lank lewe die koning! U Majesteit, moet tog nie so ontsteld en bang wees oor hierdie saak nie. Daar is ’n man hier in die ryk in wie die Gees van die heilige God is. Toe jou pa nog regeer het, het almal geweet dat hierdie man sy gesonde verstand kon gebruik en dat hy baie slim was. Dit was amper of hy self ’n god was. Jou pa, koning Nebukadnesar, het hom as hoof oor al die towenaars, fortuinvertellers, sterrevoorspellers en besweerders aangestel. Hy het ’n flink brein met ’n buitengewone vermoë om drome te kan uitlê, probleme op te los en moeilike sake uit te sorteer. Laat roep vir Daniël, vir wie jou pa die naam Beltsasar gegee het. Hy sal vir jou kan sê wat die skrif teen die muur beteken.” Daniël is dadelik laat haal. Die koning vra toe vir hom: “Is jy die Daniël wat deur my vader, Nebukadnesar, saam met die ander ballinge uit Juda hiernatoe gebring is? Ek het gehoor hulle sê dat die Gees van die heilige God in jou is en dat jy baie slim is en weet hoe om probleme op die regte manier op te los. Ek het my raadgewers en voorspellers laat kom om vir my te sê wat daar op die muur geskryf staan, en watter betekenis dit vir my het, maar hulle kon dit nie doen nie. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir jou ’n koninklike kleed gee om te dra en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal saam met my oor my ryk regeer as die persoon wat derde in bevel is.” Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken.